ROMEINE 3:1-31
ROMEINE 3:1-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WAT is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Groot, in alle opsigte: ten eerste tog seker dat aan hulle die woorde van God toevertrou is. Want wat maak dit as sommige ontrou geword het? Sal hulle ontrou miskien die getrouheid van God vernietig? Nee, stellig nie! Maar God moet waaragtig wees en elke mens leuenagtig, soos geskrywe is: Sodat U geregverdig kan word in u woorde en oorwin as U gerig hou. Maar as ons ongeregtigheid die geregtigheid van God bewys, wat sal ons sê? Is God wat die toorn oor ons bring, dan nie onregverdig nie? Ek spreek menslikerwys. Nee, stellig nie! Want hoe sal God anders die wêreld oordeel? Maar as die waarheid van God deur my leuen oorvloediger geword het tot sy heerlikheid, waarom word ek dan nog as sondaar geoordeel? En moet ons nie liewer sê nie, soos ons belaster word en soos sommige beweer dat ons sê: Laat ons kwaad doen, sodat die goeie daaruit kan voortkom? Hulle veroordeling is regverdig. WAT dan? Het ons enige voorrang? Hoegenaamd nie! Want ons het tevore al Jode sowel as Grieke beskuldig dat hulle almal onder die sonde is, soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie. Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie. Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie. Hul keel is 'n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe. Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle paaie, en die weg van vrede ken hulle nie. Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie. Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees; aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde. MAAR nou is die geregtigheid van God geopenbaar sonder die wet, terwyl die wet en die profete daarvan getuig, die geregtigheid naamlik van God deur die geloof in Jesus Christus vir almal en oor almal wat glo, want daar is geen onderskeid nie; want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God, en hulle word deur sy genade sonder verdienste geregverdig deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Hom het God voorgestel in sy bloed as 'n versoening deur die geloof, om sy geregtigheid te bewys deurdat Hy die sondes ongestraf laat bly het wat tevore gedoen is onder die verdraagsaamheid van God — om sy geregtigheid te toon in die teenwoordige tyd, sodat Hy self regverdig kan wees en regverdig maak wie uit die geloof in Jesus is. Waar is dan die roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Van die werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. Ons neem dus aan dat die mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet. Of behoort God net aan die Jode, en nie ook aan die heidene nie? Ja, ook aan die heidene, aangesien dit inderdaad een God is wat die besnedenes sal regverdig uit die geloof en die onbesnedenes deur die geloof. Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? Nee, stellig nie! Inteendeel, ons bevestig die wet.
ROMEINE 3:1-31 Bybel vir almal (ABA)
Is dit belangrik dat iemand 'n Jood is of dat hy besny is? Ja, dit is baie belangrik. Die belangrikste is dat God met die Jode gepraat het en dat Hy sy woorde vir hulle gegee het. Maar party van die Jode doen nie wat hulle belowe het nie, hulle dien nie vir God nie. Sal God nou ook nie doen wat Hy vir die Jode belowe het nie? Nee, nooit nie! God doen altyd wat Hy belowe. Dit is mense wat nie doen wat hulle sê nie. Daarom is daar in die Ou Testament geskryf: O God, wanneer U iets sê, dan is dit reg. Mense wat probeer om vir U te beskuldig, verloor altyd. Party mense sê dat wanneer ons verkeerde dinge doen, dan kan 'n mens beter sien dat God altyd reg doen. Moet ons dan sê God is verkeerd wanneer Hy ons straf? Nee, nooit nie! As dit wat hulle sê, reg is, dan mag God nooit sê mense is verkeerd nie en dan mag Hy hulle nie straf nie. Party mense sê dat wanneer ons leuens vertel, dan kan ander mense beter sien dat God altyd reg doen en dan kan hulle Hom prys. Hulle sê daarom mag God nie sê ons is sondaars nie en daarom mag Hy ons nie straf nie. Maar daardie mense is verkeerd! Daar is mense wat verkeerd van ons praat. Hulle sê ons sê dat ons slegte dinge moet doen sodat daar goeie dinge met ons kan gebeur. Maar hulle praat nie die waarheid nie. God moet hulle straf, en Hy sal dit doen. Mag ons sê dat ons onskuldig is en dat ons nie sonde doen nie? Nee, nooit nie! Ek het in die begin van hierdie brief gesê dat almal skuldig is. Ek het gesê almal is vol sonde, die Jode én die mense wat nie Jode is nie. In die Ou Testament is daar geskryf: Niemand doen reg nie, nie een nie. Niemand is verstandig nie, niemand vra wat God wil hê nie. Niemand doen wat God wil hê nie, almal doen verkeerde dinge, nie een mens doen goed nie, niemand nie. Hulle sê dinge wat baie sleg is, hulle praat en dan bedrieg hulle ander mense, hulle woorde is so sleg soos die gif van slange. Hulle hou daarvan om mense te vervloek en om slegte dinge te sê. Hulle hou daarvan om mense dood te maak. Hulle breek alles en hulle maak mense baie seer. Hulle hou nie van vrede nie. Hulle respekteer nie vir God nie. Ons weet dat almal wat God se wette ken, moet doen wat die wette sê. Daarom kan niemand sê hy is onskuldig nie. Ja, God moet al die mense in die wêreld straf, want Hy sal niemand vryspreek omdat hy doen wat die wette sê nie. Die wette wys vir ons wat sonde is, die wette wys niks meer nie. Maar nou het God vir ons kom wys dat Hy mense vryspreek, maar nie omdat hulle doen wat die wette sê nie. Ons lees daarvan in die Wette van Moses en in die boeke van die profete. God spreek mense vry omdat hulle in Jesus Christus glo. Ja, God spreek almal vry wat glo, dit maak nie saak wie hulle is nie. Want al die mense het sonde gedoen en hulle lewe nie soos God, die Koning, wil hê hulle moet lewe nie, maar God spreek hulle vry omdat Hy baie goed is vir hulle, omdat Christus Jesus hulle vrygemaak het. God het vir Christus laat sterf. Dit is die offer waarmee God die sonde versoen van die mense wat in Christus glo. So het God gewys dat Hy altyd doen wat reg is. Die mense het sonde gedoen in die tyd voordat Christus gekom het, maar God het hulle nie gestraf nie. Hy het die mense nie gou gestraf nie, Hy het gewag tot nou toe om te wys dat Hy mense vryspreek. So wys Hy dat Hy altyd doen wat reg is, Hy wat elke mens vryspreek wat in Jesus glo. Mense mag nie trots wees op hulleself en spog omdat hulle doen wat die wette sê nie, want God spreek hulle nie daaroor vry nie. Hy spreek hulle vry omdat hulle glo. Ja, ons weet God spreek mense vry omdat hulle glo, nie omdat hulle doen wat die wette sê nie. God is nie net die God van die Jode nie, Hy is ook die God van die heidene. Daar is net een God. Hy sal die mense wat besny is, vryspreek omdat hulle glo, en Hy sal die mense wat nie besny is nie, ook vryspreek omdat hulle glo. Ons sê mense moet glo in Christus. Daarom sê party mense ons sê God se wette beteken niks. Dit is nie waar nie! Nooit nie! God se wette is vir ons belangrik.
ROMEINE 3:1-31 Afrikaans 1983 (AFR83)
Het dit dan enige voordeel om 'n Jood te wees, en het die besnydenis enige nut? Ja, baie, in allerlei opsigte. Die belangrikste is dat God sy woorde aan die Jode toevertrou het. Maar wat nou as sommige nie getrou gebly het nie? Sal hulle ontrou die trou van God laat ophou? Beslis nie. Dit staan vas dat God betroubaar is en elke mens 'n leuenaar, soos daar geskrywe staan: “U is regverdig wanneer U uitspraak doen en U wen u saak wanneer U aangekla word.” Ons verkeerde dade laat dus blyk dat God regverdig is. Wat sal ons daarvan sê? Ek redeneer soos mense gewoonlik redeneer. Is God dan nie onregverdig as Hy ons straf nie? Beslis nie. Hoe sou God anders oor die wêreld kan oordeel? Maar as my leuenagtigheid die betroubaarheid van God duideliker aan die lig gebring het en so dien tot eer van God, waarom word ek dan nog as sondaar veroordeel? Beteken dit dat ons sê: Laat ons die verkeerde doen sodat die goeie daaruit kan voortkom? Daar is mense wat ons dit wel lasterlik in die mond lê, maar hulle kry die oordeel wat hulle verdien. Waarop kom dit neer? Is ons as Jode dan beter as die ander? Glad nie, want ons het al bewys dat Jode en nie-Jode almal in die mag van die sonde is. Daar staan immers geskrywe: “Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. “Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie. “Hulle keel is 'n oop graf, met hulle tonge bedrieg hulle. Oor hulle lippe kom woorde so giftig soos slange, hulle mond is vol vervloeking en bitterheid. “Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. Hulle laat 'n spoor van verwoesting en ellende agter. Die pad van vrede het hulle nie leer ken nie, ontsag vir God het hulle nie. ” Dit weet ons: alles wat Moses se wet sê, sê hy vir dié wat die wet het. Niemand sal hom dus kan verweer nie, en die hele wêreld is strafwaardig voor God. Daarom sal geen mens op grond van wetsonderhouding deur God vrygespreek word nie; inteendeel, deur die wet leer 'n mens wat sonde is. Maar nou het die vryspraak deur God waarvan die wet en die profete getuig, in werking getree. Dit is die vryspraak wat nie verkry word deur die wet te onderhou nie, maar deur in Jesus Christus te glo. God gee dit sonder onderskeid aan almal wat glo. Almal het gesondig, en het nie deel aan die heerlikheid van God nie, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus. Hom het God gegee as offer wat deur sy bloed versoening bewerk het vir dié wat glo. Hierdeur het God getoon wat sy vryspraak behels: Hy het die sondes wat Hy voorheen in sy verdraagsaamheid tydelik ongestraf laat bly het, vergewe. Maar Hy het ook getoon wat sy vryspraak in die teenswoordige tyd behels: Hy oordeel regverdig deurdat Hy elkeen vryspreek wat in Jesus glo. Het ons nou iets uit onsself om op te roem? Nee, dit is uitgesluit. Deur watter wet? Dié van die werke? Nee, deur dié van die geloof. Ons betoog is tog dat 'n mens vrygespreek word omdat hy glo, nie omdat hy die wet onderhou nie. Of is God net God van die Jode, nie ook van die heidennasies nie? Ja, ook van die heidennasies, want daar is net een God. Hy sal die besnedenes deur die geloof en die onbesnedenes deur dieselfde geloof vryspreek. Hef ons dan deur die geloof die wet op? Beslis nie. Ons laat die wet juis tot sy reg kom.
ROMEINE 3:1-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Wat is dan die voordeel van die Jood? Of wat is die nut van die besnydenis? Baie, in elke opsig. Want in die eerste plek is die woorde van God aan hulle toevertrou. Maar wat nou? As sommige ontrou geword het, maak hulle ontrouheid God se getrouheid ongedaan? Hoegenaamd nie. Al is elke mens vals, laat God waaragtig wees. Soos daar geskryf staan, “sodat U reg bewys kan word deur u woorde, en U sal wen wanneer U oordeel”. Maar as ons ongeregtigheid die regverdigheid van God bewys, wat sal ons sê? Is God dan onregverdig – ek redeneer nou soos 'n mens – wanneer Hy sy toorn oor ons bring? Hoegenaamd nie! Want hoe sal God dan oor die wêreld oordeel? Maar as deur my valsheid God se waarheid oorvloedig blyk, tot sy heerlikheid, waarom word ek dan nog as sondaar geoordeel? Moet ons nie sê – soos wat ons belaster word, en soos sommige ons dit in die mond lê, “kom ons doen die slegte, sodat die goeie daaruit kan voortkom” nie? Tereg verdien sulke mense hulle veroordeling. Wat dan? Is ons beter daaraan toe? Hoegenaamd nie! Want ons het alreeds tevore Jode sowel as Grieke daarvan aangekla dat almal onder die sonde is; soos daar geskryf staan: “Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie; daar is niemand verstandig nie, daar is niemand wat God soek nie. Almal het afgedwaal; saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.” “Hulle keel is 'n oop graf; met hulle tonge bedrieg hulle; die gif van adders is op hulle lippe. ” “Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.” “Haastig is hulle voete om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is op hulle paaie, en 'n pad van vrede ken hulle nie.” “In hulle oë is daar geen vrees vir God nie.” Ons weet dat alles wat die wet sê, gerig is aan diegene wat onder die wet staan, sodat elke mond die swye opgelê kan word, en die hele wêreld hulle voor God moet verantwoord. Daarom sal geen mens op grond van die uitvoering van die wet voor Hom geregverdig word nie, want juis deur die wet ken ons die sonde. Maar nou word die geregtigheid van God, waarvan die Wet en die Profete getuig, sonder die wet bekend gemaak. Hierdie geregtigheid gee God deur die geloof in Jesus •Christus aan almal wat glo. Want daar is geen onderskeid nie: Almal het trouens gesondig, en die eer aan God ontbreek by hulle; en tog word hulle goedgunstig op grond van sy genade vrygespreek deur die bevryding in Christus Jesus. God het Hom, deur sy bloed, daargestel as versoeningsoffer wat deur die geloof verkry word, as bewys van sy geregtigheid; want so het Hy in sy verdraagsaamheid die sondes wat voorheen gedoen is, oorgesien. Hy het sy geregtigheid in die huidige tyd bewys om so regverdig te wees en dié wat in Jesus glo, regverdig te verklaar. Is daar dan nog sprake van roem? Dit is uitgesluit. Deur watter wet? Die wet van die werke? Nee, deur die wet van die geloof. Ons is immers daarvan oortuig dat 'n mens regverdig verklaar word deur die geloof, sonder die uitvoering van die wet. Of is God net die God van Jode? Is Hy nie ook God van nie-Jode nie? Ja, ook van nie-Jode, aangesien dit een God is wat besnedenes op grond van die geloof regverdig sal verklaar, en ook onbesnedenes deur die geloof. Maak ons dan deur die geloof die wet ongeldig? Hoegenaamd nie! Trouens, ons bevestig die wet.
ROMEINE 3:1-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Watter voordeel het die Jood dan? of watter voordeel is daar van die besnydenis? Veel op elke manier: hoofsaaklik omdat die woorde van God aan hulle toevertrou is. Want wat as sommige nie geglo het nie? sal hulle ongeloof die geloof in God tot niet maak? God verhoed dit: ja, laat God waaragtig wees, maar elke mens 'n leuenaar; soos geskrywe is: Sodat jy geregverdig kan word in jou woorde en oorwin kan word as jy geoordeel word. Maar as ons ongeregtigheid die geregtigheid van God prys, wat sal ons sê? Is God onregverdig wat wraak neem? (Ek praat as 'n man) God verhoed dit, want hoe sal God dan die wêreld oordeel? Want as die waarheid van God deur my leuen meer oorvloedig geword het tot sy eer; waarom word ek ook as sondaar geoordeel? En nie eerder, soos ons lasterlik gerapporteer word en soos sommige beweer dat ons sê: Laat ons kwaad doen, sodat die goeie kan kom nie? wie se verdoemenis regverdig is. Wat dan? is ons beter as hulle? Nee, geensins nie, want ons het tevore beide Jode en heidene bewys dat hulle almal onder die sonde is; Soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, ook nie een nie; Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat na God soek nie. Hulle het almal uit die pad gegaan, saam het hulle nutteloos geword; daar is niemand wat goed doen nie, ook nie een nie. Hulle keel is 'n oop graf; met hulle tonge het hulle bedrog gebruik; die gif van adders is onder hulle lippe: Wie se mond vol vloek en bitterheid is: Hulle voete is vinnig om bloed te vergiet. Verwoesting en ellende is in hulle weë: En die weg van vrede het hulle nie geken nie: Daar is geen vrees vir God voor hulle oë nie. Nou weet ons dat alles wat die wet sê, dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop kan word en die hele wêreld skuldig kan word voor God. Daarom sal uit die werke van die wet geen vlees voor sy oë geregverdig word nie, want uit die wet is die kennis van sonde. Maar nou word die geregtigheid van God sonder die wet geopenbaar, terwyl die wet en die profete daarvan getuig; Selfs die geregtigheid van God wat deur die geloof in Jesus Christus is vir almal en oor almal wat glo; want daar is geen verskil nie. Want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God; om sonder verdienste geregverdig te word uit sy genade deur die verlossing wat in Christus Jesus is. Wie God voorgehou het om 'n versoening te wees deur geloof in sy bloed, om sy geregtigheid te verkondig tot vergewing van sondes wat verby is, deur die verdraagsaamheid van God; Om in hierdie tyd sy geregtigheid te verkondig, sê ek, sodat hy regverdig kan wees en regverdiger kan wees van hom wat in Jesus glo. Waar is dan grootpratery? Dit is uitgesluit. Volgens watter wet? van werke? Nee, maar deur die wet van die geloof. Daarom kom ons tot die gevolgtrekking dat 'n mens geregverdig word deur die geloof sonder die werke van die wet. Is Hy net die God van die Jode? is hy nie ook van die heidene nie? Ja, ook van die heidene: Aangesien dit een God is wat die besnedenes uit die geloof en die onbesnedenheid deur die geloof sal regverdig. Maak ons dan die wet tot niet deur die geloof? God verbied: ja, ons stel die wet vas.
ROMEINE 3:1-31 Die Boodskap (DB)
Maak dit dan saak dat jy ’n Jood is en dat jy besny is? Ja, tog! God het Hom immers aan Israel kom bekendmaak. Hy het ook toegelaat dat Israel sy woorde en dade op skrif stel. Maar wat dan as party Israeliete ongehoorsaam aan God is? Bring hulle ongehoorsaamheid God se lojaliteit in die gedrang? Nee, beslis nie. God hou altyd sy woord. Hy bly lojaal selfs al lieg en bedrieg almal op aarde. Dit is soos een van die psalms sê: “Dit wat U sê, is reg. U wen altyd u saak wanneer mense U beskuldig dat U ontrou is.” God is heeltemal reg as Hy ons straf as ons verkeerde dinge doen. Sy straf is mos nie ’n teken dat Hy nou skielik onregverdig is nie. (Nou praat ek op ’n doodgewone manier.) Nee, natuurlik nie. God moet sy eer op die een of ander manier beskerm. Daarom veroordeel Hy almal wat nie doen wat Hy vra nie. Party mense sê egter dat God onregverdig is as Hy hulle oor hulle sondes straf. Hulle loop en vertel dat al hulle leuens eintlik ’n groot hulp vir God is. Dit bied glo aan Hom die geleentheid om te wys dat Hy die waarheid gepraat het toe Hy gesê het dat Hy sondaars vergewe. Die ergste van alles is dat hierdie mense agter my rug sê dat hulle dit by my gehoor het. Natuurlik is dit ’n leuen. Ek verkondig nie sulke dinge nie. Die mense wat dit oor my sê, sal hulle verdiende straf kry. Wat dan? Help dit regtig om ’n Jood te wees? Nee, glad nie. Ek het mos vroeër al gesê dat ons almal in die greep van die sonde vasgevang is, of ons nou Jode is of nie. Die Bybel stel dit baie duidelik: “Niemand op aarde leef reg nie, niemand nie, niemand probeer om volgens God se wil te leef nie. Almal het die spoor byster geraak. Hulle het in sonde verval. Niemand doen goed nie, nie ’n enkele een nie. Hulle kele is ’n oop deur na die doderyk toe. Hulle tonge is vol bedrog. Hulle lippe is vol van die dodelikste gif. Elke woord wat hulle sê, is gelaai met bitterheid. Hulle vloek links en regs. Hulle kan nie voorbly om mekaar dood te maak nie. Agter hulle lê ’n spoor van vernietiging en ellende. Hulle weet nie wat dit beteken om in vrede met ander mense te leef nie. Hulle het geen eerbied vir God nie.” Ons weet dat alles wat Moses in die wet gesê het, spesifiek vir mense bedoel is wat onder die gesag van die wet staan. Daarom moet ons stilbly en ophou om so maklik die vinger na ander te wys. Ons almal staan skuldig voor God. Ons wat Jode is moenie dink dat God ons sal vryspreek as ons sy wet probeer gehoorsaam nie. Al wat die wet kan doen, is om vir ons te wys wat sonde is, maar dit help ons glad nie om op te hou verkeerde dinge doen nie. Ek het nou baie goeie nuus vir julle: dit waarvan die Bybel praat, naamlik dat God mense sal vryspreek van hulle sondes, selfs al doen hulle nie stiptelik alles wat die wet van God sê nie, het uiteindelik waar geword. Mense wat in Jesus Christus glo, word nou deur God van hulle sondes vrygespreek. Dit geld vir elkeen wat glo. Ons almal is sondaars. Nie een van ons leef tot God se eer nie. Ten spyte daarvan het Hy besluit om ons vry te spreek. Daarom het Hy Jesus Christus gestuur om ons te kom verlos. God doen dit omdat Hy baie vir ons omgee, nie omdat ons so goed leef nie. God het Jesus soos ’n offerlam laat slag vir al ons sondes. As ons in Hom glo, tel ons verkeerde dade glad nie meer nie. God was ’n lang tyd geduldig met ons oor al ons sondes. Hy het ons nie links en regs daarvoor gestraf nie. Maar omdat God regverdig is en dit die een of ander tyd moet straf, het Hy besluit om ons sondes op Jesus Christus te laat neerkom. Daarom kan Hy nou elkeen vryspreek wat in Christus glo. Wie kan dit nou nog waag om te spog oor hulle gehoorsaamheid aan die wet? Dit help in elk geval nie. Al wat nou saak maak, is geloof. Dit gaan glad nie meer oor wat óns alles vir God doen nie, maar wat Hý vir ons doen. God spreek mense vry slegs omdat hulle glo, nie omdat hulle die wet gehoorsaam nie. Hierdie goeie nuus geld vir die Jode sowel as vir ander volke. Die Jode het mos nie die alleenreg op God nie. Daar is slegs een God en Hy spreek alle mense vry wat in Hom glo. Of hulle besny is of nie, maak glad nie vir Hom saak nie. Al gaan dit nou nie meer oor wat ons vir God moet doen nie, maar oor wat Hy vir ons doen, beteken dit nie dat die wet van Moses sy betekenis verloor het nie. Inteendeel, ons geloof gee juis aan die wet sy regte plek. Nou kan almal wat glo, die wet gehoorsaam.
ROMEINE 3:1-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Beteken dit dan enigiets besonders om ’n Jood te wees? Of hou die besnydenis enige voordeel in? Inderdaad! Dit hou baie voordele in. Die belangrikste is die feit dat God sy openbaring aan die Jode toevertrou het. Wat sê dit vir ons? Impliseer die feit dat party Jode ontrou geword het dan nie dat God se getrouheid aan sy beloftes ook daarmee heen is nie? Beslis nie! Al sou elke mens ’n leuenaar wees – God se waaragtigheid staan steeds vas. Soos die Skrif sê: “U sal reg bewys word in wat U sê, en U sal u regsaak wen.” “Maar,” kan party sê, “dan dien ons ongeregtigheid tog ’n goeie doel, want as God ons ten spyte van ons sondes vryspreek, sal dit vir die mense wys hoe wonderlik goed Hy is. En dan sou God mos onregverdig wees as Hy die sonde wel straf!” Ja, so sou mense nogal geneig wees om te redeneer. Maar dit is natuurlik ondenkbaar! As God onregverdig was, hoe sou Hy ooit as die regter van die hele wêreld kon kwalifiseer? Party sal egter nog bly sê: “Maar hoe kan God my nog steeds as ’n sondaar veroordeel as my oneerlikheid juis sý waaragtigheid oorvloedig laat blyk en tot sy verheerliking dien?” Volgens hierdie absurde redenasie sou ons moes sê: “Kom ons doen die slegte sodat die goeie daaruit kan voortkom!” Dié wat sulke onsin verkondig, verdien tereg God se oordeel – en tog belaster sommige mense my deur te beweer dis presies wat ek preek! Waarop kom dit neer? Dat ons wat Jode is, voor God beter is as ander? Hoegenaamd nie! Ons het immers reeds duidelik aangetoon dat die Jode sowel as die nie-Jode almal onder die mag van die sonde verkeer. Dit is soos die Skrif sê: “Niemand is goed nie – selfs nie een nie. Daar is nie een wat verstandig is nie; niemand wat ernstig na God soek nie. Almal het hulle rug op God gekeer; almal het sleg geword. Daar is niemand wat die goeie doen nie – selfs nie een nie.” “Hulle keel is soos ’n geopende graf. Met hulle tonge pleeg hulle bedrog.” “Die gif van dodelike slange drup van hulle lippe.” “Hulle monde is vol vervloeking en bitterheid.” “Hulle is haastig om moord te pleeg. Oral waar hulle gaan, laat hulle verwoesting en ellende agter. Hulle weet nie waar ware vrede lê nie.” “Eerbied vir God speel by hulle geen rol nie.” Ons weet dat die wet van toepassing is op almal wat onder die wet is. Daarom kan niemand van ons ons verweer nie en is die hele wêreld skuldig voor God. Niemand sal dus op grond van wetsgehoorsaming voor God vrygespreek kan word nie. Hoe beter ons die wet van God leer ken, hoe duideliker blyk ons sonde. Maar nou het God vir ons ’n ander weg bekendgemaak waardeur ons sy vryspraak kan verkry – nie deur wetsgehoorsaming nie, maar langs die weg waarvan die Skrif al lankal getuig: God spreek ons vry deur geloof in Christus Jesus en dit geld sonder onderskeid vir almal wat glo. Ons het immers almal gesondig. Ons almal het God beroof van die eer wat Hom toekom. Maar nou spreek God ons in sy genade vry op grond van die verlossing wat Christus Jesus vir ons verkry het – en dit sonder enige verdienste van ons kant. Want God het Hom gestuur as ’n offer wat deur sy sterwe versoening bewerk het vir almal wat glo. Op hierdie manier het Hy duidelik aangetoon wat sy vryspraak behels: Aan die een kant het Hy die sondes vergewe wat vroeër in die tyd van sy verdraagsaamheid begaan is; aan die ander kant het Hy ook duidelik aangetoon wat sy vryspraak nóú behels. Op hierdie manier blyk dit dat Hy nie net regverdig is nie, maar terselfdertyd ook elkeen regverdig verklaar wat in Jesus glo. Kan ons ons dus daarop beroem dat ons enigiets gedoen het om die vryspraak te verdien? Dis heeltemal buite die kwessie, want ons vryspraak berus nie op ons goeie dade nie, maar op ons geloof. Ons is immers daarvan oortuig dat mense vrygespreek word deurdat hulle glo en nie deur wetsgehoorsaming nie. Per slot van sake is God nie net ’n God van die Jode nie, maar ook van die nie-Jode. Daar is net een God en daar is net een manier om sy vryspraak te ontvang. Hy spreek mense vry net deurdat hulle glo – en dit geld vir Jode sowel as nie-Jode. As ons die geloof beklemtoon, beteken dit dan dat ons die wet ter syde stel? Natuurlik nie! In werklikheid laat ons die wet juis tot sy reg kom.