DIE OPENBARING 5:5-10
DIE OPENBARING 5:5-10 Die Boodskap (DB)
Een van die leiers van die kerk kom troos my toe: “Hou net dop wat gebeur. Niemand en niks kan die Leeu, uit die nageslag van Juda, wen nie. Hy is nie verniet ’n agteragterkleinkind van koning Dawid nie. Hy sal die seëls kan breek en die boek kan oopmaak.” Ek kyk toe weer mooi. My oë gly oor die troon en die vier lewende wesens tot tussen die leiers van die kerk wat daar sit. Daar, in die middel van almal, sien ek toe ’n Lam staan. Die snymerk oor sy keel asof Hy geslag was, het my dadelik opgeval. Al was Hy ’n lam, was Hy duidelik baie, baie sterk. Dit kon ek aan sy sewe horings sien. Hy het ook sewe oë gehad. Dit het beteken dat God se Gees self deur en saam met Hom werk. Daar is nie ’n plek in hierdie wêreld waar die Heilige Gees nie is nie. Toe loop die Lam na God se troon toe. Daar vat Hy die boek wat God in sy regterhand hou. Dít het die hemel in beroering gebring! Nie slegs die vier lewende wesens nie, maar ook al 24 leiers van die kerk sak toe uit eerbied en aanbidding op hulle knieë voor die Lam neer. Elkeen van hulle het ’n goue musiekinstrument vasgehou. Hulle het ook goue bakke by hulle gehad. Uit die bakke het daar die lekkerste geur gekom. Ek kon sien dat dit die gebede van die Christene was wat vir almal in die hemel so lekker is om te hoor. Die vier wesens en die leiers van die kerk begin toe die pragtigste lied sing wat ek nog ooit gehoor het. Dit was die eerste maal dat hulle die lied gesing het. “O, hoe groot en belangrik is U. U kan die boek vat en die seëls breek! U is mos soos ’n lam wat geslag is. U bloed, ja, u lewe, het U gegee sodat mense God se mense kon wees, maak nie saak waar hulle bly of watter taal hulle praat nie. U sorg dat hulle God as heerser oor almal erken. U maak dat hulle God met oorgawe, soos priesters, dien. Hulle sal ook eendag oor al die mense van hierdie wêreld heers.”
DIE OPENBARING 5:5-10 Bybel vir almal (ABA)
Maar een van die ouderlinge het vir my gesê: “Jy moenie huil nie! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Wortel van Dawid, het oorwin. Daarom kan Hy die sewe seëls breek en die boekrol oopmaak.” Toe sien ek 'n Lam. Die Lam het by die troon gestaan, tussen die vier diere en die ouderlinge. Dit het gelyk of die Lam geslag is. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die Sewe Geeste van God. God stuur hulle oor die hele aarde. En die Lam het gegaan en die boekrol geneem uit die regter-hand van die Persoon wat op die troon sit. Toe die Lam die boekrol neem, het die vier diere en die 24 ouderlinge voor die Persoon gekniel soos 'n mens voor 'n koning kniel. Elkeen het 'n harp gehad en goue bakke. Die goue bakke was vol wierook. Die wierook is die gebede van die gelowiges. Toe sing die diere en die ouderlinge hierdie nuwe lied vir die Lam: “Net U mag die boekrol neem! U mag die seëls breek en die boekrol oopmaak! Want die mense het U doodgemaak, ja, U het gesterf en U het mense gekoop vir God, mense van al die stamme, tale, volke en lande! U het gesê God regeer oor hulle, hulle is soos die priesters wat vir God werk, en hulle sal oor die aarde regeer!”
DIE OPENBARING 5:5-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe sê een van die ouderlinge vir my: Moenie ween nie; kyk, die Leeu wat uit die stam van Juda is, die wortel van Dawid, het oorwin om die boek oop te maak en sy sewe seëls te breek. En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar 'n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde. Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit; en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is. Toe sing hulle 'n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie, en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.
DIE OPENBARING 5:5-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Moenie huil nie. Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Afstammeling van Dawid, het die oorwinning behaal en kan die boek met die sewe seëls oopmaak.” Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, 'n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die sewe Geeste van God, wat oor die hele aarde uitgestuur is. Hy het toe gegaan en die boek ontvang uit die regterhand van Hom wat op die troon sit. Net toe die Lam die boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor Hom gekniel. Elkeen van hulle het 'n siter gehad en 'n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges. Toe sing hulle 'n nuwe lied: “U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie. U het hulle 'n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer.”
DIE OPENBARING 5:5-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Toe sê een van die ouderlinge vir my: “Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die wortel van Dawid, het oorwin, sodat Hy die boekrol en die sewe seëls daarvan kan oopmaak.” En ek het tussen die troon en die vier lewende wesens, en tussen die ouderlinge, 'n Lam, soos een wat geslag is, sien staan. Hy het sewe horings en sewe oë gehad – die sewe Geeste van God – wat oor die hele aarde heen uitgestuur is. En Hy het nader gegaan, en die boekrol geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit. Toe Hy die boekrol neem, het die vier lewende wesens en die vier-en-twintig ouderlinge voor die Lam neergeval. Elkeen het 'n lier en 'n goue bak vol reukwerk, wat die gebede van die •heiliges is, vasgehou. Toe sing hulle 'n nuwe lied: “U is waardig om die boekrol te neem, en die seëls daarvan oop te breek, omdat U geslag is, en met u bloed mense vir God gekoop het, uit elke geslag en taal en volk en nasie. U het hulle 'n koninkryk en priesters vir ons God gemaak, en hulle sal as konings oor die aarde heers. ”
DIE OPENBARING 5:5-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En een van die oudstes het vir my gesê: Moenie huil nie; kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die Wortel van Dawid, het die oorhand gekry om die boek oop te maak en die sewe seëls daarvan los te maak. En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en van die vier lewende wesens, en in die midde van die ouderlinge, staan 'n Lam soos dit geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God het oor die hele aarde uitgestuur. En hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit. En nadat Hy die boek geneem het, val die vier lewende wesens en vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer, met elkeen van hulle siters en goue skale vol reuke, wat die gebede van die heiliges is. En hulle het 'n nuwe lied gesing en gesê: U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak, want U is gedood en het ons deur u bloed vir God losgekoop uit elke geslag en taal en volk, en nasie; en het ons vir onse God konings en priesters gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.
DIE OPENBARING 5:5-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Toe sê een van die ouderlinge egter vir my: “Hou op huil! Kyk, die Leeu uit die stam van Juda, die nakomeling van Dawid, het oorwin en kan die boekrol en sy sewe seëls oopmaak.” Toe het ek tussen die troon en die vier lewende wesens en tussen die ouderlinge ’n Lam sien staan, soos Een wat geslag is. Hy het sewe horings en sewe oë gehad, dit is die sewe Geeste van God wat uitgestuur is oor die hele aarde. Hy het toe vorentoe getree en die boekrol geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit. Net toe Hy die boekrol vat, het die vier lewende wesens en die 24 ouderlinge in aanbidding voor die Lam neergeval. Elkeen het ’n siter en ’n goue bak vol wierook vasgehou, dit is die gebede van die gelowiges. Toe sing hulle ’n nuwe lied met dié woorde: “U is waardig genoeg om die boekrol te neem en sy seëls te breek omdat U geslag is en met u bloed mense vir God vrygekoop het, uit elke geslag en taalgroep, volk en nasie. U het hulle vir ons tot konings en priesters gemaak.”