ROMEINE 13:1-7

ROMEINE 13:1-7 Die Boodskap (DB)

Wees ’n goeie landsburger. Gehoorsaam die owerhede wat oor jou aangestel is. Onthou: hulle ontvang hulle gesag van God af, van Hom wat oor al die mag beskik. As jy nie na die owerhede luister nie, verset jy jou eintlik teen God self. Dan wag daar groot probleme op jou. ’n Mens hoef natuurlik nie vir die owerhede bang te wees as jy hulle wette gehoorsaam nie. As jy egter ’n wetsoortreder is, het jy rede om benoud te wees. Terloops, dit is baie maklik om op goeie voet met die owerhede te wees: kom net al jou verpligtings getrou na. Dan sal hulle selfs sê dat jy ’n voorbeeldige landsburger is. Ek sê weer: die owerhede staan in God se diens. Hy verwag van hulle om te sorg dat wet en orde gehandhaaf word. As jy ’n wetsgehoorsame burger is, kan jy maar ontspan. Maar as jy die wet oortree, gaan hulle jou swaar straf. God vereis immers van die owerhede om alle wetsoortreders vas te vat. Jy moet egter nie net na die owerhede luister omdat jy bang is dat jy gestraf sal word as jy verkeerd doen nie. Nee, jy moet ook na hulle luister omdat jy weet dat God dit van jou vra. Julle betaal belasting sodat daar goeie orde in die samelewing kan wees. Dit is die owerhede as dienaars van God se plig om hierdie belasting reg aan te wend. Betaal dus wat jy verskuldig is: belasting aan dié wat belasting vra, tolgeld aan dié wat dit vra, ontsag aan dié wat dit toekom, respek vir dié wat gerespekteer moet word, en eer vir dié wat geëer moet word.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid