ROMEINE 1:18-23
ROMEINE 1:18-23 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die toorn van God word vanaf die hemel geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van mense wat volhou om die waarheid deur ongeregtigheid te probeer onderdruk, aangesien dit wat van God geweet kan word, aan hulle bekend is. God het dit immers aan hulle bekend gemaak. Want sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, word van die skepping van die wêreld af in sy werke begryp en is duidelik sigbaar. Gevolglik is hulle sonder verontskuldiging; want alhoewel hulle God ken, het hulle Hom nie as God geëer of gedank nie. Inteendeel, hulle denke het sinloos geword en hulle onverstandige harte is verduister. Alhoewel hulle beweer dat hulle wys is, het hulle dwaas geword. Hulle het naamlik die heerlikheid van die onsterflike God verruil vir 'n afbeelding soos dié van 'n sterflike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.
ROMEINE 1:18-23 Bybel vir almal (ABA)
God wat in die hemel woon, straf al die mense wat Hom nie dien nie. Almal kan sien dat Hy hulle straf. Hy straf hulle omdat hulle baie verkeerde dinge doen, so baie verkeerde dinge dat nie een van hulle weet wat die waarheid is nie. Hulle weet die dinge wat mense van God kan weet, want God het dit vir hulle gewys. Mense sien van die begin af alles wat God gemaak het. Hulle kan nie vir God sien nie, maar hulle kan verstaan dat Hy altyd sterk is en dat Hy God is. Hulle kan dit weet omdat hulle sien wat Hy gedoen het. Daarom kan hulle nie sê dat hulle dit nie weet nie. Hulle ken God, maar hulle respekteer Hom nie en hulle sê nooit vir Hom dankie nie. Hulle is dom, hulle doen nie wat God wil hê nie. Hulle verstaan niks, hulle is soos mense wat in die donker lewe. Hulle dink hulle is slim, maar hulle doen nie wat God wil hê nie. God is Koning, Hy kan nooit sterf nie, maar hulle dien Hom nie. Hulle kies om afgode te dien, beelde wat lyk soos mense, mense wat sterf, of beelde wat lyk soos voëls of diere of slange.
ROMEINE 1:18-23 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WANT die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk, omdat wat van God geken kan word, in hulle openbaar is, want God het dit aan hulle geopenbaar. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie; omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van 'n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.
ROMEINE 1:18-23 Afrikaans 1983 (AFR83)
God openbaar vanuit die hemel sy toorn oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid deur hulle ongeregtigheid probeer onderdruk. Wat 'n mens van God kan weet, was immers binne hulle bereik, want God het dit binne hulle bereik gebring. Van die skepping van die wêreld af kan 'n mens uit die werke van God duidelik aflei dat sy krag ewigdurend is en dat Hy waarlik God is, hoewel dit dinge is wat 'n mens nie met die oog kan sien nie. Vir hierdie mense is daar dus geen verontskuldiging nie, omdat, al weet hulle van God, hulle Hom nie as God eer en dank nie. Met hulle redenasies bereik hulle niks nie, en deur hulle gebrek aan insig bly hulle in die duister. Hulle gee voor dat hulle verstandig is, maar hulle is dwaas. In die plek van die heerlikheid van die onverganklike God stel hulle beelde wat lyk soos 'n verganklike mens of soos voëls of diere of slange.
ROMEINE 1:18-23 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Want die toorn van God word uit die hemel geopenbaar oor alle goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat die waarheid in ongeregtigheid hou; Want wat van God geken kan word, is in hulle openbaar; want God het dit aan hulle getoon. Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af duidelik gesien word deur die dinge wat gemaak is, naamlik sy ewige krag en Godheid; sodat hulle sonder verskoning is: Omdat hulle, toe hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik het nie en ook nie dankbaar was nie; maar het ydel geword in hulle verbeelding, en hulle dwase hart is verduister. Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword, En het die heerlikheid van die onverganklike God verander in 'n beeld wat gelyk is aan die verganklike mens en aan voëls en viervoetige diere en kruipende diere.
ROMEINE 1:18-23 Die Boodskap (DB)
Uit sy hemelse woonplek wys God dat Hy baie kwaad is oor al die sondige dinge wat die mense hier op die aarde aanvang. Hulle verruil die waarheid vir leuens. Dis ’n groot fout, want God het alles wat hulle oor Hom behoort te weet binne hulle bereik geplaas. Van die begin van die skepping af het God Hom baie duidelik aan ons bekendgemaak. Alhoewel niemand van ons God met die blote oog kan sien nie, het Hy sy groot krag oral in die skepping aan ons kom wys. Sy handewerk wys dat Hy die enigste ware God is. Daarom het die mense geen verskoning nie. Hulle weet baie goed wie God is. Hulle weier egter om Hom te aanbid of Hom te dank vir al die goedheid wat Hy aan ons bewys. Daarom dat hulle soos ’n spul dwase optree. Hulle hele lewe is een stuk donkerte. Tog maak hulle asof hulle verskriklik slim is, al is hulle eintlik dom en sonder insig. Hierdie mense het selfs so ver gegaan om hulle eie gode te maak. Hulle het die voorreg om die ewige God te ken gaan staan en verruil vir ’n spul handgemaakte gode. Nou buig hulle voor dié lewelose afbeeldings van mense, voëls, diere en reptiele.
ROMEINE 1:18-23 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Van sy hemelse woonplek af maak God sy straf bekend oor die mense wat goddeloosheid en ongeregtigheid bedryf en so die waarheid onderdruk. In hulle harte het hulle immers ’n duidelike besef van God, want God het dit aan hulle bekendgemaak. Want hulle kan sy onsigbare eienskappe, naamlik sy ewige krag en sy Goddelikheid, reeds van die skepping van die wêreld af duidelik uit sy handewerk waarneem. Daarom kan hulle hulleself nie verontskuldig nie. Ja, hulle het ’n Godsbesef gehad, maar tog het hulle Hom nie as God geëer of aan Hom dankbaarheid betoon nie. Inteendeel, hulle het vir hulleself allerlei belaglike voorstellings oor ’n godheid begin maak en hulle verdwaasde harte het heeltemal toegeslaan. Alhoewel hulle daarop aanspraak maak dat hulle danig slim is, het hulle in werklikheid heeltemal in dwaasheid verval – in so ’n mate dat hulle die verering van die onsterflike God met afgode vervang het wat sterflike mense en voëls en diere en slange uitbeeld.