ROMEINE 2:25-29
ROMEINE 2:25-29 Bybel vir almal (ABA)
As jy doen wat God se wette sê, dan is dit goed dat jy besny is. Maar as jy nie doen wat God se wette sê nie, dan beteken dit niks dat jy besny is nie, dan is jy soos die mense wat nie besny is nie. As mense nie besny is nie en hulle doen wat God se wette sê, dan sal God sê dit maak nie saak dat hulle nie besny is nie. Hulle is dan vir God dieselfde soos die mense wat besny is. Die mense wat nie besny is nie en wat doen wat God se wette sê, sal wys dat jy verkeerd is. Jy het die wette van God en jy is besny, maar jy doen nie wat die wette sê nie. Wie is die ware Jode? Dit is nie die mense wat vir ander mense lyk soos Jode nie. Nee, hulle moet in hulle hárte Jode wees. As mense se liggame besny is, dan is hulle nog nie regtig besny nie. Hulle hárte moet besny wees. Dit beteken: Dit is nie belangrik dat mense se liggame besny is nie, dit is belangrik dat die Heilige Gees in hulle harte is. Dán sal Gód hulle prys, nie ander mense nie.
ROMEINE 2:25-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want die besnydenis is wel nuttig as jy die wet onderhou; maar as jy 'n oortreder van die wet is, het jou besnydenis onbesnedenheid geword. As die onbesnedene dan die verordeninge van die wet onderhou, sal sy onbesnedenheid dan nie as besnydenis gereken word nie? En sal hy wat van nature onbesnede is en die wet volbring, jou nie oordeel wat ondanks letter en besnydenis 'n oortreder van die wet is nie? Want nie hý is 'n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is 'n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.
ROMEINE 2:25-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die besnydenis het waarde alleen as jy die wet van Moses onderhou. Maar as jy die wet voortdurend oortree, is jou besnydenis niks anders as onbesnedenheid nie. As die onbesnedene die voorskrifte van die wet onderhou, sal God dan nie sy onbesnedenheid as besnedenheid reken nie? Ja, iemand wat kragtens sy afkoms 'n onbesnedene is, maar tog die wet onderhou, sal jou selfs veroordeel, vir jou wat met wetsvoorskrifte en besnydenis en al die wet oortree. Nie hy is 'n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. Nee, hy is 'n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.
ROMEINE 2:25-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die besnydenis is inderdaad van nut as jy die wet nakom, maar as jy 'n oortreder van die wet is, het jou besnedenheid onbesnedenheid geword. En as onbesnede mense die voorskrifte van die wet uitvoer, sal hulle onbesnedenheid dan nie tot besnedenheid gereken word nie? Boonop sal die mense wat van nature onbesnede is en tog die wet nakom, oordeel oor jou, wat ten spyte van die letter van die wet en die besnydenis 'n wetsoortreder is. Want om 'n Jood te wees, is nie iets uiterliks nie, en besnydenis is nie iets wat uiterlik aan die liggaam geskied nie; inteendeel, iemand is innerlik 'n Jood en besnydenis is iets van die hart, geestelik, nie letterlik nie. Só iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.
ROMEINE 2:25-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want die besnydenis is wel nuttig as jy die wet onderhou; maar as jy 'n oortreder van die wet is, is jou besnydenis onbesnedenheid. As die onbesnedene dan die geregtigheid van die wet onderhou, sal sy onbesnedenheid nie as die besnydenis gereken word nie? En sal die onbesnedenheid wat van nature is, as dit die wet vervul, jou nie oordeel wat deur die letter en die besnydenis die wet oortree nie? Want hy is nie 'n Jood wat dit uiterlik is nie; ook nie die besnydenis wat in die openbaar in die vlees is nie. Maar hy is 'n Jood wat dit innerlik is; en die besnydenis is dié van die hart, in die gees en nie in die letter nie; wie se lof nie uit mense kom nie, maar aan God.
ROMEINE 2:25-29 Die Boodskap (DB)
Jy sê dat jy die merkteken van die besnydenis aan jou liggaam dra. Natuurlik is dit belangrik, maar dan net as jy álles doen wat die wet van jou vra. As jy aan die wet ongehoorsaam is, kon jy maar net sowel nie besny gewees het nie. Die omgekeerde is ook waar: wanneer mense wat nie besny is nie, doen wat God in sy wet vra, is hulle in sy oë besny. Op die ou end gaan hierdie mense wat nie besny is nie nog oor jou oordeel, want met jou wet en jou besnydenis doen jy steeds nie wat God se wet vra nie. Verstaan jy dan nie dat daardie teken aan jou lyf nog nie van jou ’n ware Israeliet maak nie? ’n Ware Jood is iemand wie se lewe van binne af verander het. Dit is iemand wie se hart deur God besny is. Jy is nie ’n Jood bloot omdat jy die regte afkoms het nie. Glad nie. Leef daarom so dat God trots sal wees op jou.
ROMEINE 2:25-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die besnydenis beteken wel vir jou iets as jy God se wet gehoorsaam. Maar as jy die wet oortree, is jy niks beter daaraan toe as ’n onbesnede nie-Jood nie. En as die onbesnede nie-Jode die bepalings van die wet nakom, sal God hulle dan nie beskou as besnedenes nie? Ja, as iemand wat kragtens geboorte onbesnede is, tog God se wet gehoorsaam, sal dit selfs téén jou tel – jy wat met die letter van die wet, besnydenis en al, tog God se wet verbreek! Jy is nie ’n ware Jood bloot omdat jy in die openbaar as ’n Jood bekend staan of omdat jy uitwendig besny is nie. Inteendeel, die ware Jood is dié een wat dit in sy binneste is. En die ware besnydenis is nie dié een wat aan jou liggaam verrig word nie; nee, dit is die besnydenis van jou hárt wat deur die Gees van God verrig word, nie deur wetsvoorskrifte nie. Só ’n persoon ontvang lof – nie van mense nie, maar van God.