ROMEINE 2:1-16

ROMEINE 2:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Jy sê ander mense doen dinge wat verkeerd is, maar jy, ja jý, is ook skuldig. Jy sê húlle doen verkeerde dinge, maar jý doen dieselfde dinge. As jy sê hulle doen verkeerde dinge, dan beteken dit dat jy ook skuldig is, want jy doen dieselfde verkeerde dinge. Ons weet dit is reg dat God mense straf wat daardie verkeerde dinge doen. Jy, ja jý, sê ander mense doen dinge wat verkeerd is, maar jy doen dieselfde dinge. Jy moet weet dat God jou ook sal straf, jy sal nie kan wegvlug nie. God is baie goed, Hy straf mense nie gou nie, Hy is geduldig, want Hy wil hê jy moet lewe soos Hy sê. Maar dit alles is nie vir jou belangrik nie. Jy luister nie na God nie, jy lewe nie soos God wil hê nie. Daarom sal God jou straf op daardie dag wanneer Hy al die mense sal straf, daardie dag wanneer almal sal kan sien dat sy straf reg is. God weet wat elke mens gedoen het en Hy sal elke mens oordeel oor wat hy gedoen het. Party mense hou aan om goeie dinge te doen, want hulle wil graag hê God moet hulle eendag soos konings maak. Hulle wil hê mense moet hulle respekteer, en hulle wil aanhou lewe. God sal vir hulle die ewige lewe gee. Maar party mense is selfsugtig. Hulle weet wat reg is, maar hulle doen dit nie. Hulle doen graag dinge wat verkeerd is. God sal kwaad bly vir hulle en Hy sal hulle straf. Ja, God sal ál die mense straf wat verkeerd doen. Hy sal hulle laat swaarkry, en dit sal sleg gaan met hulle, met hulle almal, eerste die Jode en dan die mense wat nie Jode is nie. Maar God sal baie goed wees vir die mense wat goeie dinge doen. Hulle sal soos konings wees, almal sal hulle respekteer, en God sal vir hulle vrede gee, eerste vir die Jode en dan vir die mense wat nie Jode is nie. Ja, God dink nie een mens is belangriker as 'n ander mens nie. God het nie sy wette vir al die mense gegee nie. Daar is mense wat nie God se wette het nie. As húlle sonde doen, dan sal hulle verlore gaan. Maar party mense het God se wette. As húlle sonde doen, dan wys die wette dat hulle sonde gedoen het en dat God hulle sal straf. Want God spreek nie mense vry omdat hulle die wette ken nie. God spreek hulle vry as hulle dóén wat die wette sê. Die heidene het nie God se wette nie, maar partymaal besluit hulle self wat reg is en dan doen hulle dinge wat die wette sê. Hulle het nie God se wette nie, maar hulle lewe dan soos mense wat God se wette het. Hulle doen dinge wat wys dat hulle God se wette in hulle harte het. Hulle weet self wat is reg en wat is verkeerd, en hulle kan vir hulleself sê dat hulle reg doen of dat hulle verkeerd doen. Dit sal gebeur op daardie dag wanneer God vir Christus Jesus sê dat Hy moet kyk na al die slegte dinge wat mense gedink het, en dat Hy hulle moet oordeel. Dit is wat die goeie boodskap sê, die boodskap wat ek preek.

ROMEINE 2:1-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

DAAROM is jy, o mens wat oordeel, wie jy ook mag wees, sonder verontskuldiging; want waarin jy 'n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge. En ons weet dat die oordeel van God na waarheid is oor die wat sulke dinge doen. En meen jy, o mens wat hulle oordeel wat sulke dinge doen, en dit self doen, dat jy die oordeel van God sal ontvlug? Of verag jy die rykdom van sy goedertierenheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid, omdat jy nie besef dat die goedertierenheid van God jou tot bekering wil lei nie? Maar ooreenkomstig jou verhardheid en onbekeerlike hart vergader jy vir jou toorn as 'n skat in die dag van die toorn en die openbaring van die regverdige oordeel van God wat elkeen sal vergeld na sy werke: aan die wat deur volharding in goeie werke heerlikheid, eer en onverganklikheid soek — die ewige lewe; maar aan die wat eiesinnig en aan die waarheid ongehoorsaam, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is — grimmigheid en toorn; verdrukking en benoudheid oor die siel van elke mens wat kwaad doen, oor die Jood eerste en ook oor die Griek; maar heerlikheid en eer en vrede vir elkeen wat goed doen, vir die Jood eerste en ook vir die Griek. Want daar is geen aanneming van die persoon by God nie. Want almal wat sonder wet gesondig het, sal ook sonder wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word; omdat nie die hoorders van die wet by God regverdig is nie, maar die daders van die wet geregverdig sal word. Want wanneer die heidene, wat geen wet het nie, van nature die dinge van die wet doen, is hulle vir hulleself 'n wet, al het hulle geen wet nie; omdat hulle toon dat die werk van die wet in hulle harte geskrywe staan, terwyl hulle gewete saam getuienis gee en die gedagtes mekaar onderling beskuldig of ook verontskuldig, in die dag wanneer God die verborge dinge van die mense deur Jesus Christus sal oordeel, volgens my evangelie.

ROMEINE 2:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou, mens wat 'n ander veroordeel, wie jy ook al is. Deurdat jy oor 'n ander 'n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat veroordeel, doen dieselfde dinge. Ons weet dat God regverdig handel wanneer Hy mense wat sulke dinge doen, veroordeel. Maar jy, mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen, en jy doen dit self, verbeel jy jou dat jy aan die oordeel van God sal ontkom? God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie? Maar deur jou verharding en jou onbekeerlike hart is jy besig om vir jouself straf op te gaar vir die oordeelsdag, wanneer God sy regverdige oordeel sal uitspreek. Hy sal elkeen vergeld volgens sy dade: aan dié wat in goeddoen volhard en op dié manier soek na ewige heerlikheid, eer en onverganklikheid, gee Hy die ewige lewe; maar dié wat uit selfsug ongehoorsaam is aan die waarheid en toegee aan die ongeregtigheid, straf Hy in sy toorn. Lyding en benoudheid bring Hy oor die lewe van elke mens wat kwaad doen, in die eerste plek oor dié van die Jood, maar ook oor dié van die nie-Jood. Ewige heerlikheid, eer en vrede skenk Hy aan elkeen wat goed doen, in die eerste plek aan die Jood, maar ook aan die nie-Jood. God trek immers niemand voor nie. Almal wat sonder die wet van Moses gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan; en almal wat onder die wet gesondig het, oor hulle sal volgens die wet geoordeel word. Nie dié wat die wet hoor, word deur God vrygespreek nie, maar dié wat doen wat die wet sê, sal vrygespreek word. Wanneer heidene, wat nie die wet het nie, tog vanself dinge doen wat die wet vereis, is hulle vir hulleself 'n wet al het hulle nie die wet nie. Die optrede van sulke mense bewys dat die eise van die wet in hulle harte geskrywe staan. Ook hulle gewetens getuig daarvan wanneer hulle in 'n innerlike tweestryd deur hulle gedagtes aangekla of vrygespreek word. Dit sal aan die lig kom op die dag wanneer God deur Christus Jesus oor die verborge dinge van die mense sal oordeel, ooreenkomstig die evangelie wat ek verkondig.

ROMEINE 2:1-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Daarom is daar vir jou, o mens, wat oordeel, wie jy ook al is, geen verontskuldiging nie. Met die oordeel wat jy oor die ander persoon uitspreek, veroordeel jy immers jouself, omdat jy wat oordeel, dieselfde doen. Ons weet dat God se oordeel na waarheid oor mense kom wat sulke dinge doen. Dink jy, o mens, wat ander veroordeel wat sulke dinge doen terwyl jy dieselfde dinge doen, dat jy God se oordeel sal vryspring? Of verag jy die rykdom van sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld, en besef jy nie dat God se goedheid jou tot bekering wil bring nie? Deur jou hardkoppigheid en onbekeerlike hart is jy besig om toorn teen jouself op te stapel op die dag van toorn, wanneer die regverdige oordeel van God geopenbaar sal word. “Hy sal elkeen beloon volgens sy dade:” die ewige lewe aan diegene wat deur volgehoue goeie werke streef na heerlikheid, eer en onsterflikheid, maar toorn en gramskap aan diegene wat uit eiesinnigheid ongehoorsaam is aan die waarheid en gehoorsaam aan die ongeregtigheid. Verdrukking en benoudheid wag vir elke mens wat aanhou kwaad doen, eerstens vir die Jood, maar ook vir die Griek. Maar heerlikheid, eer en vrede wag vir elkeen wat die goeie doen, eerstens vir die Jood, maar ook vir die Griek. Want God beoordeel niemand volgens sy uiterlike nie. Almal wat sonder die wet gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan, maar almal wat binne die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word. Dit is tog nie die blote hoorders van die wet wat voor God regverdig is nie, maar dit is die daders van die wet wat geregverdig sal word. Want wanneer die heidene, wat nie oor die wet beskik nie, van nature tog die vereistes van die wet nakom, is hulle vir hulleself 'n wet, al het hulle nie die wet nie. Hulle wys duidelik dat die uitvoering van die wet in hulle harte geskryf staan, en hulle gewetens bevestig dit; en hulle teenstrydige gedagtes sal hulle soms aankla, en soms verontskuldig, op die dag wanneer God die verborge dinge van die mens, volgens my evangelie, deur •Christus Jesus sal oordeel.

ROMEINE 2:1-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Daarom is jy onverskoonbaar, o mens, wie jy ook al is wat oordeel; want waarin jy 'n ander oordeel, veroordeel jy jouself; want jy wat oordeel, doen dieselfde dinge. Maar ons is seker dat die oordeel van God na waarheid is oor die wat sulke dinge doen. En dink jy, o mens, wat die wat sulke dinge doen, oordeel, en dieselfde doen, dat jy die oordeel van God sal ontvlug? Of verag jy die rykdom van sy goedheid en verdraagsaamheid en lankmoedigheid; weet jy nie dat die goedheid van God jou tot bekering lei nie? Maar, na u hardheid en u onbekeerlike hart, moet u toorn vir uself skat teen die dag van toorn en openbaring van die regverdige oordeel van God; Wie sal elkeen vergeld volgens sy dade: Aan hulle wat deur geduldige volharding in weldade soek na heerlikheid en eer en onsterflikheid, die ewige lewe: Maar aan die wat twisgierig is en die waarheid nie gehoorsaam nie, maar aan die ongeregtigheid gehoorsaam is, verontwaardiging en toorn, Verdrukking en benoudheid oor elke siel van die mens wat kwaad doen, eerste van die Jood en ook van die nie-Jood; Maar eer, eer en vrede vir elke man wat goed doen, eerste vir die Jood en ook vir die heiden; Want daar is geen aansien vir die persoon by God nie. Want almal wat sonder wet gesondig het, sal ook sonder wet omkom; en almal wat in die wet gesondig het, sal deur die wet geoordeel word; (Want nie die hoorders van die wet is regverdig voor God nie, maar die daders van die wet sal geregverdig word. Want wanneer die heidene, wat nie die wet het nie, van nature die dinge doen wat in die wet vervat is, is hierdie, sonder die wet, vir hulleself 'n wet; wat die werk van die wet verkondig wat in hulle harte geskrywe is, terwyl hulle gewete ook getuig, en hulle gedagtes die gemene terwyl hulle mekaar beskuldig of anders verontskuldig.) In die dag wanneer God die geheime van die mense deur Jesus Christus sal oordeel volgens my evangelie.

ROMEINE 2:1-16 Die Boodskap (DB)

Al hierdie mense is op pad na die doderyk. Maar dit gee jou natuurlik nie die reg om links en regs oor ander te oordeel nie. Op die ou end is jy net so skuldig soos hulle. Jy wat so maklik die vinger na ander mense wys, doen jy nie maar presies dieselfde dinge as hulle nie? God weet wat ons almal doen. Omdat Hy die ware feite tot sy beskikking het, sal Hy eendag die regte uitspraak oor ons almal lewer. Ek sê weer: jy moet baie versigtig wees om nie die vinger na ander mense te wys terwyl jy dieselfde dinge as hulle aanvang nie. Jy sal God se oordeel glad nie vryspring nie. God is baie goed vir ons. Hy is geduldig met ons swakhede. Maar dit beteken glad nie dat Hy jou sondes oorsien omdat Hy so goed is vir jou nie. God is net geduldig met jou omdat Hy wil hê dat jy jou tot Hom moet bekeer. Maar as jy aanhou om in die sonde rond te lê, moet jy geen genade van Hom verwag nie. Hy weet baie goed hoe jy lewe. Jou sondes is teen dié tyd al hemelhoog opgestapel. Dag na dag word dit net meer. Wanneer die groot dag van God aanbreek - daardie dag wanneer Hy sy woede oor die sondes van die wêreld sigbaar kom wys en sy uitspraak oor ons almal kom lewer - sal Hy jou daaroor straf. God se oordeel sal absoluut regverdig wees. Hy kyk na elke ding wat ons doen. Op grond van ons dade sal God dan besluit waar ons die ewigheid gaan deurbring. Die ewige lewe wag op almal wat goed doen en wat aan Hom die eer gee. Mense wat hulle uiterste bes doen om God te gehoorsaam, sál die ewige lewe as ’n geskenk uit sy hand ontvang. Aan die ander kant: mense wat net vir hulleself leef en hulle glad nie aan God steur nie omdat hulle agter elke nuwe sonde aanhardloop, moet niks goeds verwag nie. Vir hulle wag daar net oordeel en straf. Daar lê ’n bitter moeilike tyd voor vir elkeen wat in sonde leef. Dit geld vir alle mense op aarde, Jode sowel as nie-Jode. Aan die ander kant wag daar ’n wonderlike tyd van vrede op almal wat doen wat God vra. Hy sal hulle met groot eer beklee. Dit geld ook vir alle mense, Jode sowel as nie-Jode. Mense se afkoms maak regtig nie vir God saak wanneer Hy oordeel nie. Hy trek niemand voor nie. As jy God se wet oortree, is die doderyk jou voorland. Uit en gedaan. Dit help nie om te sê dat jy nie aan Israel behoort nie en dat jy nie God se wet ken nie. Hy sal jou ook straf as jy teen sy wil leef. As jy egter aan die volk van Israel behoort en teen God sondig, sal Hy jou veroordeel volgens alles wat in die wet geskryf staan. Moenie dink dat God mense van hulle sondes vryspreek bloot net omdat hulle gereeld na die wet luister nie. Nee, Hy spreek net daardie mense vry wat alles doen wat die wet sê. Mense wat nie aan die volk van Israel behoort nie, is natuurlik nie so gelukkig om God se wet op skrif te hê nie. Wanneer hulle egter doen wat God in sy wet vra, wys hulle mos dat die wet vir almal op aarde geld. Mense het nie altyd ’n wet op papier nodig om te weet wat reg is in God se oë nie. God het dit wat in die wet staan ook in die binneste neergeskryf van mense wat nie aan Israel behoort nie. Daarom worstel hulle ook gedurig in hulle binneste met die groot vraag oor wat reg en verkeerd is. Op die laaste dag wanneer God sy finale uitspraak gee oor die diepste geheime in ons elkeen se lewe, sal almal kan sien dat hierdie mense ook gedoen het wat Hy vra. Hierdie goeie nuus wat ek met julle deel, het ek van Christus Jesus ontvang.

ROMEINE 2:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Jy sê dalk: “Dis darem verskriklike mense wat jy beskryf!” Jy is egter self sonder verontskuldiging. Deurdat jy ’n oordeel oor ander uitspreek, veroordeel jy immers jouself, want eintlik doen jy dieselfde soort dinge. Daarom is jy ook sonder verontskuldiging. Ons weet tog dat God ’n suiwer oordeel sal vel oor enigiemand wat met sulke praktyke besig is. Dink jy dan – jy wat ander veroordeel wat hierdie dinge doen, en tog ook self daarmee besig is – dat jy God se oordeel sal vryspring? God is so oorvloedig in sy goedheid, verdraagsaamheid en geduld teenoor jou. Minag jy dit werklikwaar? Besef jy nie dat God so goed vir jou is omdat Hy vir jou tyd wil gee om tot inkeer te kom nie? Maar nee, omdat jy so verhard is en in jou hart weier om tot inkeer te kom, is jy besig om vir jou ’n verskriklike oordeel op die oordeelsdag op te bou – daardie dag wanneer God, die regverdige regter, almal sal oordeel volgens wat hulle gedoen het. Aan dié wat met volharding aanhou om goed te doen, en op hierdie manier streef na die toekomstige heerlikheid, eer en onsterflikheid wat Hy vir hulle weggebêre het, sal Hy die ewige lewe gee. Maar dié wat hardkoppig weier om die waarheid te gehoorsaam en toegee aan die ongeregtigheid, sal Hy in sy woede straf. Daar wag swaarkry en benoudheid vir elke mens wat aanhou kwaad doen – in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood. Maar daar wag heerlikheid en eer en vrede vir elkeen wat aanhou met goeddoen – in die eerste plek vir die Jood, maar ook vir die nie-Jood. God trek immers niemand voor nie. Want almal wat sonder die wet gesondig het, sal ook sonder die wet verlore gaan. En almal wat onder die wet gesondig het, sal deur die wet veroordeel word. Want dit is nie die blote aanhoor van die wet wat mense vrymaak van God se oordeel nie; dit is hulle wat God se wet gehoorsaam wat God se vryspraak ontvang. Wat nou die nie-Jode betref wat nie God se geskrewe wet het nie – as hulle instinktief die vereistes van die wet nakom, selfs al het hulle nie die wet nie, stel hulle vir hulleself ’n wet. Hulle optrede toon duidelik dat die vereistes van die wet in hulle harte geskryf staan. Boonop bevestig hulle gewetens dit deurdat hulle gedagtes hulle óf aankla óf vryspreek. So sal dit ook wees op die oordeelsdag wanneer God, deur Jesus Christus, sal oordeel oor die verborge dieptes van ons lewe. Dít is deel van die Goeie Nuus wat ek verkondig.