ROMEINE 4:1-12
ROMEINE 4:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Wat het gebeur met Abraham, die voorvader van die Jode? As die dinge tussen Abraham en God reg was omdat Abraham die regte dinge gedoen het, dan kon Abraham trots wees op homself wanneer hy by mense is, maar nie wanneer hy voor God staan nie. Want in die Ou Testament is geskryf: Abraham het God geglo, en God het hom vrygespreek van sy sonde. As mense dinge moet doen sodat God hulle moet vryspreek, dan is dit dieselfde soos wanneer hulle werk en iemand betaal hulle daarvoor. Hulle kry die betaling omdat hulle gewerk het en nie omdat die man vir wie hulle werk, goed wil wees vir hulle nie. Maar God spreek mense vry, nie omdat hulle dinge doen nie, maar omdat hulle glo. Hulle glo in Hom wat sondaars vryspreek. Dawid sê ook dat party mense gelukkig is omdat God hulle vryspreek, nie omdat hulle die regte dinge doen nie. Dawid skryf: Mense doen verkeerde dinge, maar die Here vergewe hulle. Hulle doen sonde, maar die Here neem hulle sonde weg, daarom is hulle gelukkige mense. Hulle is gelukkige mense, want die Here het hulle sonde vergewe. Wie is die mense wat gelukkig is? Die mense wat besny is, is gelukkig, maar die mense wat nie besny is nie, is ook gelukkig. Want ek het voorheen gesê dat God vir Abraham vrygespreek het omdat hy geglo het. Wanneer het God vir Abraham vrygespreek? Toe Abraham besny was of vóórdat hy besny was? God het vir Abraham vrygespreek voordat Abraham besny is. Abraham het geglo voordat hy besny is. Hy is later besny, en toe was sy besnydenis 'n teken dat God hom vrygespreek het omdat hy glo. Daarom is Abraham die voorvader van al die mense wat nie besny is nie, maar wat glo. God spreek hulle almal vry omdat hulle glo. En Abraham is ook die voorvader van al die mense wat besny is en wat ook glo soos Abraham geglo het voordat hy besny is.
ROMEINE 4:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WAT sal ons dan sê, het Abraham, ons vader na die vlees, verkry? Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy iets om op te roem, maar nie teenoor God nie. Want wat sê die Skrif? Abraham het in God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken. Maar aan hom wat werk, word die loon nie na guns toegereken nie, maar na verdienste; aan hom egter wat nie werk nie, maar glo in Hom wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken. Soos Dawid ook die mens salig spreek aan wie God geregtigheid toereken sonder werke: Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is. Welgeluksalig is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie. Hierdie saligspreking dan, sien dit op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Want ons sê: Aan Abraham is die geloof tot geregtigheid gereken. Hoe is dit dan toegereken — toe hy besnede of onbesnede was? Nie as besnedene nie, maar as onbesnedene. En hy het die teken van die besnydenis ontvang as 'n seël van die geregtigheid van die geloof toe hy nog nie besny was nie; dat hy die vader sou wees van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat ook aan hulle die geregtigheid toegereken sou word; en ook 'n vader van die besnydenis vir die wat nie alleen uit die besnydenis is nie, maar ook wandel in die voetstappe van die geloof van ons vader Abraham toe hy onbesnede was.
ROMEINE 4:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat moet ons nou sê was die geval met ons stamvader Abraham? As Abraham op grond van sy dade vrygespreek is, dan het hy 'n rede gehad om te roem. Maar nie by God nie! Wat sê die Skrif? “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” 'n Arbeider se loon word nie vir hom as 'n guns gegee nie, maar as iets wat hom toekom. Maar die mens wat nie op wetsonderhouding staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddelose vryspreek, hy kry die vryspraak deur sy geloof. So sê ook Dawid dat dié mens geseënd is wat deur God vrygespreek word buite wetsonderhouding om: “Geseënd is die mense wie se oortredinge nie gestraf word nie en wie se sonde vergewe word. Geseënd is die mens vir wie die Here die sonde nie toereken nie.” Het hierdie uitspraak oor wie geseënd is, net betrekking op die besnedenes of ook op die onbesnedenes? Ons sê weer: “Deurdat Abraham geglo het, het God hom vrygespreek.” Wanneer het dit gebeur? Toe hy reeds besny was of toe hy nog onbesnede was? Dit was nie toe hy besnede was nie, maar toe hy nog onbesnede was. Hy het die besnydenis as 'n teken ontvang. Dit is 'n seël wat bewys dat God hom vrygespreek het deurdat hy geglo het toe hy nog onbesnede was. Die doel daarmee was dat hy die vader sou wees van almal wat glo al is hulle nie besny nie. Hulle word dus ook deur God vrygespreek deurdat hulle glo. Ons voorvader Abraham sou ook die vader wees van dié besnedenes wat nie net besny is nie, maar ook glo, soos hy geglo het toe hy nog onbesnede was.
ROMEINE 4:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat sal ons dan sê het Abraham, ons stamvader na die liggaam, verkry? As Abraham inderdaad op grond van sy dade regverdig verklaar is, het hy rede om hom daarop te beroem. Maar nie voor God nie. Want wat sê die Skrif? “Abraham het God geglo, en God het sy geloof vir hom as regverdiging gereken.” Iemand wat werk, se loon word nie as 'n guns gereken nie, maar as iets wat hom toekom. Iemand wat egter nie werk nie, maar glo in die Een wat die goddelose regverdig verklaar – vir hom word sy geloof as regverdiging toegereken. So noem ook Dawid die mens geseënd vir wie God regverdiging toereken, sonder werke: “Gelukkig is hulle wie se wettelose dade vergewe, en wie se sondes bedek is; Gelukkig is die mens vir wie die Here die sonde hoegenaamd nie toereken nie.” Is hierdie seën dan net vir die besnedenes, of ook vir die onbesnedenes? Ons sê tog: “Abraham se geloof is vir hom as regverdiging gereken.” Wanneer is dit vir hom toegereken? Toe hy reeds besnede was, of toe hy nog onbesnede was? Nie toe hy besnede was nie, maar toe hy onbesnede was. Hy het die teken van die besnydenis as 'n seël ontvang – 'n seël van die geregtigheid van die geloof wat hy gehad het terwyl hy onbesnede was. So het hy die vader geword van almal wat glo terwyl hulle onbesnede is, sodat dit ook vir hulle as regverdiging toegereken kon word. So het hy ook die vader geword van hulle wat nie bloot besnede is nie, maar wat boonop in die voetspore volg van ons vader Abraham, wat geglo het toe hy nog onbesnede was.
ROMEINE 4:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wat sal ons dan sê wat ons vader Abraham, wat die vlees betref, gevind het? Want as Abraham uit die werke geregverdig is, het hy daarvan om te roem; maar nie voor God nie. Want wat sê die Skrif? Abraham het God geglo, en dit is hom tot geregtigheid gereken. En aan hom wat werk, word die loon nie uit genade gereken nie, maar uit skuld. Maar aan hom wat nie werk nie, maar in Hom glo wat die goddelose regverdig, word sy geloof tot geregtigheid gereken. Soos Dawid ook die saligheid beskryf van die mens aan wie God geregtigheid toereken sonder werke, en gesê: Geseënd is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is. Geseënd is die man aan wie die Here die sonde nie toereken nie. Kom hierdie saligheid dan oor die besnedenes, of ook oor die onbesnedenes? want ons sê dat die geloof aan Abraham tot geregtigheid gereken is. Hoe is dit dan bereken? toe hy in die besnydenis of in die onbesnedenheid was? Nie in die besnydenis nie, maar in die onbesnedenheid. En hy het die teken van die besnydenis ontvang, 'n seël van die geregtigheid van die geloof wat hy nog nie besny het nie, sodat hy die vader kan wees van almal wat glo, al is hulle nie besny nie; sodat geregtigheid hulle ook toegereken kan word. En die vader van die besnydenis vir die wat nie alleen uit die besnydenis is nie, maar wat ook wandel in die voetspore van die geloof van ons vader Abraham, wat hy nog onbesnede gehad het.
ROMEINE 4:1-12 Die Boodskap (DB)
Kom ons kyk gou na Abraham, ons almal se pa in die geloof. As hy deur God vrygespreek is omdat hy so verskriklik gehoorsaam was, het hy mos ’n rede gehad om homself op die skouer te klop. Maar God het hom nie oor sy gehoorsaamheid vrygespreek van sy sondes nie. Die Bybel sê immers: “Abraham het in God geglo. Daarom was sy saak met God in orde.” As jy werk, kry jy betaling daarvoor. Jy verdien dit immers omdat jy daarvoor gewerk het. God is egter nie soos ’n eienaar wat werkers beloon wat hard gewerk het nie. ’n Mens kom net in die regte verhouding met God as jy in Hom glo as die Een wat goddelose mense vryspreek. Selfs Dawid sê so. Volgens hom is elkeen wat deur God vrygespreek is sonder dat hulle die wet tot op die letter gehoorsaam, sommer baie bevoorreg. Dawid beskryf dit soos volg: “Gelukkig is almal wie se oortredings vergewe is en wie se sondes skoongevee is. Gelukkig is elkeen van wie se sondes God nie langer boekhou nie.” Dink jy dat hierdie uitspraak net geld vir mense wat besny is, of ook vir mense wat nie besny is nie? Wel, onthou jy dat ons hier bo gesê het dat Abraham vrygespreek is omdat hy geglo het? Wanneer het dit met hom gebeur? Toe hy klaar besny was, of voor die tyd? Ja, natuurlik, nog voordat hy besny is. Eers nadat Abraham begin glo het, het God aan hom die teken van die besnydenis gegee. Die besnydenis was die amptelike bewys van God se kant dat Abraham vrygespreek is deur sy geloof. So het Abraham die geestelike pa geword van almal wat glo sonder dat hulle die teken van die besnydenis aan hulle liggame dra. Hy is die bewys dat God mense vryspreek op grond van hulle geloof. Natuurlik is Abraham ook die geestelike vader van almal wat besny is; dit wil sê, daardie mense wat nie op hierdie uiterlike teken aan hulle liggame staatmaak om hulle te verlos nie, maar wat, net soos Abraham, al hulle vertroue in God stel.
ROMEINE 4:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Abraham is ons aardse voorvader. Hoe pas hy in hierdie prentjie van vryspraak deur die geloof? Was dit op grond van sy goeie werke dat God hom vrygespreek het? As dit inderdaad so was, sou hy dalk goeie rede gehad het om te spog. Maar vanuit God se oogpunt het hy absoluut niks gehad om oor te spog nie. Die Skrif verklaar mos: “Abraham het in God geglo, en God het hom vrygespreek.” Wanneer mense ’n werk verrig, word hulle loon nie as ’n guns beskou nie, maar as vergoeding. Die saak staan heeltemal anders met daardie mense wat geen prestasie het waarop hulle kan staatmaak nie, maar wat glo in Hom wat die goddeloses vryspreek – hulle word vrygespreek deurdat hulle glo. Koning Dawid het hiervan gepraat toe hy beskryf het hoe gelukkig die mens is wat sonder enige wetsprestasies tog deur God vrygespreek word: “Gelukkig is daardie mense wie se oortredings nie gestraf word nie en wie se sondes uitgewis word. Gelukkig is die mens vir wie die HERE die sonde glad nie meer toereken nie!” Geld hierdie uitspraak net vir die Jode, of sluit dit ook die nie-Jode in? Wel, wat dan van Abraham? Ons het tog gesê dat hy deur God vrygespreek is deurdat hy glo. Het hierdie vryspraak plaasgevind nadat hy reeds besny was of terwyl hy nog onbesnede was? Die antwoord is dat God hom reeds tevore, toe hy nog onbesnede was, vrygespreek het en dat hy eers daarna besny is! Die seremonie van die besnydenis was ’n teken, ja, ’n plegtige bekragtiging daarvan dat Abraham alreeds geglo het en deur God vrygespreek is – selfs nog voor sy besnydenis. So het Abraham die geestelike voorvader geword van almal wat glo sonder dat hulle die besnydenis ontvang het en só deur God vrygespreek is. En hy het ook die geestelike voorvader geword van hulle wat besny is, maar net as hulle dieselfde soort geloof het as wat ons vader Abraham gehad het voordat hy besny is.