DIE OPENBARING 9:11-16
DIE OPENBARING 9:11-16 Bybel vir almal (ABA)
Die sprinkane se koning is die engel van die onderwêreld. Sy Hebreeuse naam is Abaddon en sy Griekse naam is Apollion. Die eerste swaarkry is verby, maar daar kom nóg twee tye wanneer mense sal swaarkry! Die sesde engel het sy trompet geblaas. Toe hoor ek iemand praat tussen die vier horings van die altaar, die goue altaar wat voor God staan. Hy het vir die sesde engel, die engel wat die trompet het, gesê: “God het vier engele vasgebind by die groot Eufraat-rivier. Jy moet hulle losmaak!” Die sesde engel het die vier engele losgemaak. God het hierdie engele gereedgehou tot op hierdie tyd, tot op hierdie dag, hierdie maand, en hierdie jaar, sodat hulle een derde van die mense moet doodmaak. Die soldate op perde was baie miljoene, ek het gehoor hoe baie hulle is.
DIE OPENBARING 9:11-16 Bybel vir almal (ABA)
Die sprinkane se koning is die engel van die onderwêreld. Sy Hebreeuse naam is Abaddon en sy Griekse naam is Apollion. Die eerste swaarkry is verby, maar daar kom nóg twee tye wanneer mense sal swaarkry! Die sesde engel het sy trompet geblaas. Toe hoor ek iemand praat tussen die vier horings van die altaar, die goue altaar wat voor God staan. Hy het vir die sesde engel, die engel wat die trompet het, gesê: “God het vier engele vasgebind by die groot Eufraat-rivier. Jy moet hulle losmaak!” Die sesde engel het die vier engele losgemaak. God het hierdie engele gereedgehou tot op hierdie tyd, tot op hierdie dag, hierdie maand, en hierdie jaar, sodat hulle een derde van die mense moet doodmaak. Die soldate op perde was baie miljoene, ek het gehoor hoe baie hulle is.
DIE OPENBARING 9:11-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En hulle het as koning oor hulle die engel van die afgrond; sy naam in Hebreeus is Abáddon, en in Grieks het hy die naam van Apóllion. Die een wee het verbygegaan; hierna kom daar nog twee weë. EN die sesde engel het geblaas, en ek het 'n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en dié het aan die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat gebind is by die groot rivier, die Eufraat. Toe is die vier engele losgemaak wat gereed gehou was vir die uur en dag en maand en jaar, om 'n derde van die mense dood te maak. En die getal van die leërs van perderuiters was twee maal tienduisend maal tienduisend; en ek het hulle getal gehoor.
DIE OPENBARING 9:11-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hulle het die engel van die onderaardse diepte as koning oor hulle. Sy naam in Hebreeus is Abaddon, en in Grieks het hy die naam Apollion. Die eerste “Wee!” is verby. Kyk, daar kom nog twee hierna. Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het 'n stem tussen die vier horings van die goue altaar voor God gehoor. Die stem het vir die sesde engel, wat die trompet het, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.” Die vier engele wat gereed gehou is vir hierdie uur en dag en maand en jaar, is toe losgelaat om 'n derde van die mensdom dood te maak. Die aantal perderuiters van hulle leërs was miljoene der miljoene en nog 'n keer soveel. Ek het hulle getal gehoor.
DIE OPENBARING 9:11-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die engel van die onpeilbare diepte was hulle koning. In Hebreeus is sy naam Abaddon, en in Grieks Apollion. Die eerste ramp is verby – kyk, hierna kom daar nog twee! Ook die sesde engel het op sy trompet geblaas. En ek het 'n stem vanuit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, aan die sesde engel met die trompet hoor sê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgebind is.” Die vier engele wat gereed gestaan het met die oog op hierdie uur en hierdie dag en hierdie maand en hierdie jaar, is toe losgelaat om 'n derde van die mense dood te maak. Die getal soldate in die ruitery was twee maal tienduisend maal tienduisend. Ek het gehoor dat dit hulle getal was.
DIE OPENBARING 9:11-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hulle het 'n koning oor hulle gehad, dit is die engel van die afgrond, wie se naam in die Hebreeuse taal is Abaddon, maar in die Griekse taal het sy naam Apollion. Een wee is verby; en kyk, daar kom nog twee wee hierna. En die sesde engel het geblaas, en ek het 'n stem gehoor uit die vier horings van die goue altaar wat voor God is, en vir die sesde engel met die basuin gesê: Maak die vier engele los wat in die groot rivier Eufraat gebind is. En die vier engele is losgemaak, wat voorberei was vir 'n uur en 'n dag en 'n maand en 'n jaar om die derde deel van die mense dood te maak. En die getal van die leër van die ruiters was twee honderd duisend duisend, en ek het hulle getal gehoor.
DIE OPENBARING 9:11-16 Die Boodskap (DB)
Hulle het ’n leier gehad, die engel van die onderwêreld. Sy Hebreeuse naam was Abaddon - dit beteken: die een wat alles verwoes. Hoe verskriklik is dit nie, nè? Wag maar, daar is nog twee sulke skrikwekkende dinge op pad. Toe weerklink die sesde engel se trompet. Ek hoor toe ’n stem uit die rigting van die vier horings op die vier hoeke van die goue altaar. Die altaar het voor God gestaan. Die stem praat toe met hierdie sesde engel: “Laat daardie vier engele losbreek wat net heeltyd by die groot Eufraatrivier moes bly.” Toe breek die vier engele los, want hulle was reg daarvoor. Hiervoor het hulle gewag. Nou maar waarvoor het hulle gewag? Om ’n derde van die mense van kant te maak. Hulle was nie alleen nie. Hulle het ’n massa soldate op perde gehad. Ek het ook gehoor hoe baie daar was: twee maal 10 000 en dit nog weer met 10 000 vermenigvuldig.
DIE OPENBARING 9:11-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hulle het as heerser die engel van die bodemlose put gehad. Sy naam in Hebreeus is Abaddon, en in Grieks Apollion. Die eerste verskrikking is verby. Kyk, daar volg nog twee hierna. Toe het die sesde engel op sy trompet geblaas. Ek het ’n enkele stem hoor kom uit die rigting van die vier horings van die goue altaar by God. Die stem het aan die sesde engel wat die trompet vashou, gesê: “Maak los die vier engele wat by die groot Eufraatrivier vasgemaak is.” Die vier engele wat gereedgemaak is vir hierdie uur en dag en maand en jaar is toe losgemaak om ’n derde van die mense dood te maak. Die getal perderuiters was ongeveer 200 miljoen. Ek het gehoor wat die getal is.