ROMEINE 14:1-23
ROMEINE 14:1-23 Bybel vir almal (ABA)
Daar is gelowiges wat twyfel, hulle geloof is swak. Julle moet hulle aanvaar. Hulle dink miskien anders as julle oor party dinge en hulle dink hulle is reg. Julle moenie met hulle daaroor stry nie. Party gelowiges glo 'n mens mag alles eet. Maar party gelowiges se geloof is swak, en hulle dink 'n mens mag net groente eet. Die gelowiges wat alles eet, moenie dink dat die ander gelowiges nie belangrik is nie, die gelowiges wat nie alles eet nie. Die gelowiges wat nie alles eet nie, moenie sê die gelowiges wat alles eet, doen verkeerd nie, want God het die gelowiges wat alles eet, ook aanvaar. Dit is nie júlle wat mag besluit of 'n ander man se slaaf reg of verkeerd doen nie, sy eienaar besluit dit. Daarom, die gelowiges wat alles eet, doen reg, want dit is die Hére wat hulle reg laat doen, Hy kan dit doen. Daar is gelowiges wat dink een dag in die week is belangriker as die ander dae, en daar is ander gelowiges wat dink al die dae in die week is dieselfde. Maar hulle almal moet in hulle harte baie seker wees dat dit wat hulle dink, reg is. Hulle wat dink een dag in die week is belangriker as die ander dae, doen dit om die Here te dien. En die gelowiges wat alles eet, doen dit om die Here te dien, en hulle sê vir God dankie. En die gelowiges wat net groente eet, doen dit om die Here te dien, en hulle sê vir God dankie. Ons lewe nie om onsself te dien nie en ons sterf nie om onsself te dien nie. Wanneer ons lewe, dan lewe ons om die Here te dien. En wanneer ons sterf, dan sterf ons om die Here te dien. Ja, wanneer ons lewe, dan behoort ons aan die Here, en wanneer ons sterf, dan behoort ons aan die Here. Christus het gesterf, en Hy het weer begin lewe sodat Hy kan regeer oor almal, almal wat dood is en almal wat lewe. Jy moenie sê die ander gelowiges doen verkeerd nie. En jy moenie dink die ander gelowiges is onbelangrik nie. Jy moet onthou: God sal ons almal eendag oordeel wanneer ons voor sy regterstoel staan. Dit is soos daar in die Ou Testament geskryf is: Die Here sê: Ek het dit vir Myself belowe, Ek het gesê: Elke knie sal voor My buig, elke mens sal sê hy weet Ek is God. Dit beteken: Elkeen van ons sal self vir God moet antwoord oor alles wat ons gedoen het. Die gelowiges wat 'n sterk geloof het, moet ophou sê die gelowiges wat 'n swak geloof het, doen verkeerd. En die gelowiges wat 'n swak geloof het, moet ophou sê die gelowiges wat 'n sterk geloof het, doen verkeerd. Ons moet besluit om nie dinge te doen wat ander gelowiges sonde laat doen of wat hulle laat ophou glo nie. Ek behoort aan die Here Jesus en daarom weet ek dat niks self onrein is nie, maar wanneer mense dink iets is onrein, dan is dit vir húlle onrein. Wanneer jy iets eet, en ander gelowiges hou nie daarvan dat jy dit eet nie, en dit maak hulle seer, dan lewe jy nie soos iemand wat lief is vir die ander gelowiges nie. Jy moenie iets eet as jy weet dit sal ander gelowiges vir altyd laat sterf nie, want Christus het gesterf sodat daardie gelowiges kan lewe. God is baie goed vir julle, julle moenie dat die ander mense sleg praat oor die goeie dinge wat julle gekry het nie. Want die dinge wat ons eet en drink, is nie belangrik daar waar God, die Koning, regeer nie. Dit is belangrik dat God ons vryspreek en dat Hy vir ons vrede gee en vir ons help om regtig bly te wees, ons almal wat die Heilige Gees het. As ons so vir Christus dien, dan is God tevrede met ons en dan sal ander mense ons respekteer. Daarom moet ons dinge doen wat help dat daar vrede is, dinge wat ander gelowiges help om hulle geloof sterk te maak. Die dinge wat julle eet en drink moenie vir julle so belangrik wees dat dit die goeie dinge verwoes wat God wil doen nie. Julle moet onthou: Al die kos is rein, maar wanneer julle iets eet, en dit laat 'n ander gelowige sonde doen, dan doen julle verkeerd om dit te eet. Dit is beter om nie vleis te eet of wyn te drink of iets anders te doen wat ander gelowiges sonde laat doen nie. Julle glo dat julle weet wat julle mag doen en wat julle nie mag doen nie. Dan moet julle dit nie vir almal vertel nie, net God moet dit weet. Die mense wat iets doen en dink hulle doen reg en voel hulle is nie skuldig nie, is gelukkige mense. Maar wanneer mense iets eet en hulle twyfel of hulle dit mag doen, dan doen hulle verkeerd. Hoekom? Want hulle doen iets, maar hulle glo nie dat dit reg is nie. Wanneer mense glo iets is nie reg nie maar hulle doen dit, dan is dit sonde.
ROMEINE 14:1-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN neem hom aan wat swak is in die geloof, nie om oor sy gevoelens te oordeel nie. Die een glo dat 'n mens alles mag eet, maar hy wat swak is, eet groente. Hy wat eet, moet hom wat nie eet, nie verag nie; en hy wat nie eet, moet hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem. Wie is jy wat die huiskneg van 'n ander oordeel? Hy staan of val met betrekking tot sy eie heer; maar hy sal staande bly, want God is magtig om hom staande te hou. Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees. Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here; en wie eet, eet tot eer van die Here, want hy dank God; en wie nie eet nie, eet nie tot eer van die Here, en hy dank God. Want niemand van ons leef vir homself nie en niemand sterf vir homself nie. Want as ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here; of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Want hiervoor het Christus ook gesterwe en opgestaan en weer lewend geword, om oor dode sowel as lewende te heers. Maar jy, waarom oordeel jy jou broeder? Of jy ook, waarom verag jy jou broeder? Want ons sal almal voor die regterstoel van Christus gestel word. Want daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely. So sal elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee. LAAT ons dan mekaar nie meer oordeel nie, maar besluit dít liewer, om nie die broeder 'n hindernis of struikelblok in die weg te lê nie. Ek weet en is oortuig in die Here Jesus dat niks op sigself onrein is nie, maar hy wat reken dat iets onrein is, vir hom is dit onrein. Maar as jou broeder deur voedsel gegrief word, dan wandel jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur jou voedsel hom te gronde rig vir wie Christus gesterf het nie. Laat dan van die goeie wat aan julle behoort, nie kwaad gespreek word nie. Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie, maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees. Want hy wat Christus hierin dien, is aan God welgevallig en by die mense geag. Laat ons dan najaag wat tot vrede en onderlinge stigting dien. Moenie ter wille van voedsel die werk van God afbreek nie. Alles is wel rein, maar dit is verkeerd vir 'n mens om te eet as dit tot aanstoot is. Dit is goed om geen vleis te eet of wyn te drink of iets te doen waardeur jou broeder aanstoot neem of struikel, of waarin hy swak is nie. Het jy geloof? Behou dit vir jouself voor die aangesig van God. Gelukkig is hy wat homself nie oordeel in wat hy vir geoorloof ag nie. Maar hy wat twyfel as hy eet, is veroordeel, omdat dit nie uit die geloof is nie; en alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.
ROMEINE 14:1-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
Aanvaar die een wat in die geloof swak is, sonder om met hom te stry as sy opvatting van joune verskil. Een glo 'n mens mag alles eet; 'n ander is swak in die geloof, en hy eet net groente. Die een wat alles eet, moet die ander wat net groente eet, nie verag nie; en die een wat net groente eet, moet die ander wat alles eet, nie veroordeel nie, want God het hom aangeneem. Wie is jy om oor iemand anders se bediende te oordeel? Sy eie werkgewer sal oordeel of hy goed doen of nie. Maar hy sal goed doen; daarvoor sal die Here sorg. Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir 'n ander is alle dae ewe belangrik. Elkeen moet net in sy eie gemoed oortuig wees van sy opvatting. Die een wat 'n bepaalde dag op 'n besondere wyse hou, doen dit tot eer van die Here. Die een wat alles eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God. En die een wat nie alles eet nie, doen dit tot eer van die Here, en ook hy dank God. Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here. Hiervoor het Christus ook gesterf en weer lewend geword: om Here te wees van die dooies en die lewendes. Jy, waarom veroordeel jy dan jou broer? En jy, waarom verag jy jou broer? Ons sal tog almal voor die regterstoel van God moet verskyn, want daar staan geskrywe: “So seker as Ek lewe, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.” Elkeen van ons sal dus oor homself aan God rekenskap moet gee. Laat ons mekaar dan nie meer veroordeel nie. Neem julle liewer voor om niks te doen wat jou broer kan aanstoot gee of tot 'n val kan bring nie. Omdat ek die Here Jesus ken, weet ek en is ek daarvan oortuig dat niks vanself onrein is nie. Maar as iemand iets as onrein beskou – vir hom is dit dan onrein. As jy met wat jy eet, jou broer aanstoot gee, leef jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie Christus gesterf het, laat verlore gaan nie. Moenie dat die goeie wat julle het, 'n slegte naam kry nie. Die koninkryk van God is nie 'n saak van eet en drink nie, maar van gehoorsaamheid aan God, vrede en vreugde, wat die Heilige Gees ons gee. Wie op hierdie manier vir Christus dien, geniet die guns van God en die agting van die mense. Laat ons ons dan beywer vir die dinge wat die onderlinge vrede en opbou bevorder. Moenie oor kos afbreuk doen aan die werk van God nie. Alle kos is rein, maar dit is verkeerd om deur wat jy eet, aanstoot te gee. Dit is goed as 'n mens nie vleis eet of wyn drink of enigiets doen wat jou broer laat struikel nie. Laat jou oortuiging hieroor 'n saak tussen jou en God wees. Gelukkig is die man wat hom nie hoef te verwyt oor wat hy hom veroorloof nie. As iemand egter twyfel en tog eet, is hy klaar veroordeel omdat hy dit nie uit geloofsoortuiging doen nie. En enigiets wat 'n mens nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde.
ROMEINE 14:1-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Aanvaar die een wat swak in die geloof is, sonder om oor verskille te argumenteer. Die een glo dat 'n mens alles mag eet, maar die ander een wat swak in die geloof is, eet net groente. Die een wat eet, moenie neersien op die een wat nie eet nie; en die een wat nie eet nie, moet die een wat wel eet, nie veroordeel nie – want God het hom aanvaar. Wie is jy om oor iemand anders se huisbediende te oordeel? Of hy staan of val, is iets wat net sy eienaar aangaan. Hy sal egter bly staan, want die Here is in staat om hom staande te hou. Die een beskou een dag belangriker as die ander; vir 'n ander weer is alle dae eenders. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle van sy standpunt oortuig wees. Die een wat 'n bepaalde dag uitsonder, sonder dit vir die Here uit. En die een wat eet, doen dit tot eer van die Here, want hy dank God daarvoor; ook die een wat nie eet nie, doen dit tot eer van die Here, en hy dank God daarvoor. Niemand van ons leef tog vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. As ons leef, leef ons immers vir die Here; en as ons sterf, sterf ons vir die Here. Of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here. Dit is tog waarvoor •Christus gesterf het en weer lewend geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes. Jy, waarom veroordeel jy jou broer? Of jy, waarom sien jy op jou broer neer? Ons gaan tog almal voor God se regterstoel verskyn. Want daar staan geskryf: “So seker as wat Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig en elke tong sal My as God bely. ” Elkeen van ons sal dus persoonlik voor God verantwoording moet doen. Daarom, kom ons veroordeel mekaar nie meer nie. Maak dit eerder julle voorneme om nie vir julle broer 'n rede tot aanstoot of struikeling te verskaf nie. Ek weet – ja, ek is in die Here Jesus daarvan oortuig – dat niks vanself •onrein is nie. As iemand iets egter as onrein beskou, dan is dit vir hom onrein. As jy jou broer aanstoot gee deur wat jy eet, handel jy nie meer volgens die liefde nie. Moenie deur wat jy eet, iemand vir wie •Christus gesterf het, ten gronde laat gaan nie. Moenie toelaat dat die goeie wat daar by julle is, 'n slegte naam kry nie. Die •koninkryk van God is tog nie 'n saak van kos en drank nie, maar van •geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees. Wie Christus op hierdie manier dien, is aanneemlik vir God en aanvaarbaar by die mense. Kom ons streef dan na die dinge wat die onderlinge vrede en mekaar se opbou bevorder. Moenie ter wille van kos die werk van God tot niet maak nie. Alles is rein, maar dit is verkeerd om aanstoot te gee deur wat jy eet. Dit is goed om nie vleis te eet of wyn te drink, of enigiets te doen wat jou broer laat struikel nie. Hou vas aan die oortuiging wat jy by jouself voor God het. Gelukkig is hy wat homself nie veroordeel oor wat hy as toelaatbaar beskou nie. Hy wat egter twyfel wanneer hy eet, staan al klaar veroordeel, omdat hy dit nie uit geloofsoortuiging doen nie. Alles wat jy nie uit geloofsoortuiging doen nie, is sonde.
ROMEINE 14:1-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hom wat swak is in die geloof, ontvang julle, maar nie vir twyfelagtige geskille nie. Want die een glo dat hy alles kan eet; 'n ander wat swak is, eet kruie. Laat hy wat eet hom wat nie eet nie verag nie; en laat hom wat nie eet nie, hom wat eet, nie oordeel nie, want God het hom aangeneem. Wie is jy wat 'n ander man se dienaar oordeel? vir sy eie heer staan of val hy. Ja, hy sal vasgehou word, want God is magtig om hom te laat staan. Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag elke dag dieselfde. Laat elke mens ten volle oortuig wees in sy eie gedagtes. Hy wat die dag aanskou, ag dit tot eer van die Here; en wie nie op die dag ag gee nie, tot eer van die Here ag hy dit nie. Wie eet, eet tot eer van die Here, want hy loof God; en hy wat nie eet nie, tot eer van die Here eet hy nie, en hy dank God. Want niemand van ons leef vir homself nie, en niemand sterf vir homself nie. Want of ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en of ons sterwe, ons sterwe tot eer van die Here; of ons dan lewe of sterwe, ons behoort aan die Here. Want vir hierdie doel het Christus gesterf en opgestaan en lewend gemaak, om Here te wees van dooies sowel as lewendes. Maar waarom oordeel jy jou broer? of waarom verag jy jou broer? want ons sal almal voor die regterstoel van Christus staan. Want daar is geskrywe: So waar as Ek leef, spreek die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely. So moet elkeen van ons dan vir homself aan God rekenskap gee. Laat ons mekaar dan nie meer oordeel nie, maar oordeel dit liewer, dat niemand 'n struikelblok of 'n geleentheid in die pad van sy broer plaas nie. Ek weet en is oortuig deur die Here Jesus dat daar niks op sigself onrein is nie; maar vir hom wat ag dat iets onrein is, vir hom is dit onrein. Maar as jou broer bedroef is oor jou spys, wandel jy nou nie met liefde nie. Verdelg hom nie met jou spys vir wie Christus gesterf het nie. Laat dan nie oor jou goed gepraat word nie. Want die koninkryk van God is nie spys en drank nie; maar geregtigheid en vrede en blydskap in die Heilige Gees. Want hy wat Christus in hierdie dinge dien, is vir God welgevallig en beproef deur die mense. Laat ons dan die dinge najaag wat tot vrede dien, en die dinge waarmee die een die ander kan opbou. Want voedsel vernietig nie die werk van God nie. Alle dinge is inderdaad rein; maar dit is sleg vir die man wat met aanstoot eet. Dit is goed om nie vleis te eet of wyn te drink of enigiets waardeur jou broer struikel of aanstoot neem of swak word nie. Het jy geloof? het dit vir jouself voor God. Gelukkig is hy wat homself nie veroordeel in wat hy toelaat nie. En hy wat twyfel, is veroordeel as hy eet, omdat hy nie uit die geloof eet nie; want alles wat nie uit die geloof is nie, is sonde.
ROMEINE 14:1-23 Die Boodskap (DB)
Moenie maak asof jy beter is as ander gelowiges wie se geloof nog nie so sterk soos joune is nie. Aanvaar hulle met oop arms sonder om van vroeg tot laat met hulle te stry en baklei. Ek wil dit met ’n voorbeeld illustreer. ’n Christen wie se geloof sterk is, het nie ’n probleem om verskillende soorte kos te eet nie. Maar ’n Christen wie se geloof nog nie so groot is nie, sal weier om kos te eet wat deur die Jode as onrein beskou word, of kos wat deur ongelowiges aan hulle afgode gewy is. Nou moet hierdie gelowiges egter nie die fout maak om mekaar te veroordeel oor wat hulle eet of oor wat hulle nie eet nie, want God het plek vir albei van hulle. Wie dink jy is jy dat jy so maklik ’n oordeel uitspreek oor die manier waarop ander mense hulle geloof uitleef? God self sal mos besluit of hulle reg doen of nie. Dit is nie jou werk nie. In elk geval, mense wat in God glo, al doen hulle dit op ’n ander manier as jy, sal gered word. Die Here sal daarvoor sorg. Daar is mense wat sê dat sekere dae heiliger as ander dae is. En daar is mense wat sê dat alle dae presies dieselfde is. Elkeen moet in hierdie geval maar self besluit wat reg is. Wat wel belangrik is, is dat albei van hulle God se eer voorop sal stel. Wat ek bedoel, is dit: as jy besluit om een dag heiliger as ’n ander dag te hou, doen dit dan tot eer van die Here. As jy besluit om alle kos te eet, doen dit tot eer van die Here. Sê vir God dankie daarvoor. As jy egter besluit om sekere soorte kos nie te eet nie omdat dit met jou geloofsbeskouings bots, doen dit ook tot eer van die Here. Sê dan vir God dankie vir daardie kos wat jy wel eet. Onthou, nie een van ons leef of sterf vir onsself nie. Nee, ons almal staan in voltydse diens van die Here. Daarom moet ons voluit vir Hom leef en doodgaan. Letterlik alles wat ons doen, moet tot eer van die Here gedoen word, want ons behoort aan Hom. Dit geld terwyl ons nou nog lewe, maar ook later wanneer ons doodgaan. Dit is tog hoekom Christus gesterf en weer lewendig geword het sodat Hy die Here oor die dooies en die lewendes kan wees. Waarom veroordeel jy dan nog jou broer in die Here? En waarom verag jy jou suster in die Here? Dit is nie jou werk om regter oor ander gelowiges te speel nie. God sal dit doen wanneer ons almal eendag voor Hom staan. Die Bybel sê mos: “‘So seker as Ek leef,’ sê die Here, ‘alle mense op aarde sal voor My die knie buig. Almal sal erken dat Ek God is.’” Sorg daarom dat jou eie saak reg is wanneer jy die dag voor God se troon moet gaan staan. Want jy sal op daardie dag net verslag oor jou eie lewe aan Hom moet doen. Moenie gedurig kritiek lewer op hoe ander mense lewe nie. Nee, maak eerder seker dat jy nie die oorsaak is dat ander gelowiges struikel en val nie. Moenie dit vir hulle moeilik maak om in God te glo nie. As julle my persoonlike mening oor al hierdie dinge vra, sê ek sommer reguit vir julle dat geen kos vanself onrein is nie. ’n Mens kan enigiets eet. Maar as party mense tog dink dat dit verkeerd is om sekere soorte kos te eet, moet hulle dit liewer nie eet nie. Dan doen hulle verkeerd. Hiervan het die Here Jesus my oortuig. As jy ander Christene aanstoot gee deur die kos wat jy eet, selfs al is dit nie in jou eie oë verkeerd nie, maak jy nie reg nie. Dan tree jy nie volgens die reëls van die Christelike liefde op nie. Onthou dat daardie mense wat weier om sekere soorte kos te eet, ook Christene is. Christus het ook vir hulle gesterf. Waarom wil jy hulle lewens dan verwoes deur iets wat glad nie belangrik is nie? Moenie só julle goeie naam deur die modder sleep nie. Dit gaan regtig nie in God se koninkryk oor wat ’n mens eet of drink nie. Allermins! Nee, daar waar God heers, is dit die belangrikste dat sondaars op grond van sy ongelooflike goedheid van hulle sondes vrygespreek word. Daar gaan dit oor vrede met God en oor blydskap omdat die Heilige Gees met sy groot krag aanwesig is. Almal wat Christus dien, maak God se hart baie bly. Boonop het ander mense ook groot respek vir hulle. Kom ons doen ons uiterste bes om in vrede met mekaar te leef. Kom ons help om mekaar se geloof sterk te maak. Wat bereik ons as ons alles wat God in ons lewe opgebou het, gaan staan en afbreek oor ’n stukkie vleis? Ek sê weer: ’n mens kan alle kos eet. Maar as jy ander mense aanstoot gee deur dit wat jy eet, tree jy verkeerd op. As jy in die openbaar vleis eet of wyn drink of enigiets anders doen wat ander gelowiges laat struikel, is jy baie selfsugtig. Natuurlik het jy die reg om te glo soos jy glo. Maar onthou, dit is in die eerste plek ’n saak tussen God en jou. Dit is wonderlik as jy nie met ’n klomp skuldgevoelens opgeskeep sit oor hoe jy God dien nie. Maar as jy twyfel of dit wat jy doen reg is - as jy byvoorbeeld vleis eet terwyl jy nie weet of jy dit mag doen nie - is jy skuldig voor God. As dit wat jy doen nie uit jou geloofsoortuigings voortspruit nie, is dit sonde.
ROMEINE 14:1-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Julle moet medegelowiges met ’n sensitiewe geloofsbelewing aanvaar sonder om hare te kloof oor hulle oortuigings. Een persoon sal byvoorbeeld glo ’n mens kan maar alles eet. Maar ’n ander een, met ’n meer sensitiewe geloof, eet weer net groente. Dié wat vrymoedigheid het om alles te eet, moet nie uit die hoogte neersien op hulle wat dit nie doen nie. Net so moet die nie-eters die eters nie veroordeel nie, want God het hulle by Hom verwelkom. Wie gee jou die reg om oor iemand anders se huiswerker te oordeel? Dit is vir elkeen se eienaar om te besluit of hy die toets slaag of nie. Hy sál egter slaag, want die Here is magtig om hom te láát slaag. Net so is daar dié vir wie die een dag meer besonders is as die ander, terwyl ander weer alle dae as ewe belangrik beskou. Elkeen behoort seker te maak van sy eie oortuiging in hierdie verband. Dié wat ’n spesifieke dag uitsonder, doen dit vir die Here. Dié wat alles eet, doen dit ook vir die Here, want hulle dank God daarvoor. En dié wat net sekere soorte kos eet, doen dit vir die Here, want ook hulle dank God daarvoor. Ons het nie finale seggenskap oor onsself nie – of ons lewe of sterwe. As ons leef, leef ons mos vir die Here, en as ons sterf, sterf ons vir Hom. Of ons dan lewe of sterwe, ons is volkome sy eiendom. Dít is tog waarvoor Christus gesterf het en weer lewendig geword het – om Heer te wees oor dooies en lewendes. Jy dan, waarom veroordeel jy jou medegelowige? En jy weer, waarom sien jy neer op jou medegelowige? Ons moet tog almal eendag voor God se regbank verskyn. Die Skrif sê mos: “So seker as Ek lewe,” verklaar die Here, “elke knie sal voor My buig, en elke tong sal bely dat Ek God is.” Elkeen van ons sal dus oor ons eie doen en late voor God verantwoording moet doen. Daarom, kom ons neem ons voor om so op te tree dat ons nie ons medegelowiges sal laat struikel of dinge vir hulle moeilik maak nie. Op grond van my verhouding met Jesus die Here is ek absoluut oortuig daarvan dat ’n mens enige soort kos kan eet. Dis nie op sigself onrein nie. Maar as iemand dit as onrein beskou – nou ja, dan is dit vir daardie persoon verkeerd. En as jy jou medegelowige ontstel deur wat jy eet, dan handel jy nie meer volgens die reël van die liefde nie. Jy moet tog nie deur wat jy eet iemand se lewe verwoes nie. Onthou, Christus het vir daardie medegelowige gesterf! Sorg dan dat daar nie sleg gepraat word oor iets waarvan julle weet dat dit op sigself goed is nie. As God koning is in ons lewe, gaan dit nie om wat ons eet of drink nie; dit gaan daarom dat ons reg sal lewe en die vrede en die blydskap sal vertoon wat die Heilige Gees in ons bewerk. As jy Christus met hierdie gesindheid dien, maak jy God gelukkig en die mense rondom jou sal jou respekteer. Kom ons strewe dus na harmonie onder mekaar en na dit wat ons onderlinge geestelike opbou sal bevorder. Moenie langer toelaat dat die Here se werk afgebreek word en dit oor kos nie. Onthou, ’n mens kan alles eet, maar dit is sleg as jy deur iets wat jy eet ’n medegelowige laat struikel. ’n Mens behoort nie vleis te eet of wyn te drink of enigiets anders te doen wat ’n medegelowige laat struikel nie. Jy is dalk persoonlik daarvan oortuig dat jy niks verkeerds doen nie, maar hou dit liewer tussen jou en God. Gelukkig is jy as jy nie jouself hoef te verwyt oor wat jy weet op sigself reg is nie. Maar as jy twyfel en tog eet, staan jy veroordeel omdat jy nie volgens jou geloofsoortuiging handel nie. Alles wat jy nie uit volle geloofsoortuiging doen nie, is sonde.