ROMEINE 3:21-31

ROMEINE 3:21-31 Bybel vir almal (ABA)

Maar nou het God vir ons kom wys dat Hy mense vryspreek, maar nie omdat hulle doen wat die wette sê nie. Ons lees daarvan in die Wette van Moses en in die boeke van die profete. God spreek mense vry omdat hulle in Jesus Christus glo. Ja, God spreek almal vry wat glo, dit maak nie saak wie hulle is nie. Want al die mense het sonde gedoen en hulle lewe nie soos God, die Koning, wil hê hulle moet lewe nie, maar God spreek hulle vry omdat Hy baie goed is vir hulle, omdat Christus Jesus hulle vrygemaak het. God het vir Christus laat sterf. Dit is die offer waarmee God die sonde versoen van die mense wat in Christus glo. So het God gewys dat Hy altyd doen wat reg is. Die mense het sonde gedoen in die tyd voordat Christus gekom het, maar God het hulle nie gestraf nie. Hy het die mense nie gou gestraf nie, Hy het gewag tot nou toe om te wys dat Hy mense vryspreek. So wys Hy dat Hy altyd doen wat reg is, Hy wat elke mens vryspreek wat in Jesus glo. Mense mag nie trots wees op hulleself en spog omdat hulle doen wat die wette sê nie, want God spreek hulle nie daaroor vry nie. Hy spreek hulle vry omdat hulle glo. Ja, ons weet God spreek mense vry omdat hulle glo, nie omdat hulle doen wat die wette sê nie. God is nie net die God van die Jode nie, Hy is ook die God van die heidene. Daar is net een God. Hy sal die mense wat besny is, vryspreek omdat hulle glo, en Hy sal die mense wat nie besny is nie, ook vryspreek omdat hulle glo. Ons sê mense moet glo in Christus. Daarom sê party mense ons sê God se wette beteken niks. Dit is nie waar nie! Nooit nie! God se wette is vir ons belangrik.

ROMEINE 3:21-31 Die Boodskap (DB)

Ek het nou baie goeie nuus vir julle: dit waarvan die Bybel praat, naamlik dat God mense sal vryspreek van hulle sondes, selfs al doen hulle nie stiptelik alles wat die wet van God sê nie, het uiteindelik waar geword. Mense wat in Jesus Christus glo, word nou deur God van hulle sondes vrygespreek. Dit geld vir elkeen wat glo. Ons almal is sondaars. Nie een van ons leef tot God se eer nie. Ten spyte daarvan het Hy besluit om ons vry te spreek. Daarom het Hy Jesus Christus gestuur om ons te kom verlos. God doen dit omdat Hy baie vir ons omgee, nie omdat ons so goed leef nie. God het Jesus soos ’n offerlam laat slag vir al ons sondes. As ons in Hom glo, tel ons verkeerde dade glad nie meer nie. God was ’n lang tyd geduldig met ons oor al ons sondes. Hy het ons nie links en regs daarvoor gestraf nie. Maar omdat God regverdig is en dit die een of ander tyd moet straf, het Hy besluit om ons sondes op Jesus Christus te laat neerkom. Daarom kan Hy nou elkeen vryspreek wat in Christus glo. Wie kan dit nou nog waag om te spog oor hulle gehoorsaamheid aan die wet? Dit help in elk geval nie. Al wat nou saak maak, is geloof. Dit gaan glad nie meer oor wat óns alles vir God doen nie, maar wat Hý vir ons doen. God spreek mense vry slegs omdat hulle glo, nie omdat hulle die wet gehoorsaam nie. Hierdie goeie nuus geld vir die Jode sowel as vir ander volke. Die Jode het mos nie die alleenreg op God nie. Daar is slegs een God en Hy spreek alle mense vry wat in Hom glo. Of hulle besny is of nie, maak glad nie vir Hom saak nie. Al gaan dit nou nie meer oor wat ons vir God moet doen nie, maar oor wat Hy vir ons doen, beteken dit nie dat die wet van Moses sy betekenis verloor het nie. Inteendeel, ons geloof gee juis aan die wet sy regte plek. Nou kan almal wat glo, die wet gehoorsaam.

ROMEINE 3:21-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Maar nou het God vir ons ’n ander weg bekendgemaak waardeur ons sy vryspraak kan verkry – nie deur wetsgehoorsaming nie, maar langs die weg waarvan die Skrif al lankal getuig: God spreek ons vry deur geloof in Christus Jesus en dit geld sonder onderskeid vir almal wat glo. Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom. Maar nou spreek God ons in sy genade vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant. Want God het Hom gestuur as ’n offer wat deur sy sterwe versoening bewerk het vir almal wat glo. Op hierdie manier het Hy duidelik aangetoon wat sy vryspraak behels: Aan die een kant het Hy die sondes vergewe wat vroeër in die tyd van sy verdraagsaamheid begaan is; aan die ander kant het Hy ook duidelik aangetoon wat sy vryspraak nóú behels. Op hierdie manier blyk dit dat Hy nie net regverdig is nie, maar terselfdertyd ook elkeen regverdig verklaar wat in Jesus glo. Kan ons ons dus daarop beroem dat ons enigiets gedoen het om die vryspraak te verdien? Dis heeltemal buite die kwessie, want ons vryspraak berus nie op ons goeie dade nie, maar op ons geloof. Ons is immers daarvan oortuig dat mense vrygespreek word deurdat hulle glo en nie deur wetsgehoorsaming nie. Per slot van sake is God nie net ’n God van die Jode nie, maar ook van die nie-Jode. Daar is net een God en daar is net een manier om sy vryspraak te ontvang. Hy spreek mense vry net deurdat hulle glo – en dit geld vir Jode sowel as nie-Jode. As ons die geloof beklemtoon, beteken dit dan dat ons die wet ter syde stel? Natuurlik nie! In werklikheid laat ons die wet juis tot sy reg kom.