ROMEINE 1:19-20
ROMEINE 1:19-20 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat 'n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring. Van die skepping van die wêreld af kan 'n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat 'n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie
ROMEINE 1:19-20 Bybel vir almal (ABA)
Hulle weet die dinge wat mense van God kan weet, want God het dit vir hulle gewys. Mense sien van die begin af alles wat God gemaak het. Hulle kan nie vir God sien nie, maar hulle kan verstaan dat Hy altyd sterk is en dat Hy God is. Hulle kan dit weet omdat hulle sien wat Hy gedoen het. Daarom kan hulle nie sê dat hulle dit nie weet nie.
ROMEINE 1:19-20 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie
ROMEINE 1:19-20 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
aangesien dit wat van God geweet kan word, aan hulle bekend is. God het dit immers aan hulle bekend gemaak. Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging
ROMEINE 1:19-20 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want wat van God geken kan word, is in hulle openbaar; want God het dit aan hulle getoon. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af duidelik gesien word deur die dinge wat gemaak is, naamlik sy ewige krag en Godheid; sodat hulle sonder verskoning is
ROMEINE 1:19-20 Die Boodskap (DB)
Dis ’n groot fout, want God het alles wat hulle oor Hom behoort te weet binne hulle bereik geplaas. Van die begin van die skepping af het God Hom baie duidelik aan ons bekendgemaak. Alhoewel niemand van ons God met die blote oog kan sien nie, het Hy sy groot krag oral in die skepping aan ons kom wys. Sy handewerk wys dat Hy die enigste ware God is. Daarom het die mense geen verskoning nie.
ROMEINE 1:19-20 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
In hulle harte het hulle immers ’n duidelike besef van God, want God het dit aan hulle bekendgemaak. Want hulle kan sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en sy Goddelikheid, reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem. Daarom kan hulle hulleself nie verontskuldig nie.