ROMEINE 4:17-18
ROMEINE 4:17-18 Bybel vir almal (ABA)
Want God het vir Abraham gesê: Ek het jou die voorvader van baie volke gemaak. Abraham het naby God gelewe en hy het in God geglo, God wat dooie mense weer laat lewe en wat dinge maak, dinge wat voorheen nie daar was nie. Niemand het gedink Abraham sal die voorvader van baie nasies kan word nie, maar Abraham het geglo dit sal gebeur, want God het vir hom gesê
ROMEINE 4:17-18 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
soos geskrywe is: Ek het jou 'n vader van baie nasies gemaak — voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees.
ROMEINE 4:17-18 Afrikaans 1983 (AFR83)
soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord. Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.”
ROMEINE 4:17-18 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
soos daar geskryf staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak” – dit was hy in die oë van die God in wie hy geglo het, wat die dooies lewend maak, en dit wat nog nie bestaan nie, tot bestaan roep. Hy het teen alle verwagting in bly hoop, en geglo dat hy die vader van baie nasies sou word, soos gesê is: “Só sal jou nageslag wees.”
ROMEINE 4:17-18 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
(Soos geskrywe is: Ek het jou 'n vader van baie nasies gemaak) voor Hom in wie hy geglo het, naamlik God, wat die dooies lewend maak en die dinge wat nie is nie, roep asof hulle bestaan. Wat teen hoop geglo het in hoop, dat hy die vader van baie nasies kon word, volgens wat gespreek is: So sal jou nageslag wees.
ROMEINE 4:17-18 Die Boodskap (DB)
In die Bybel sê God vir Abraham: “Ek maak jou die pa van baie nasies.” Abraham het hierdie belofte met sy hele lewe geglo. Hy het geweet dat God die onmoontlike kan doen: Hy kan dooies lewendig maak en met ’n enkele woord iets uit niks tot stand bring. Selfs toe alles hopeloos gelyk het, het Abraham geglo dat hy die pa van baie volke sou word. Hy het altyd vasgehou aan die woorde wat God vroeër vir hom gesê het: “Jy sal ’n groot nageslag hê.”
ROMEINE 4:17-18 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit is wat die Skrif bedoel het met die woorde: “Ek het jou die stamvader van baie volke gemaak.” By die God in wie Abraham geglo het, was dié belofte reeds as’t ware ’n werklikheid – Hy is immers ’n God wat dooies lewendig maak en deur sy roepstem dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is. Teen alle hoop in het Abraham met vaste hoop geglo dat hy nog die stamvader van baie volke sou word op grond van God se belofte: “Jou nageslag sal so baie wees soos die sterre aan die hemel.”