ROMEINE 2:1-4
ROMEINE 2:1-4 Bybel vir almal (ABA)
Jy sê ander mense doen dinge wat verkeerd is, maar jy, ja jý, is ook skuldig. Jy sê húlle doen verkeerde dinge, maar jý doen dieselfde dinge. As jy sê hulle doen verkeerde dinge, dan beteken dit dat jy ook skuldig is, want jy doen dieselfde verkeerde dinge. Ons weet dit is reg dat God mense straf wat daardie verkeerde dinge doen. Jy, ja jý, sê ander mense doen dinge wat verkeerd is, maar jy doen dieselfde dinge. Jy moet weet dat God jou ook sal straf, jy sal nie kan wegvlug nie. God is baie goed, Hy straf mense nie gou nie, Hy is geduldig, want Hy wil hê jy moet lewe soos Hy sê. Maar dit alles is nie vir jou belangrik nie.
ROMEINE 2:1-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DAAROM is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy 'n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge. En ons weet dat die oordeel van God na waarheid is oor die wat sulke dinge doen. En meen jy, o mens wat hulle oordeel wat sulke dinge doen, en dit self doen, dat jy die oordeel van God sal ontvlug? Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie?
ROMEINE 2:1-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat 'n ander veroordeel, wie jy ook al is. Deurdat jy oor 'n ander 'n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat veroordeel, doen dieselfde dinge. Ons weet dat God regverdig handel wanneer Hy mense wat sulke dinge doen, veroordeel. Maar jy, mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen, en jy doen dit self, verbeel jy jou dat jy aan die oordeel van God sal ontkom? God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?
ROMEINE 2:1-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daarom is daar vir jou, o mens, wat oordeel, wie jy ook al is, geen verontskuldiging nie. Met die oordeel wat jy oor die ander persoon uitspreek, veroordeel jy immers jouself, omdat jy wat oordeel, dieselfde doen. Ons weet dat God se oordeel na waarheid oor mense kom wat sulke dinge doen. Dink jy, o mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen terwyl jy dieselfde dinge doen, dat jy God se oordeel sal vryspring? Of verag jy die rykdom van sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld, en besef jy nie dat God se goedheid jou tot bekering wil bring nie?
ROMEINE 2:1-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daarom is jy onverskoonbaar, o mens, wie jy ook al is wat oordeel; want waarin jy 'n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge. Maar ons is seker dat die oordeel van God na waarheid is oor die wat sulke dinge doen. En dink jy, o mens, wat die wat sulke dinge doen, oordeel, en dieselfde doen, dat jy die oordeel van God sal ontvlug? Of verag jy die rykdom van sy goedheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid; weet jy nie dat die goedheid van God jou tot bekering lei nie?
ROMEINE 2:1-4 Die Boodskap (DB)
Al hierdie mense is op pad na die doderyk. Maar dit gee jou natuurlik nie die reg om links en regs oor ander te oordeel nie. Op die ou end is jy net so skuldig soos hulle. Jy wat so maklik die vinger na ander mense wys, doen jy nie maar presies dieselfde dinge as hulle nie? God weet wat ons almal doen. Omdat Hy die ware feite tot sy beskikking het, sal Hy eendag die regte uitspraak oor ons almal lewer. Ek sê weer: jy moet baie versigtig wees om nie die vinger na ander mense te wys terwyl jy dieselfde dinge as hulle aanvang nie. Jy sal God se oordeel glad nie vryspring nie. God is baie goed vir ons. Hy is geduldig met ons swakhede. Maar dit beteken glad nie dat Hy jou sondes oorsien omdat Hy so goed is vir jou nie. God is net geduldig met jou omdat Hy wil hê dat jy jou tot Hom moet bekeer.
ROMEINE 2:1-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Jy sê dalk: “Dis darem verskriklike mense wat jy beskryf!” Jy is egter self sonder verontskuldiging. Deurdat jy ’n oordeel oor ander uitspreek, veroordeel jy immers jouself, want eintlik doen jy dieselfde soort dinge. Daarom is jy ook sonder verontskuldiging. Ons weet tog dat God ’n suiwer oordeel sal vel oor enigiemand wat met sulke praktyke besig is. Dink jy dan – jy wat ander veroordeel wat hierdie dinge doen, en tog ook self daarmee besig is – dat jy God se oordeel sal vryspring? God is so oorvloedig in sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld teenoor jou. Minag jy dit werklikwaar? Besef jy nie dat God so goed vir jou is omdat Hy vir jou tyd wil gee om tot inkeer te kom nie?