ROMEINE 2:17-29

ROMEINE 2:17-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jy dra die naam van ’n Jood. Jy vertrou daarop dat jy oor die wet van God beskik en jy spog daarmee dat jy ’n spesiale verhouding met God het. Ja, jy weet wat God van jou verwag; jy kan goed tussen reg en verkeerd onderskei omdat jy wetsonderrig ontvang het. Jy beskou jouself as ’n gids vir die blindes, ’n ligbaken vir mense wat in die donker verkeer – sonder God. Jy dink jy kan die onkundiges onderrig en die beginners touwys maak omdat die wet vir jou die beliggaming van alle kennis en waarheid is. Hoe is dit dan dat jy wat vir ander leermeester speel, nie jou eie lesse ernstig opneem nie? Jy wat preek dat ’n mens nie mag steel nie, steel jy nie ook self nie? Jy wat sê dat ’n mens nie egbreuk mag pleeg nie, maak jy jou nie ook daaraan skuldig nie? Jy wat die afgode verafsku, doen jy nie ook mee aan die berowing van die tempels van die nie-Jode nie? Ja, jy wat jou op God se wet beroem – jy beroof God van sy eer deurdat jy self sy wet oortree! Geen wonder nie dat die Skrif sê: “Julle veroorsaak dat God se Naam onder die nie-Joodse nasies sleggemaak word.” Die besnydenis beteken wel vir jou iets as jy God se wet gehoorsaam. Maar as jy die wet oortree, is jy niks beter daaraan toe as ’n onbesnede nie-Jood nie. En as die onbesnede nie-Jode die bepalings van die wet nakom, sal God hulle dan nie beskou as besnedenes nie? Ja, as iemand wat kragtens geboorte onbesnede is, tog God se wet gehoorsaam, sal dit selfs téén jou tel – jy wat met die letter van die wet, besnydenis en al, tog God se wet verbreek! Jy is nie ’n ware Jood bloot omdat jy in die openbaar as ’n Jood bekend staan of omdat jy uitwendig besny is nie. Inteendeel, die ware Jood is dié een wat dit in sy binneste is. En die ware besnydenis is nie dié een wat aan jou liggaam verrig word nie; nee, dit is die besnydenis van jou hárt wat deur die Gees van God verrig word, nie deur wetsvoorskrifte nie. Só ’n persoon ontvang lof – nie van mense nie, maar van God.

ROMEINE 2:17-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jy noem jouself tog 'n Jood, jy maak staat op die wet en jy beroem jou op God. Jy ken sy wil en onderskei die dinge wat saak maak, omdat jy uit die wet onderrig word. Jy is daarvan oortuig dat jy 'n gids vir die blindes is, 'n lig vir diegene in die duisternis, 'n leermeester vir die onkundiges, 'n onderwyser vir klein kindertjies, omdat jy in die wet die beliggaming van kennis en waarheid het. Jy dan, wat iemand anders onderrig, onderrig jy nie jouself nie? Jy wat verkondig dat 'n mens nie mag steel nie, steel jy self? Jy wat sê 'n mens mag nie egbreuk pleeg nie, pleeg jy egbreuk? Jy wat die afgode verafsku, pleeg jy tempelroof? Jy wat jou beroem op die wet, jy doen God oneer aan deur die wet te oortree. Want “die Naam van God word deur julle toedoen onder die heidene belaster”, soos daar geskryf staan. Die besnydenis is inderdaad van nut as jy die wet nakom, maar as jy 'n oortreder van die wet is, het jou besnedenheid onbesnedenheid geword. En as onbesnede mense die voorskrifte van die wet uitvoer, sal hulle onbesnedenheid dan nie tot besnedenheid gereken word nie? Boonop sal die mense wat van nature onbesnede is en tog die wet nakom, oordeel oor jou, wat ten spyte van die letter van die wet en die besnydenis 'n wetsoortreder is. Want om 'n Jood te wees, is nie iets uiterliks nie, en besnydenis is nie iets wat uiterlik aan die liggaam geskied nie; inteendeel, iemand is innerlik 'n Jood en besnydenis is iets van die hart, geestelik, nie letterlik nie. Só iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.

ROMEINE 2:17-29 Bybel vir almal (ABA)

Jy sê jy is 'n Jood, jy sê God se wette is vir jou baie belangrik en jy spog en sê God is jou God. Jy weet wat God wil hê jy moet doen, jy weet wat is die regte dinge om te doen, want mense leer vir jou wat die wette sê. Jy dink jy kan ander mense help soos 'n mens iemand help wat blind is of soos 'n mens lig maak vir mense wat in die donker is. Jy dink jy is soos iemand wat vir mense leer, mense wat niks verstaan nie. Jy dink jy is soos 'n onderwyser wat vir kindertjies leer. Jy dink dat alles wat 'n mens moet weet in God se wette is en dat al die waarheid in die wette is, en jy hét daardie wette. Maar jy dink verkeerd. Jy leer vir ander mense, maar jy leer nie vir jouself nie. Jy sê vir ander mense hulle mag nie steel nie, maar jy self steel. Jy sê vir ander mense hulle mag nie egbreuk pleeg nie, maar jy self pleeg egbreuk. Jy sê jy haat afgode, maar jy steel goed uit die afgode se tempels. Jy spog omdat jy God se wette het, maar jy doen nie wat die wette sê nie en so wys jy dat jy nie vir God respekteer nie. Daarom gebeur wat in die Ou Testament geskryf is. Daar is geskryf: Julle doen verkeerde dinge, en daarom praat die heidene sleg van God. As jy doen wat God se wette sê, dan is dit goed dat jy besny is. Maar as jy nie doen wat God se wette sê nie, dan beteken dit niks dat jy besny is nie, dan is jy soos die mense wat nie besny is nie. As mense nie besny is nie en hulle doen wat God se wette sê, dan sal God sê dit maak nie saak dat hulle nie besny is nie. Hulle is dan vir God dieselfde soos die mense wat besny is. Die mense wat nie besny is nie en wat doen wat God se wette sê, sal wys dat jy verkeerd is. Jy het die wette van God en jy is besny, maar jy doen nie wat die wette sê nie. Wie is die ware Jode? Dit is nie die mense wat vir ander mense lyk soos Jode nie. Nee, hulle moet in hulle hárte Jode wees. As mense se liggame besny is, dan is hulle nog nie regtig besny nie. Hulle hárte moet besny wees. Dit beteken: Dit is nie belangrik dat mense se liggame besny is nie, dit is belangrik dat die Heilige Gees in hulle harte is. Dán sal Gód hulle prys, nie ander mense nie.

ROMEINE 2:17-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

KYK, jy dra die naam van Jood en steun op die wet en beroem jou op God, en jy ken sy wil en onderskei die dinge waar dit op aankom, omdat jy uit die wet onderrig word, en jy is oortuig dat jy 'n leidsman is van blindes, 'n lig vir die wat in duisternis is, 'n opvoeder van onverstandiges, 'n leermeester van onervarenes, omdat jy die beliggaming van die kennis en die waarheid in die wet het — jy dan, wat 'n ander leer, leer jy jouself nie? Jy wat preek dat 'n mens nie mag steel nie, steel jy? Jy wat sê dat 'n mens nie owerspel mag pleeg nie, pleeg jy owerspel? Jy wat 'n afsku van die afgode het, pleeg jy tempelroof? Jy wat jou op die wet beroem, onteer jy God deur die oortreding van die wet? Want, soos geskrywe is, die Naam van God word om julle ontwil onder die heidene gelaster. Want die besnydenis is wel nuttig as jy die wet onderhou; maar as jy 'n oortreder van die wet is, het jou besnydenis onbesnedenheid geword. As die onbesnedene dan die verordeninge van die wet onderhou, sal sy onbesnedenheid dan nie as besnydenis gereken word nie? En sal hy wat van nature onbesnede is en die wet volbring, jou nie oordeel wat ondanks letter en besnydenis 'n oortreder van die wet is nie? Want nie hý is 'n Jood wat dit in die openbaar is nie, en nie dít is besnydenis wat dit in die openbaar in die vlees is nie; maar hy is 'n Jood wat dit in die verborgene is, en besnydenis is dié van die hart, in die gees, nie na die letter nie. Sy lof is nie uit mense nie, maar uit God.

ROMEINE 2:17-29 Afrikaans 1983 (AFR83)

Jy, jy sê jy is 'n Jood, jy verlaat jou op die wet van Moses, jy beroem jou daarop dat God jou God is, jy ken sy wil en jy onderskei die dinge waar dit werklik op aankom, omdat jy deur die wet onderrig word. Jy is daarvan oortuig dat jy 'n gids vir die blindes is, 'n lig vir dié wat in die duisternis is, 'n leermeester van dié wat onkundig is, 'n onderwyser van dié wat niks weet nie, omdat die wet vir jou die samevatting is van kennis en waarheid – jy dan, wat 'n ander leer, leer jy jouself? Jy wat preek dat 'n mens nie mag steel nie, steel jy nie? Jy wat sê 'n mens mag nie egbreuk pleeg nie, pleeg jy nie egbreuk nie? Jy wat 'n afsku het van afgode, beroof jy nie hulle tempels nie? Jy wat jou op die wet beroem, doen jy God nie oneer aan deur sy wet te oortree nie? Inderdaad, soos daar geskrywe staan, “as gevolg van julle optrede word die Naam van God deur die heidennasies belaster.” Die besnydenis het waarde alleen as jy die wet van Moses onderhou. Maar as jy die wet voortdurend oortree, is jou besnydenis niks anders as onbesnedenheid nie. As die onbesnedene die voorskrifte van die wet onderhou, sal God dan nie sy onbesnedenheid as besnedenheid reken nie? Ja, iemand wat kragtens sy afkoms 'n onbesnedene is, maar tog die wet onderhou, sal jou selfs veroordeel, vir jou wat met wetsvoorskrifte en besnydenis en al die wet oortree. Nie hy is 'n Jood wat dit uiterlik is nie, en nie dit is besnedenheid wat uiterlik aan die liggaam gedoen is nie. Nee, hy is 'n Jood wat dit innerlik is, en dit is besnedenheid wat in die hart gedoen is deur die Gees, nie volgens die wetsvoorskrifte nie. So iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.

ROMEINE 2:17-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Jy noem jouself tog 'n Jood, jy maak staat op die wet en jy beroem jou op God. Jy ken sy wil en onderskei die dinge wat saak maak, omdat jy uit die wet onderrig word. Jy is daarvan oortuig dat jy 'n gids vir die blindes is, 'n lig vir diegene in die duisternis, 'n leermeester vir die onkundiges, 'n onderwyser vir klein kindertjies, omdat jy in die wet die beliggaming van kennis en waarheid het. Jy dan, wat iemand anders onderrig, onderrig jy nie jouself nie? Jy wat verkondig dat 'n mens nie mag steel nie, steel jy self? Jy wat sê 'n mens mag nie egbreuk pleeg nie, pleeg jy egbreuk? Jy wat die afgode verafsku, pleeg jy tempelroof? Jy wat jou beroem op die wet, jy doen God oneer aan deur die wet te oortree. Want “die Naam van God word deur julle toedoen onder die heidene belaster”, soos daar geskryf staan. Die besnydenis is inderdaad van nut as jy die wet nakom, maar as jy 'n oortreder van die wet is, het jou besnedenheid onbesnedenheid geword. En as onbesnede mense die voorskrifte van die wet uitvoer, sal hulle onbesnedenheid dan nie tot besnedenheid gereken word nie? Boonop sal die mense wat van nature onbesnede is en tog die wet nakom, oordeel oor jou, wat ten spyte van die letter van die wet en die besnydenis 'n wetsoortreder is. Want om 'n Jood te wees, is nie iets uiterliks nie, en besnydenis is nie iets wat uiterlik aan die liggaam geskied nie; inteendeel, iemand is innerlik 'n Jood en besnydenis is iets van die hart, geestelik, nie letterlik nie. Só iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.

ROMEINE 2:17-29 Die Boodskap (DB)

Jy spog so graag oor jou Joodse afkoms en jou wet. Jy vertel vir almal dat God jou God is en dat jy sy wil ken. Boonop maak jy asof jy presies weet wat reg en verkeerd is omdat jy die wet op die punte van jou vingers ken. Omdat jy so danig belangrik is in jou eie oë, het jy jouself aangestel om mense wat nog in die donker rondlê na die lig toe te lei. Jy dink dat jy net die regte een is om die blindes na God toe te bring. Jy beskou jouself as die groot leermeester van almal wat niks weet nie, as die onderwyser van almal wat nog maar kinders in die geloof is. Jy dink dat jy al die kennis en waarheid in pag het. Maar ek wil jou ’n vraag vra. Jy wat so vinnig is om ander mense te leer hoe hulle moet leef, hoekom doen jy nie ’n slag wat jy leer nie? Jy preek graag vir ander dat hulle nie mag steel nie. Maar wat van jou? Steel jy nie? Jy sê dat ’n mens nie ontrou aan jou huweliksmaat mag wees nie. Wat van jou? Maak jy jou nie skuldig aan ongeoorloofde seksuele verhoudings nie? Jy vertel hoe jy die afgode haat. Maar intussen leef jy net soos daardie spul wat hierdie afgode aanbid. Jy spog graag oor jou groot kennis van die wet. Tog oortree jy dit. So maak jy ’n bespotting van God se goeie Naam. Dit is oor mense soos jy dat die profeet geskryf het: “Julle sondes maak dat ongelowiges allerhande lasterlike dinge oor God sê.” Jy sê dat jy die merkteken van die besnydenis aan jou liggaam dra. Natuurlik is dit belangrik, maar dan net as jy álles doen wat die wet van jou vra. As jy aan die wet ongehoorsaam is, kon jy maar net sowel nie besny gewees het nie. Die omgekeerde is ook waar: wanneer mense wat nie besny is nie, doen wat God in sy wet vra, is hulle in sy oë besny. Op die ou end gaan hierdie mense wat nie besny is nie nog oor jou oordeel, want met jou wet en jou besnydenis doen jy steeds nie wat God se wet vra nie. Verstaan jy dan nie dat daardie teken aan jou lyf nog nie van jou ’n ware Israeliet maak nie? ’n Ware Jood is iemand wie se lewe van binne af verander het. Dit is iemand wie se hart deur God besny is. Jy is nie ’n Jood bloot omdat jy die regte afkoms het nie. Glad nie. Leef daarom so dat God trots sal wees op jou.