ROMEINE 2:12-16
ROMEINE 2:12-16 Bybel vir almal (ABA)
God het nie sy wette vir al die mense gegee nie. Daar is mense wat nie God se wette het nie. As húlle sonde doen, dan sal hulle verlore gaan. Maar party mense het God se wette. As húlle sonde doen, dan wys die wette dat hulle sonde gedoen het en dat God hulle sal straf. Want God spreek nie mense vry omdat hulle die wette ken nie. God spreek hulle vry as hulle dóén wat die wette sê. Die heidene het nie God se wette nie, maar partymaal besluit hulle self wat reg is en dan doen hulle dinge wat die wette sê. Hulle het nie God se wette nie, maar hulle lewe dan soos mense wat God se wette het. Hulle doen dinge wat wys dat hulle God se wette in hulle harte het. Hulle weet self wat is reg en wat is verkeerd, en hulle kan vir hulleself sê dat hulle reg doen of dat hulle verkeerd doen. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer God vir Christus Jesus sê dat Hy moet kyk na al die slegte dinge wat mense gedink het, en dat Hy hulle moet oordeel. Dit is wat die goeie boodskap sê, die boodskap wat ek preek.
ROMEINE 2:12-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Want almal wat sonder wet gesondig het, sal ook sonder wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word; omdat nie die hoorders van die wet by God regverdig is nie, maar die daders van die wet geregverdig sal word. Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself 'n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig, in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie.
ROMEINE 2:12-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Almal wat sonder die wet van Moses gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, oor hulle sal volgens die wet geoordeel word. Nie dié wat die wet hoor, word deur God vrygespreek nie, maar dié wat doen wat die wet sê, sal vrygespreek word. Wanneer heidene, wat nie die wet het nie, tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself 'n wet al het hulle nie die wet nie. Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan. Ook hulle gewetens getuig daarvan wanneer hulle in 'n innerlike tweestryd deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word. Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.
ROMEINE 2:12-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Almal wat sonder die wet gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan, maar almal wat binne die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word. Dit is tog nie die blote hoorders van die wet wat voor God regverdig is nie, maar dit is die daders van die wet wat geregverdig sal word. Want wanneer die heidene, wat nie oor die wet beskik nie, van nature tog die vereistes van die wet nakom, is hulle vir hulleself 'n wet, al het hulle nie die wet nie. Hulle wys duidelik dat die uitvoering van die wet in hulle harte geskryf staan, en hulle gewetens bevestig dit; en hulle teenstrydige gedagtes sal hulle soms aankla, en soms verontskuldig, op die dag wanneer God die verborge dinge van die mens, volgens my evangelie, deur •Christus Jesus sal oordeel.
ROMEINE 2:12-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want almal wat sonder wet gesondig het, sal ook sonder wet omkom; en almal wat in die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word; (Want nie die hoorders van die wet is regverdig voor God nie, maar die daders van die wet sal geregverdig word. Want wanneer die heidene, wat nie die wet het nie, van nature die dinge doen wat in die wet vervat is, is hierdie, sonder die wet, vir hulleself 'n wet; wat die werk van die wet verkondig wat in hulle harte geskrywe is, terwyl hulle gewete ook getuig, en hulle gedagtes die gemene terwyl hulle mekaar beskuldig of anders verontskuldig.) In die dag wanneer God die geheime van die mense deur Jesus Christus sal oordeel volgens my evangelie.
ROMEINE 2:12-16 Die Boodskap (DB)
As jy God se wet oortree, is die doderyk jou voorland. Uit en gedaan. Dit help nie om te sê dat jy nie aan Israel behoort nie en dat jy nie God se wet ken nie. Hy sal jou ook straf as jy teen sy wil leef. As jy egter aan die volk van Israel behoort en teen God sondig, sal Hy jou veroordeel volgens alles wat in die wet geskryf staan. Moenie dink dat God mense van hulle sondes vryspreek bloot net omdat hulle gereeld na die wet luister nie. Nee, Hy spreek net daardie mense vry wat alles doen wat die wet sê. Mense wat nie aan die volk van Israel behoort nie, is natuurlik nie so gelukkig om God se wet op skrif te hê nie. Wanneer hulle egter doen wat God in sy wet vra, wys hulle mos dat die wet vir almal op aarde geld. Mense het nie altyd ’n wet op papier nodig om te weet wat reg is in God se oë nie. God het dit wat in die wet staan ook in die binneste neergeskryf van mense wat nie aan Israel behoort nie. Daarom worstel hulle ook gedurig in hulle binneste met die groot vraag oor wat reg en verkeerd is. Op die laaste dag wanneer God sy finale uitspraak gee oor die diepste geheime in ons elkeen se lewe, sal almal kan sien dat hierdie mense ook gedoen het wat Hy vra. Hierdie goeie nuus wat ek met julle deel, het ek van Christus Jesus ontvang.
ROMEINE 2:12-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Want almal wat sonder die wet gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan. En almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet veroordeel word. Want dit is nie die blote aanhoor van die wet wat mense vrymaak van God se oordeel nie; dit is hulle wat God se wet gehoorsaam wat God se vryspraak ontvang. Wat nou die nie-Jode betref wat nie God se geskrewe wet het nie – as hulle instinktief die vereistes van die wet nakom, selfs al het hulle nie die wet nie, stel hulle vir hulleself ’n wet. Hulle optrede toon duidelik dat die vereistes van die wet in hulle harte geskryf staan. Boonop bevestig hulle gewetens dit deurdat hulle gedagtes hulle óf aankla óf vryspreek. So sal dit ook wees op die oordeelsdag wanneer God, deur Jesus Christus, sal oordeel oor die verborge dieptes van ons lewe. Dít is deel van die Goeie Nuus wat ek verkondig.