ROMEINE 10:1-11

ROMEINE 10:1-11 Bybel vir almal (ABA)

Vriende, ek wens en bid dat God die Israeliete sal red. Ek sê vir julle, en dit is seker: Hulle wil baie graag vir God dien, maar hulle weet nie hoe nie. Hulle weet nie dat God mense vryspreek omdat hulle in Christus glo nie. Hulle wil nie hê God moet hulle vryspreek soos Hy dit wil doen nie, hulle wil hê God moet hulle vryspreek oor wat hulle self doen. Christus het gekom, en nou spreek God mense vry, maar Hy doen dit nie omdat hulle doen wat die wette sê nie, Hy spreek hulle vry omdat hulle glo. Moses het geskryf oor mense wat doen wat God se wette sê sodat God hulle kan vryspreek. Moses het gesê: Elkeen wat doen wat die wette sê, sal lewe omdat hy dit gedoen het. Maar ons lees dat mense moet glo sodat God hulle kan vryspreek. Daar is geskryf: Jy moenie vir jouself vra wie sal opgaan na die hemel nie. Dit beteken ons moenie opgaan na die hemel en vir Christus afbring na die aarde nie. Daar is ook geskryf: Jy moenie vir jouself vra wie sal afgaan na onder die aarde nie. Dit beteken ons moenie afgaan na die mense wat dood is om vir Christus te gaan haal nie. Nee, daar is geskryf: Die boodskap van God is naby jou, dit is in jou mond en in jou hart. Daardie boodskap is die boodskap dat ons moet glo. Dit is die boodskap wat ons vir julle bring. As jy met jou mond sê jy glo Jesus is die Here, en as jy in jou hart glo dat God Hom weer laat lewe het, dan sal God jou red. Want ons glo in ons hart, en daarom spreek God ons vry. En ons sê met ons mond dat ons glo, daarom red God ons. Want in die Ou Testament is geskryf

ROMEINE 10:1-11 Die Boodskap (DB)

My broers en susters, ek het een groot wens: dat God Israel sal verlos. Dag en nag bid ek dat dit sal gebeur. Ek moet erken: die Israeliete is baie toegewyd in hulle godsdiens. Maar op die ou end help dit hulle niks nie. Want hulle het verskriklik baie ywer, maar hulle sit gestrand sonder die regte kennis van God. Hulle het God se manier van vryspraak verwerp en toe probeer om deur al die goeie dinge wat hulle doen self hulle verhouding met God in orde te kry. Maar dit werk nie so nie. Omdat hulle hulle nie aan God se plan van verlossing onderwerp het nie, het hulle sy vryspraak misgeloop. Sonder Christus help dit niks dat mense die wet probeer hou nie. Hy gee betekenis en inhoud aan alles wat die wet sê. Elkeen wat in Hom glo, word deur God vrygespreek sonder dat hulle dit verdien. Moses skryf dat elkeen wat die wet streng onderhou op grond daarvan in die regte verhouding met God sal leef. Maar hy sê dat wanneer jy al jou vertroue in God stel om jou van jou sondes vry te spreek, dinge heeltemal anders verloop. As jy in God glo, weet jy dat Christus die hele tyd naby is. Dan is dit nie meer nodig om te wonder of iemand na die hemel toe moet opklim om Christus daar te gaan soek om Hom na ons toe af te bring nie. Of om êrens in die onderwêreld na Hom te gaan soek en Hom uit die dood hierheen te bring nie. Nee, dan moet jy net jou oë oopmaak en in Christus glo. Moses het immers al gesê: “God se goeie nuus, sy woord van redding, is hier. Dit is so naby aan jou soos om die regte woorde vir God te sê. Dit is so naby aan jou soos om met jou hele hart in God te glo.” Ek maak hierdie goeie nuus oral bekend. En ek sê vir mense om dit te glo. Dit is baie maklik om gered te word. Al wat jy moet doen, is om met jou woorde te erken Jesus is die Here en om met alles in jou te glo God het Hom uit die dood laat opstaan. As jy dit glo, spreek God jou vry van al jou sondes. En as jy dit met jou mond bely, word jy verlos. Die Bybel sê immers: “Niemand wat in God glo, sal ooit met leë hande wegstap nie.”

ROMEINE 10:1-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Broers en susters, die intense verlange van my hart en my gebed tot God is dat my volk verlos sal word. Ek kan getuig hoeveel hulle hulle vir God beywer, maar hierdie ywer is sonder die regte insig. Want hulle ignoreer die vryspraak van God en hulle streef daarna om self hulle saak met God reg te maak. Hulle is nie bereid om God se vryspraak te aanvaar nie. Christus is immers die eindbestemming van die wet sodat elkeen wat in Hom glo, vrygespreek kan word. Moses skryf soos volg omtrent die moontlikheid om jou saak met God reg te maak: “Wie die vereistes van die wet nakom, sal daardeur lewe.” Maar die vryspraak wat ’n mens kry deurdat jy glo, se boodskap is: “Jy hoef nie in jou hart te wonder: ‘Wie sal na die hemel opklim’ – dit wil sê om Christus na die aarde toe te bring om jou te help, of: ‘Wie sal na die plek van die dooies onder die aarde afdaal’ – dit wil sê om Christus uit die dood terug te bring nie. Nee, die verlossing wat joune word deurdat jy glo – en dit is juis hierdie boodskap wat ons verkondig – is sommer hier by jou. Om die waarheid te sê, die Skrifwoord lui: ‘Die boodskap is hier by jou, op jou lippe en in jou hart.’” Want as jy met jou mond bely dat Jesus die Here is en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy verlos word. Want as ons glo met ons hart, word ons vrygespreek en as ons met ons mond bely, word ons verlos. Soos die Skrif sê: “Wie in Hom glo, sal nie beskaamd staan nie.”