ROMEINE 15:12-13
ROMEINE 15:12-13 Die Boodskap (DB)
Of soos Jesaja sê: “’n Baie belangrike persoon sal uit ons voorvader Isai se nageslag kom. Hy sal oor die hele aarde regeer. Almal sal hulle hoop en vertroue in Hom stel.” Ek bid dat God in wie julle al julle hoop stel, elke deeltjie van julle geloofslewe sal vol maak met blydskap en vreugde. Dan sal julle, deur die groot krag van die Heilige Gees in julle lewens, altyd oorvloedige hoop hê. Dan sal julle onwrikbaar vashou aan die Here, kom wat wil.
ROMEINE 15:12-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
En Jesaja sê op sy beurt: “Die erfgenaam van Dawid se troon sal na vore kom en Hy sal die heerskappy oor die nie-Joodse nasies oorneem. Op Hóm sal die nie-Joodse nasies hulle hoop vestig.” Ek bid dat dié God wat aan ons ’n toekomsverwagting gee, deur die geloof julle lewens met blydskap en vrede sal vul. Ja, mag julle lewens tot oorlopens toe vol verwagting word deur die kragtige werking van die Heilige Gees.
ROMEINE 15:12-13 Bybel vir almal (ABA)
En Jesaja sê: Die koning wat van die nageslag van Isai is, sal kom, en hy sal begin om oor die heidene te regeer, die heidene sal weet dat hy hulle sal red. God laat mense aanhou hoop. Ek bid dat Hy vir julle bly sal maak en dat Hy vir julle vrede sal gee, vir julle wat glo. Dan sal die Heilige Gees vir julle krag gee, en julle sal baie seker wees dat die dinge wat julle hoop, sal gebeur.
ROMEINE 15:12-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Jesaja sê ook: Die wortel van Ísai sal daar wees, en Hy wat opstaan om oor die nasies te heers, op Hom sal die nasies hoop. En mag die God van die hoop julle vervul met alle blydskap en vrede deur die geloof, dat julle oorvloedig kan wees in die hoop deur die krag van die Heilige Gees!
ROMEINE 15:12-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
En Jesaja sê ook: “Isai sal 'n nakomeling hê, en Hy sal opstaan om die nasies te regeer; op Hom sal die nasies hulle hoop vestig.” Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees!
ROMEINE 15:12-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
En Jesaja sê op sy beurt: “Daar sal 'n loot van Isai kom, en Hy sal opstaan om oor die nasies te regeer; en op Hom sal die nasies hoop.” Mag die God van hoop julle deur julle geloof met alle blydskap en vrede vervul, sodat julle hoop oorvloedig kan word deur die krag van die Heilige Gees.
ROMEINE 15:12-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En verder sê Jesaja: Daar sal 'n wortel van Isai wees, en hy wat sal opstaan om oor die heidene te heers; op Hom sal die heidene vertrou. En die God van hoop vervul julle met alle blydskap en vrede deur te glo, sodat julle oorvloedig kan wees in hoop deur die krag van die Heilige Gees.