ROMEINE 10:14-21

ROMEINE 10:14-21 Die Boodskap (DB)

Jy kan nie die Here vra om jou te help as jy nog nie eens weet wie Hy is nie. En hoe kan jy weet wie Hy is as jy nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe kan mense van Hom hoor as daar niemand is om hulle van Hom te vertel nie? En hoe kan mense vir ander van Hom gaan vertel as hulle nie gestuur word om dit te doen nie? Daarom sê die Bybel: “Hoor hoe wonderlik klink die voetstappe van diegene wat vir ander mense gaan vertel van al die goeie dinge wat God doen.” Nie almal glo egter hierdie goeie nuus nie. Daarom het Jesaja op ’n dag gevra: “Here, wat help dit dat ons vir ander mense van U vertel? Hulle glo dit tog nie.” Nogtans moet die Woord van die Here bekendgemaak word. Mense kan net tot geloof kom as hulle die Woord hoor. Daarom maak ek die boodskap van Christus oral bekend sodat mense ’n kans kan kry om dit te hoor. Nou vra ek: Het hulle nie al genoeg kanse gehad om na God se Woord te luister nie? Ja, natuurlik! Een van die psalms sê juis: “Die stem van God se boodskappers het wêreldwyd weerklink. Hulle woorde is tot in die verste uithoeke van die wêreld gehoor.” Waar lê die fout dan? Het Israel nie verstaan waaroor dit alles gaan nie? Luister na wat God deur sy kneg Moses hieroor sê: “Ek gaan julle nog baie jaloers maak op daardie mense op wie julle nou neersien. Wanneer julle sien hoe hulle in My glo, selfs al ken hulle My nie so goed soos julle nie, sal julle ontplof van woede.” Jesaja het selfs nog verder gegaan. God het deur hom vir sy volk gesê: “Ek laat My vind deur mense wat nooit na My gesoek het nie. Ek het My bekendgemaak aan mense wat nooit eens gevra het wie Ek is nie.” Daarna het Jesaja ook ’n verdoemende woord van God se kant af aan Israel gerig: “Dag na dag het Ek met oop arms op Israel se terugkoms gewag. Maar hulle ore is doof en hulle harte is so hard soos klip.”

ROMEINE 10:14-21 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Maar hoe sal hulle Hom aanroep as hulle nie in Hom glo nie? En hoe sal hulle in Hom glo as hulle nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe sal hulle van Hom hoor sonder dat daar iemand is wat die boodskap bring? En hoe sal hulle die boodskap bring as hulle nie gestuur word nie? Daarom sê die Skrif: “Hoe lieflik klink die voetstappe van hulle wat die Goeie Boodskap bring!” Maar tog is dit nie elkeen wat die Goeie Nuus verwelkom nie. Jesaja vra tereg: “Here, wie het ons boodskap geglo?” Die geloof volg uit die aanhoor van die boodskap. En die aanhoor van die boodskap volg uit die prediking van die Goeie Nuus wat handel oor Christus. Maar wat nou van die Jode? Het hulle die boodskap dalk nie gehoor nie? Hulle het dit definitief gehoor: “Die boodskappers se stem het oor die hele wêreld uitgegaan; hulle woorde tot by die uithoeke van die aarde.” Of sou Israel dit dalk nie verstaan het nie? Tog wel, want God het alreeds deur Moses gesê: “Ek sal julle jaloers maak op mense wat eintlik geen volk is nie; Ek sal julle kwaad maak oor ’n volk wat nie julle kennis het nie.” Jesaja gaan selfs verder. Dáár sê God: “Ek is gevind deur mense wat nie na My gesoek het nie; Ek het Myself bekendgemaak aan mense wat nie na My gevra het nie.” Maar wat Israel betref, sê God: “Die hele dag deur het Ek my arms na hulle toe uitgesteek; maar hulle het steeds volhard in hulle ongehoorsaamheid en het steeds bly teëstribbel.”

ROMEINE 10:14-21

ROMEINE 10:14-21 AFR83