DIE OPENBARING 3:1-6
DIE OPENBARING 3:1-6 Bybel vir almal (ABA)
“Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Sardis skryf: Die Een wat die Sewe Geeste van God en die sewe sterre het, sê: Ek weet wat jy doen. Die mense dink dat jy geestelik lewe, maar jy is geestelik dood. Jy moet wakker word! Daar is party mense wat amper geestelik dood is. Jy moet hulle help om geestelik te lewe, want Ek sien hulle doen nie wat reg is nie, hulle doen nie wat my God wil hê nie. Jy moet die dinge onthou wat jy gehoor het toe jy in My begin glo het. Jy moet weer daardie dinge doen, die dinge wat Ek wil hê jy moet doen. Ja, jy moet wakker word! As jy nie wakker word nie, dan sal Ek na jou toe kom. Ek sal kom soos 'n dief kom, jy sal nie weet wanneer Ek kom nie. Maar daar is party mense in Sardis wat reg lewe, hulle lewe is skoon, dit is soos Ek wil hê hulle moet lewe. Ek is tevrede met hulle en daarom sal hulle saam met My wees, hulle sal wit klere dra. As jy oorwin en aanhou glo, dan sal jy ook wit klere kry om aan te trek. Ek sal jou naam nooit uitvee uit die boek van die lewe nie. Ja, Ek sal voor my Vader en sy engele sê dat jy aan My behoort. As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees!”
DIE OPENBARING 3:1-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN skryf aan die engel van die gemeente in Sardis: Dít sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek ken jou werke, dat jy die naam het dat jy leef, en jy is dood. Wees wakker en versterk die wat oorbly, wat op die punt staan om te sterwe, want Ek het jou werke nie volkome voor God gevind nie. Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en bewaar dit en bekeer jou; as jy dan nie wakker word nie, sal Ek op jou afkom soos 'n dief, en jy sal nie weet in watter uur Ek op jou afkom nie. Maar jy het enkele persone ook in Sardis wat hulle klere nie besoedel het nie, en hulle sal saam met My in wit klere wandel, omdat hulle dit waardig is. Wie oorwin, sal beklee word met wit klere, en Ek sal sy naam nooit uitwis uit die boek van die lewe nie, en Ek sal sy naam bely voor my Vader en voor sy engele. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.
DIE OPENBARING 3:1-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Skrywe aan die leraar van die gemeente in Sardis: So sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het: Ek weet alles wat julle doen. Ek weet dat julle die naam het dat julle lewe, en tog is julle dood. Word wakker en versterk wat nog by julle oorgebly het, wat op die punt staan om dood te loop. Wat julle doen, vind Ek nie goed genoeg voor die oë van my God nie. Dink daaraan hoe julle die evangelie ontvang en daarna geluister het. Hou daarmee vol en bekeer julle. As julle nie wakker word nie, sal Ek onverwags kom soos 'n dief, en julle sal nie weet wanneer Ek op julle sal afkom nie. Maar julle het darem 'n paar mense daar in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie, en hulle sal altyd in wit klere by My wees omdat hulle dit waardig is. Elkeen wat die oorwinning behaal, sal sulke wit klere dra. Ek sal nooit sy naam uit die boek van die lewe uithaal nie, en Ek sal voor my Vader en voor sy engele verklaar dat hy aan My behoort. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.
DIE OPENBARING 3:1-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Sardis: “Dit sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het, “ ‘Ek ken jou dade – jy staan daarvoor bekend dat jy lewe, maar jy is dood. Wees wakker, en versterk diegene wat nog oor is, wat op die punt is om dood te gaan. Ek het gevind dat jou dade in die oë van my God nie voldoende is nie. Onthou dan hoe jy die boodskap ontvang, en daarna geluister het. Bewaar dit, en bekeer jou! As jy egter nie wakker skrik nie, sal Ek soos 'n dief opdaag, en jy sal nie weet op watter tydstip Ek by jou aankom nie. Maar daar is 'n paar mense by jou in Sardis wat nie hulle klere besoedel het nie. Hulle sal saam met My leef, in wit klere, omdat hulle dit werd is. “ ‘Wie oorwin, sal net so wit klere kry om aan te trek, en Ek sal sy naam nie uit die boekrol van die lewe skrap nie, maar voor my Vader en sy engele oor hom getuig. Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ”
DIE OPENBARING 3:1-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En skryf aan die engel van die gemeente in Sardis; Dit sê hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre het; Ek ken jou werke, dat jy 'n naam het dat jy lewe en dood is. Wees waaksaam en versterk die wat oorbly, wat gereed is om te sterwe, want ek het jou werke nie volmaak voor God gevind nie. Onthou dan hoe jy dit ontvang en gehoor het, en hou vas en bekeer jou. As jy dan nie waak nie, sal Ek op jou afkom soos 'n dief, en jy sal nie weet watter uur Ek op jou afkom nie. Jy het 'n paar name selfs in Sardis wat hulle klere nie verontreinig het nie; en hulle sal saam met My wandel in wit klere, want hulle is dit waardig. Hy wat oorwin, hy sal geklee word met wit klere; en Ek sal sy naam nie uitwis uit die boek van die lewe nie, maar Ek sal sy Naam bely voor my Vader en voor sy engele. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.
DIE OPENBARING 3:1-6 Die Boodskap (DB)
Skryf die volgende brief aan die leier van die gemeente in Sardis: Dit is die boodskap van Jesus wat die ware Gees van God het; ja, Hy vir wie al die leiers van die gemeente werk. Julle kan niks vir My wegsteek nie. Julle gee voor dat julle so ’n lewendige gemeente is. Almal is selfs aan die praat daaroor. Tog weet Ek dat julle geestelik morsdood is. Skrik wakker en ruk julle reg! Sorg dat julle die bietjie Christelikheid wat oorgebly het nie ook verloor nie. Werk hard daaraan! Ek is in alle geval baie seker daarvan dat my God allesbehalwe tevrede sal wees met die manier waarop julle nou aangaan. Dink ’n slag weer lank en diep na waaroor die Christelike boodskap presies gaan. En moenie net daaroor nadink nie; leef so! Draai weg van die verkeerde dinge af. Volg My weer voluit! En as julle julle nie hieraan steur nie en maar op julle ou manier voortgaan, wag daar ’n verrassing op julle. Ek sal na julle toe kom wanneer julle dit die minste verwag. Dan sal Ek julle geestelik vas aan die slaap betrap. Daar is tog ’n paar uitsonderings onder julle daar in Sardis. Ek praat van die mense wat nog nie in die modder van die sonde baljaar het nie. Hulle geestelike klere is nog mooi skoon. Vir sulke mense het Ek respek. Hulle kan maar oral saam met My in hulle mooi, skoon klere stap. Wie nie as Christen moed verloor en opgee nie, sal sulke mooi, skoon, wit klere kry om aan te trek. Sy naam is met onuitwisbare ink in die boek van die lewe geskryf. Almal wat die ewige lewe het, se name staan daarin geskryf. En Ek sal mooi dinge van elkeen van hulle persoonlik vir God en sy engele vertel. Luister aandagtig na wat die Heilige Gees alles vir die Christene te sê het.
DIE OPENBARING 3:1-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Skryf aan die voorganger van die gemeente in Sardis: Só sê Hy wat die sewe Geeste van God en die sewe sterre vashou: Ek ken jou handel en wandel. Ek weet ook dat jy daarvoor bekend is dat jy lewe, maar jy is dood. Word wakker en herstel wat nog oor is, wat op die drumpel van die dood is. Jou optrede vind Ek nie gepas in die teenwoordigheid van my God nie. Probeer onthou hoe jy dit ontvang en gehoor het; gehoorsaam dit en kom tot inkeer. As jy nie wakker word nie, sal Ek skielik op jou afkom soos ’n dief, en jy sal nie weet presies wanneer Ek op jou afkom nie. Maar jy het tog ’n klompie persone in Sardis wat nie hulle klere vuil gemaak het nie. Dit is hulle wat vir altyd saam met My in wit klere sal leef omdat hulle dit werd is. Die een wat aanhou oorwin, sal net so met wit klere aangetrek word. En Ek sal sy naam nooit uit die Boekrol van die Lewe vee nie, maar voor my Vader en sy engele getuig dat hy van mý mense is. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.