ROMEINE 4:16-21
ROMEINE 4:16-21 Bybel vir almal (ABA)
Daarom, God belowe iets en Hy gee dit vir mense omdat hulle glo, want Hy wil goed wees vir hulle. Hy wil ook hê hulle moet seker wees dat hulle sal kry wat Hy vir hulle belowe het. Hy belowe dit nie net vir die mense wat doen wat die wette sê nie, maar ook vir mense wat glo soos Abraham geglo het, Abraham wat ons almal se voorvader is. Want God het vir Abraham gesê: Ek het jou die voorvader van baie volke gemaak. Abraham het naby God gelewe en hy het in God geglo, God wat dooie mense weer laat lewe en wat dinge maak, dinge wat voorheen nie daar was nie. Niemand het gedink Abraham sal die voorvader van baie nasies kan word nie, maar Abraham het geglo dit sal gebeur, want God het vir hom gesê: Jou nageslag sal groot wees. Abraham was omtrent 100 jaar oud en hy het geweet hy is naby die dood. Hy het ook geweet Sara kan nie kinders kry nie. Maar sy geloof het sterk gebly. Hy het nie opgehou glo nie. Hy het aangehou glo dat God vir hom sal gee wat Hy belowe het. Sy geloof het sterker geword. Abraham het vir God geprys en hy het baie seker geweet dat God kan doen wat Hy belowe het.
ROMEINE 4:16-21 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal — soos geskrywe is: Ek het jou 'n vader van baie nasies gemaak — voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees. En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie. En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het.
ROMEINE 4:16-21 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord. Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.” Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het.
ROMEINE 4:16-21 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarom het die belofte op geloof berus, sodat dit volgens genade kon vasstaan vir Abraham se hele nageslag, nie net vir hulle wat op grond van die wet leef nie, maar ook vir hulle wat op grond van Abraham se geloof leef. Hy is ons almal se vader, soos daar geskryf staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak” – dit was hy in die oë van die God in wie hy geglo het, wat die dooies lewend maak, en dit wat nog nie bestaan nie, tot bestaan roep. Hy het teen alle verwagting in bly hoop, en geglo dat hy die vader van baie nasies sou word, soos gesê is: “Só sal jou nageslag wees.” Sy geloof het nie verswak nie, al het hy besef dat sy eie liggaam reeds so te sê dood was – hy was reeds ongeveer 100 jaar oud – en dat Sara se moederskoot ook reeds dood was. Met die belofte van God in gedagte, het hy nie in ongeloof verval en begin twyfel nie; trouens, hy het sterker geword in die geloof, en het die eer aan God gegee. Hy was vas daarvan oortuig dat God dit wat Hy beloof het, ook kan doen.
ROMEINE 4:16-21 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom is dit uit die geloof, sodat dit uit genade kan wees; tot die einde kan die belofte seker wees vir die hele saad; nie alleen wat uit die wet is nie, maar ook wat uit die geloof van Abraham is; wie is die vader van ons almal, (Soos geskrywe is: Ek het jou 'n vader van baie nasies gemaak) voor Hom in wie hy geglo het, naamlik God, wat die dooies lewend maak en die dinge wat nie is nie, roep asof hulle bestaan. Wat teen hoop geglo het in hoop, dat hy die vader van baie nasies kon word, volgens wat gespreek is: So sal jou nageslag wees. En omdat hy nie swak was in die geloof nie, het hy nie geag dat sy eie liggaam nou dood was toe hy omtrent honderd jaar oud was nie, en ook nie die dood van Sara se skoot nie. Hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God gestruikel nie; maar was sterk in die geloof en het aan God eer gegee; En ten volle oortuig dat hy ook in staat was om te doen wat hy beloof het.
ROMEINE 4:16-21 Die Boodskap (DB)
Daarom is geloof so broodnodig. Geloof bied ’n nuwe pad na God toe. ’n Mens kan nooit jou eie redding verdien nie. Jy kan dit net as ’n geskenk uit God se hand ontvang. Dit is die belofte wat God aan Abraham gemaak het. Hierdie belofte geld vir alle mense op aarde. Abraham is daarom ons almal se pa in die geloof. In die Bybel sê God vir Abraham: “Ek maak jou die pa van baie nasies.” Abraham het hierdie belofte met sy hele lewe geglo. Hy het geweet dat God die onmoontlike kan doen: Hy kan dooies lewendig maak en met ’n enkele woord iets uit niks tot stand bring. Selfs toe alles hopeloos gelyk het, het Abraham geglo dat hy die pa van baie volke sou word. Hy het altyd vasgehou aan die woorde wat God vroeër vir hom gesê het: “Jy sal ’n groot nageslag hê.” Later, toe Abraham al by die 100 jaar oud was, het hy hom glad nie blind gestaar op die feit dat hy nie meer in staat was om kinders te verwek nie. En al was sy vrou Sara al te oud om ’n kind te hê, het hy nie moed opgegee nie. Abraham se geloof was die kragbron van sy lewe. Hy het God se hand styf vasgehou en aangehou om Hom te eer. Abraham het geweet dat God die een of ander tyd sou doen wat Hy belowe het.
ROMEINE 4:16-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die geloof is dus die sleutel! God se belofte word as ’n genadegeskenk gegee en ons as sy nageslag sal dit baie beslis ontvang – nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar almal wat deel in Abraham se geloof. Want Abraham is die vader van ons almal wat glo. Dit is wat die Skrif bedoel het met die woorde: “Ek het jou die stamvader van baie volke gemaak.” By die God in wie Abraham geglo het, was dié belofte reeds as’t ware ’n werklikheid – Hy is immers ’n God wat dooies lewendig maak en deur sy roepstem dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is. Teen alle hoop in het Abraham met vaste hoop geglo dat hy nog die stamvader van baie volke sou word op grond van God se belofte: “Jou nageslag sal so baie wees soos die sterre aan die hemel.” En Abraham se geloof het nie verswak nie, al het hy baie goed besef dat sy eie liggaamlike vermoëns alreeds gedaan was – hy was al omtrent 100 jaar oud – en dat sy vrou Sara nie meer kinders kon hê nie. Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword en so het hy die eer aan God gegee. Hy was absoluut daarvan oortuig dat God enigiets kon doen wat Hy beloof het.