ROMEINE 4:13-25

ROMEINE 4:13-25 Bybel vir almal (ABA)

God het vir Abraham en sy nageslag belowe dat die wêreld aan hulle sal behoort. God het dit nie belowe omdat Abraham gedóén het wat God se wette sê nie, God het dit belowe omdat Abraham gegló het en omdat God hom toe vrygespreek het. As mense moet doen wat die wette sê sodat hulle kan kry wat God vir hulle belowe het, dan help dit nie dat hulle glo nie. Dit help ook nie dat God vir hulle iets belowe het nie. Wanneer mense ongehoorsaam is aan God se wette en hulle doen sonde, dan sal God hulle straf, maar as daar nie wette is nie, dan kan mense nie ongehoorsaam wees aan die wette en sonde doen nie. Daarom, God belowe iets en Hy gee dit vir mense omdat hulle glo, want Hy wil goed wees vir hulle. Hy wil ook hê hulle moet seker wees dat hulle sal kry wat Hy vir hulle belowe het. Hy belowe dit nie net vir die mense wat doen wat die wette sê nie, maar ook vir mense wat glo soos Abraham geglo het, Abraham wat ons almal se voorvader is. Want God het vir Abraham gesê: Ek het jou die voorvader van baie volke gemaak. Abraham het naby God gelewe en hy het in God geglo, God wat dooie mense weer laat lewe en wat dinge maak, dinge wat voorheen nie daar was nie. Niemand het gedink Abraham sal die voorvader van baie nasies kan word nie, maar Abraham het geglo dit sal gebeur, want God het vir hom gesê: Jou nageslag sal groot wees. Abraham was omtrent 100 jaar oud en hy het geweet hy is naby die dood. Hy het ook geweet Sara kan nie kinders kry nie. Maar sy geloof het sterk gebly. Hy het nie opgehou glo nie. Hy het aangehou glo dat God vir hom sal gee wat Hy belowe het. Sy geloof het sterker geword. Abraham het vir God geprys en hy het baie seker geweet dat God kan doen wat Hy belowe het. Daarom het God vir Abraham vrygespreek. Daar is geskryf dat God hom vrygespreek het, maar dit is nie net vir Abraham geskryf nie, dit is ook vir ons geskryf. God sal vir ons ook vryspreek, vir ons wat glo in God wat vir Jesus, ons Here, weer laat lewe het. God het vir Jesus laat sterf omdat ons sonde gedoen het, en God het vir Jesus weer laat lewe omdat God ons wou vryspreek.

ROMEINE 4:13-25 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Want die belofte dat hy erfgenaam van die wêreld sou wees, het Abraham of sy nageslag nie deur die wet verkry nie, maar deur die geregtigheid van die geloof. Want as hulle wat uit die wet is, erfgename is, dan het die geloof waardeloos geword en die belofte tot niet geraak. Want die wet werk toorn; maar waar geen wet is nie, daar is ook geen oortreding nie. Daarom is dit uit die geloof, sodat dit volgens genade kan wees en die belofte kan vasstaan vir die hele nageslag; nie alleen vir die wat uit die wet is nie, maar ook vir die wat uit die geloof van Abraham is, die vader van ons almal — soos geskrywe is: Ek het jou 'n vader van baie nasies gemaak — voor die aangesig van God in wie hy geglo het, wat die dode lewend maak en die dinge wat nie bestaan nie, roep asof hulle bestaan. Hy het teen hoop op hoop geglo dat hy vader sou word van baie volke volgens wat gesê was: So sal jou nageslag wees. En sonder om te verswak in die geloof het hy, al was hy omtrent honderd jaar oud, nie gelet op sy eie liggaam wat alreeds verstorwe was, en op die verstorwe toestand van die moederskoot van Sara nie. En hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God getwyfel nie, maar hy is versterk deur die geloof en het aan God die eer gegee en was ten volle oortuig dat Hy ook die mag het om te doen wat Hy beloof het. Daarom is dit hom ook tot geregtigheid gereken. Maar dit is nie alleen om sy ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie, maar ook om ons ontwil aan wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het, wat oorgelewer is ter wille van ons misdade en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.

ROMEINE 4:13-25 Afrikaans 1983 (AFR83)

Dit is trouens nie omdat Abraham die wet van Moses onderhou het dat aan hom en sy nageslag die belofte gegee is dat hy die wêreld as besitting sal ontvang nie, maar omdat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het. As mense deur wetsonderhouding deelgenote van die belofte sou kon word, sou die geloof sy betekenis verloor het en die belofte sy krag. Die wet bring juis die straf van God, want waar daar nie 'n wet is nie, is daar ook geen oortreding van die wet nie. Daarom het die belofte deur die geloof, en dus uit genade, tot Abraham gekom sodat dit van krag sou bly vir sy hele nageslag. En sy nageslag is nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar ook dié wat glo, soos Abraham geglo het. Hy is immers die vader van ons almal, soos daar geskrywe staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak.” Dít is hy in die oë van God in wie hy geglo het, God wat dooies lewend maak en dinge wat nie bestaan nie, tot stand bring deur sy woord. Toe daar geen hoop meer was nie, het Abraham nog gehoop en geglo, en so die vader van baie nasies geword volgens die belofte: “So sal jou nageslag wees.” Al was hy sowat honderd jaar en al het hy dus goed besef dat sy liggaam reeds gedaan was en dat Sara te oud was om kinders te hê, het sy geloof nie verswak nie. Hy het nie in ongeloof begin twyfel aan die belofte van God nie, maar hy is in sy geloof versterk en het aan God die eer gegee. Hy was ook ten volle daarvan oortuig dat God mag het om te doen wat Hy beloof het. Deurdat Abraham geglo het, het God hom dus vrygespreek. Dat hy vrygespreek is deurdat hy geglo het, is nie net ter wille van hom opgeteken nie, maar ook ter wille van ons wat vrygespreek sal word, óns wat in God glo wat vir Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. Hy is vanweë ons oortredings oorgelewer en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.

ROMEINE 4:13-25 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die belofte dat hy die wêreld as erfdeel sou ontvang, het nie deur die wet na Abraham of sy nageslag gekom nie, maar deur die •geregtigheid van die geloof. Immers, as mense op grond van die wet erfgename is, het die geloof betekenisloos geword en die belofte sy krag verloor. Dit is tog die wet wat toorn meebring; maar waar daar geen wet is nie, is daar ook geen oortreding nie. Daarom het die belofte op geloof berus, sodat dit volgens genade kon vasstaan vir Abraham se hele nageslag, nie net vir hulle wat op grond van die wet leef nie, maar ook vir hulle wat op grond van Abraham se geloof leef. Hy is ons almal se vader, soos daar geskryf staan: “Ek het jou die vader van baie nasies gemaak” – dit was hy in die oë van die God in wie hy geglo het, wat die dooies lewend maak, en dit wat nog nie bestaan nie, tot bestaan roep. Hy het teen alle verwagting in bly hoop, en geglo dat hy die vader van baie nasies sou word, soos gesê is: “Só sal jou nageslag wees.” Sy geloof het nie verswak nie, al het hy besef dat sy eie liggaam reeds so te sê dood was – hy was reeds ongeveer 100 jaar oud – en dat Sara se moederskoot ook reeds dood was. Met die belofte van God in gedagte, het hy nie in ongeloof verval en begin twyfel nie; trouens, hy het sterker geword in die geloof, en het die eer aan God gegee. Hy was vas daarvan oortuig dat God dit wat Hy beloof het, ook kan doen. Daarom “is dit vir hom as regverdiging gereken”. Dat dit vir hom as regverdiging gereken is, is nie net ter wille van hom opgeskryf nie, maar ook ter wille van ons vir wie dit toegereken sal word, ons wat glo in Hom wat Jesus, ons Here, uit die dood opgewek het. Hy is ter wille van ons oortredings oorgelewer, en ter wille van ons regverdigmaking opgewek.

ROMEINE 4:13-25 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Want die belofte dat hy die erfgenaam van die wêreld sou wees, het nie aan Abraham of sy nageslag deur die wet gekom nie, maar deur die geregtigheid van die geloof. Want as die wat uit die wet is, erfgename is, word die geloof tot niet gemaak en die belofte tot niet; Omdat die wet toorn bewerk, want waar geen wet is nie, is daar geen oortreding nie. Daarom is dit uit die geloof, sodat dit uit genade kan wees; tot die einde kan die belofte seker wees vir die hele saad; nie alleen wat uit die wet is nie, maar ook wat uit die geloof van Abraham is; wie is die vader van ons almal, (Soos geskrywe is: Ek het jou 'n vader van baie nasies gemaak) voor Hom in wie hy geglo het, naamlik God, wat die dooies lewend maak en die dinge wat nie is nie, roep asof hulle bestaan. Wat teen hoop geglo het in hoop, dat hy die vader van baie nasies kon word, volgens wat gespreek is: So sal jou nageslag wees. En omdat hy nie swak was in die geloof nie, het hy nie geag dat sy eie liggaam nou dood was toe hy omtrent honderd jaar oud was nie, en ook nie die dood van Sara se skoot nie. Hy het nie deur ongeloof aan die belofte van God gestruikel nie; maar was sterk in die geloof en het aan God eer gegee; En ten volle oortuig dat hy ook in staat was om te doen wat hy beloof het. En daarom is dit hom tot geregtigheid gereken. Nou is daar nie alleen om hom ontwil geskrywe dat dit hom toegereken is nie; Maar ook vir ons, aan wie dit toegereken sal word, as ons glo in Hom wat Jesus, onse Here, uit die dode opgewek het; wat oorgelewer is vir ons oortredings en opgewek is ter wille van ons regverdigmaking.

ROMEINE 4:13-25 Die Boodskap (DB)

Daardie beroemde belofte wat God aan Abraham gemaak het dat sy nageslag die hele wêreld sal bewoon, het hy nie ontvang omdat hy al God se voorskrifte stiptelik nagekom het nie, maar omdat hy geglo het. Dit is hoekom hy in die regte verhouding met God was. Dit help mos nie om te glo as mense in elk geval deur hulle gehoorsaamheid aan die wet gered kan word nie. Dan is God se belofte dat Hy elkeen vryspreek wat in Hom glo, net lippetaal. Die wet loop hand aan hand met straf. As daar nie ’n wet was nie, sou ons nie geweet het watter dinge teen God se wil is nie. Daarom is geloof so broodnodig. Geloof bied ’n nuwe pad na God toe. ’n Mens kan nooit jou eie redding verdien nie. Jy kan dit net as ’n geskenk uit God se hand ontvang. Dit is die belofte wat God aan Abraham gemaak het. Hierdie belofte geld vir alle mense op aarde. Abraham is daarom ons almal se pa in die geloof. In die Bybel sê God vir Abraham: “Ek maak jou die pa van baie nasies.” Abraham het hierdie belofte met sy hele lewe geglo. Hy het geweet dat God die onmoontlike kan doen: Hy kan dooies lewendig maak en met ’n enkele woord iets uit niks tot stand bring. Selfs toe alles hopeloos gelyk het, het Abraham geglo dat hy die pa van baie volke sou word. Hy het altyd vasgehou aan die woorde wat God vroeër vir hom gesê het: “Jy sal ’n groot nageslag hê.” Later, toe Abraham al by die 100 jaar oud was, het hy hom glad nie blind gestaar op die feit dat hy nie meer in staat was om kinders te verwek nie. En al was sy vrou Sara al te oud om ’n kind te hê, het hy nie moed opgegee nie. Abraham se geloof was die kragbron van sy lewe. Hy het God se hand styf vasgehou en aangehou om Hom te eer. Abraham het geweet dat God die een of ander tyd sou doen wat Hy belowe het. Daarom dat sy geloof hom in die regte verhouding met God laat leef het. Gelukkig is God se vryspraak nie net vir Abraham bedoel nie. Nee, dis ook vir ons bedoel; vir ons almal wat glo in God wat ons Here Jesus uit die dood laat opstaan het. Jesus is in ons plek vir al ons sondes dood, maar God het Hom weer lewendig gemaak. Daarom is ons elkeen wat in Hom glo se saak met God in orde.

ROMEINE 4:13-25 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Dit is dus duidelik dat God se belofte om die hele wêreld aan Abraham en sy nasate te gee nie berus het op wetsgehoorsaamheid nie, maar op die nuwe verhouding wat tot stand kom deur die vryspraak deurdat iemand glo. As jy dus beweer dat mense die wêreld as erfdeel sou kon verkry op grond van wetsgehoorsaamheid, het die geloof betekenisloos geword en het die belofte sy krag verloor. Wetsgehoorsaamheid bring juis straf mee – die enigste manier om wetsverbreking te voorkom is om geen wet te hê nie! Die geloof is dus die sleutel! God se belofte word as ’n genadegeskenk gegee en ons as sy nageslag sal dit baie beslis ontvang – nie net dié wat die wet ontvang het nie, maar almal wat deel in Abraham se geloof. Want Abraham is die vader van ons almal wat glo. Dit is wat die Skrif bedoel het met die woorde: “Ek het jou die stamvader van baie volke gemaak.” By die God in wie Abraham geglo het, was dié belofte reeds as’t ware ’n werklikheid – Hy is immers ’n God wat dooies lewendig maak en deur sy roepstem dinge wat nog nie bestaan nie, aanspreek asof hulle reeds werklikheid is. Teen alle hoop in het Abraham met vaste hoop geglo dat hy nog die stamvader van baie volke sou word op grond van God se belofte: “Jou nageslag sal so baie wees soos die sterre aan die hemel.” En Abraham se geloof het nie verswak nie, al het hy baie goed besef dat sy eie liggaamlike vermoëns alreeds gedaan was – hy was al omtrent 100 jaar oud – en dat sy vrou Sara nie meer kinders kon hê nie. Abraham het nie getwyfel aan God se belofte nie; inteendeel, sy geloof het sterker geword en so het hy die eer aan God gegee. Hy was absoluut daarvan oortuig dat God enigiets kon doen wat Hy beloof het. Inderdaad, God het Abraham regverdig verklaar omdat hy in Hom geglo het! Hierdie wonderlike waarheid – dat God Abraham regverdig verklaar het omdat hy geglo het – staan nie net opgeteken ter wille van Abraham self nie. Dit wil ook vir óns verseker dat ons net so vrygespreek sal word as ons in Hom glo wat Jesus ons Here uit die dood opgewek het. Hierdie Jesus is oorgelewer om ter wille van ons sondes te sterf, en Hy is opgewek sodat ons vrygespreek kan word.