ROMEINE 14:19-23
ROMEINE 14:19-23 Bybel vir almal (ABA)
Daarom moet ons dinge doen wat help dat daar vrede is, dinge wat ander gelowiges help om hulle geloof sterk te maak. Die dinge wat julle eet en drink moenie vir julle so belangrik wees dat dit die goeie dinge verwoes wat God wil doen nie. Julle moet onthou: Al die kos is rein, maar wanneer julle iets eet, en dit laat 'n ander gelowige sonde doen, dan doen julle verkeerd om dit te eet. Dit is beter om nie vleis te eet of wyn te drink of iets anders te doen wat ander gelowiges sonde laat doen nie. Julle glo dat julle weet wat julle mag doen en wat julle nie mag doen nie. Dan moet julle dit nie vir almal vertel nie, net God moet dit weet. Die mense wat iets doen en dink hulle doen reg en voel hulle is nie skuldig nie, is gelukkige mense. Maar wanneer mense iets eet en hulle twyfel of hulle dit mag doen, dan doen hulle verkeerd. Hoekom? Want hulle doen iets, maar hulle glo nie dat dit reg is nie. Wanneer mense glo iets is nie reg nie maar hulle doen dit, dan is dit sonde.
ROMEINE 14:19-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien. Moenie ter wille van voedsel die werk van God afbreek nie. Alles is wel rein, maar dit is verkeerd vir 'n mens om te eet as dit tot aanstoot is. Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie. Het jy geloof? Behou dit vir jouself voor die aangesig van God. Gelukkig is hy wat homself nie oordeel in wat hy vir geoorloof ag nie. Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.
ROMEINE 14:19-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder. Moenie oor kos afbreuk doen aan die werk van God nie. Alle kos is rein, maar dit is verkeerd om deur wat jy eet, aanstoot te gee. Dit is goed as 'n mens nie vleis eet of wyn drink of enigiets doen wat jou broer laat struikel nie. Laat jou oortuiging hieroor 'n saak tussen jou en God wees. Gelukkig is die man wat hom nie hoef te verwyt oor wat hy hom veroorloof nie. As iemand egter twyfel en tog eet, is hy klaar veroordeel omdat hy dit nie uit geloofsoortuiging doen nie. En enigiets wat 'n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde.
ROMEINE 14:19-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Kom ons streef dan na die dinge wat die onderlinge vrede en mekaar se opbou bevorder. Moenie ter wille van kos die werk van God tot niet maak nie. Alles is rein, maar dit is verkeerd om aanstoot te gee deur wat jy eet. Dit is goed om nie vleis te eet of wyn te drink, of enigiets te doen wat jou broer laat struikel nie. Hou vas aan die oortuiging wat jy by jouself voor God het. Gelukkig is hy wat homself nie veroordeel oor wat hy as toelaatbaar beskou nie. Hy wat egter twyfel wanneer hy eet, staan al klaar veroordeel, omdat hy dit nie uit geloofsoortuiging doen nie. Alles wat jy nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde.
ROMEINE 14:19-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Laat ons dan die dinge najaag wat tot vrede dien, en die dinge waarmee die een die ander kan opbou. Want voedsel vernietig nie die werk van God nie. Alle dinge is inderdaad rein; maar dit is sleg vir die man wat met aanstoot eet. Dit is goed om nie vleis te eet of wyn te drink of enigiets waardeur jou broer struikel of aanstoot neem of swak word nie. Het jy geloof? het dit vir jouself voor God. Gelukkig is hy wat homself nie veroordeel in wat hy toelaat nie. En hy wat twyfel, is veroordeel as hy eet, omdat hy nie uit die geloof eet nie; want alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.
ROMEINE 14:19-23 Die Boodskap (DB)
Kom ons doen ons uiterste bes om in vrede met mekaar te leef. Kom ons help om mekaar se geloof sterk te maak. Wat bereik ons as ons alles wat God in ons lewe opgebou het, gaan staan en afbreek oor ’n stukkie vleis? Ek sê weer: ’n mens kan alle kos eet. Maar as jy ander mense aanstoot gee deur dit wat jy eet, tree jy verkeerd op. As jy in die openbaar vleis eet of wyn drink of enigiets anders doen wat ander gelowiges laat struikel, is jy baie selfsugtig. Natuurlik het jy die reg om te glo soos jy glo. Maar onthou, dit is in die eerste plek ’n saak tussen God en jou. Dit is wonderlik as jy nie met ’n klomp skuldgevoelens opgeskeep sit oor hoe jy God dien nie. Maar as jy twyfel of dit wat jy doen reg is - as jy byvoorbeeld vleis eet terwyl jy nie weet of jy dit mag doen nie - is jy skuldig voor God. As dit wat jy doen nie uit jou geloofsoortuigings voortspruit nie, is dit sonde.
ROMEINE 14:19-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kom ons strewe dus na harmonie onder mekaar en na dit wat ons onderlinge geestelike opbou sal bevorder. Moenie langer toelaat dat die Here se werk afgebreek word en dit oor kos nie. Onthou, ’n mens kan alles eet, maar dit is sleg as jy deur iets wat jy eet ’n medegelowige laat struikel. ’n Mens behoort nie vleis te eet of wyn te drink of enigiets anders te doen wat ’n medegelowige laat struikel nie. Jy is dalk persoonlik daarvan oortuig dat jy niks verkeerds doen nie, maar hou dit liewer tussen jou en God. Gelukkig is jy as jy nie jouself hoef te verwyt oor wat jy weet op sigself reg is nie. Maar as jy twyfel en tog eet, staan jy veroordeel omdat jy nie volgens jou geloofsoortuiging handel nie. Alles wat jy nie uit volle geloofsoortuiging doen nie, is sonde.