DIE OPENBARING 2:18-29
DIE OPENBARING 2:18-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
Skrywe aan die leraar van die gemeente in Tiatira: So sê die Seun van God, wie se oë soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is: Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding en Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore. Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet. Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie. Kyk, Ek gee haar aan 'n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding – as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. Haar volgelinge sal Ek deur 'n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late. Maar vir julle ander in Tiatira, wat nie hierdie leer aanhang en nie die “diep geheimenisse van die Satan”, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verpligting nie; hou net vas wat julle het, totdat Ek kom. Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee. Hy sal hulle met 'n ystersepter regeer, hulle soos kleipotte stukkend slaan. Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.
DIE OPENBARING 2:18-29 Bybel vir almal (ABA)
“Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Tiatira skryf: Die Seun van God se oë is soos 'n vuurvlam en sy voete is soos blink koper. Hy sê: Ek weet alles wat jy doen: Jy is lief vir My, jy doen wat jy sê jy sal doen, en jy dien die ander gelowiges. Ek weet jy kry swaar omdat jy aan My behoort, maar jy bly geduldig. Ek weet jy doen nou baie meer dinge vir My, meer as wat jy gedoen het toe jy in My begin glo het. Maar Ek is kwaad vir jou, want jy doen niks teen die vrou Isebel nie. Sy sê sy is 'n profeet, maar sy leer dinge wat nie waar is nie, sy leer dit vir die mense wat My dien. Sy leer vir hulle om onsedelik te lewe en om afgod-offervleis te eet. Ek het vir haar tyd gegee om te begin lewe soos Ek wil hê en om op te hou om onsedelik te lewe, maar sy wil nie ophou nie. As sy en almal wat saam met haar onsedelik lewe, nie ophou om verkeerde dinge te doen nie en as hulle nie begin lewe soos Ek wil hê nie, dan sal Ek vir haar en vir hulle baie siek laat word. Ek sal almal laat sterf wat doen wat sy sê. Dan sal al die gemeentes weet dat Ek sien wat mense dink en wat hulle wil doen. Ek oordeel elke mens oor wat hy gedoen het. Maar julle ander wat ook in Tiatira woon, julle glo nie die dinge wat Isebel vir hulle leer nie. Party mense sê die dinge wat sy vir hulle leer, is die groot geheime van die Satan, maar julle wou nie daardie dinge leer ken nie. Vir júlle sê Ek: Ek wil hê julle moet net een ding doen, en dit is: Julle moet aanhou om alles te glo wat julle nou glo. Julle moet dit doen totdat Ek weer kom. As jy oorwin en aanhou doen wat Ek wil hê, dan sal Ek vir jou sê jy mag oor die volke regeer. Jy sal kwaai oor hulle regeer, soos 'n koning wat met 'n yster-septer regeer. Jy sal met hulle doen wat jy wil, soos wanneer iemand kleipotte stukkend slaan. My Vader het gesê Ek mag so regeer. Jy mag ook so regeer. Ek sal vir jou die môrester gee, jy sal wees soos Ek. As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees!”
DIE OPENBARING 2:18-29 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN skryf aan die engel van die gemeente in Thiatíre: Dít sê die Seun van God wat oë het soos 'n vuurvlam, en sy voete is soos blink koper: Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lydsaamheid en jou werke, en dat die laaste meer is as die eerste. Maar Ek het enkele dinge teen jou; dat jy die vrou Isébel, wat haarself 'n profetes noem, toelaat om te leer en my diensknegte te verlei om te hoereer en afgodsoffers te eet. En Ek het haar tyd gegee om haar van haar hoerery te bekeer, en sy het haar nie bekeer nie. Kyk, Ek werp haar neer op 'n siekbed, en die wat met haar owerspel bedryf, in 'n groot verdrukking, as hulle hul nie van hul werke bekeer nie. En haar kinders sal Ek sekerlik doodmaak, en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek, en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens sy werke. En ek sê vir julle en die ander wat in Thiatíre is, almal wat hierdie leer nie het nie, en die wat die dieptes van die Satan, soos hulle dit noem, nie leer ken het nie: Ek sal op julle geen ander las lê nie. Hou maar net vas wat julle het, totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, sal Ek mag oor die nasies gee, en hy sal hulle regeer met 'n ysterstaf; soos erdegoed word hulle verbrysel, net soos Ek ook van my Vader ontvang het. En Ek sal hom die môrester gee. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.
DIE OPENBARING 2:18-29 Afrikaans 1983 (AFR83)
Skrywe aan die leraar van die gemeente in Tiatira: So sê die Seun van God, wie se oë soos vuur vlam en wie se voete soos geelkoper is: Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding en Ek weet dat julle nou ook meer doen as tevore. Maar Ek het dít teen julle dat julle die vrou Isebel laat begaan. Sy doen haar as profetes voor en leer en verlei my dienaars om onsedelikheid te bedrywe en afgodsoffervleis te eet. Ek het haar kans gegee om haar te bekeer, maar sy wil haar nie van haar onsedelikheid bekeer nie. Kyk, Ek gee haar aan 'n siekbed oor, en die mense wat met haar owerspel gepleeg het, aan swaar lyding – as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. Haar volgelinge sal Ek deur 'n pessiekte om die lewe bring. Dan sal al die gemeentes weet dat dit Ek is, die Een wat die gedagtes en begeertes van die mens deurgrond. Ek sal elkeen van julle straf volgens julle doen en late. Maar vir julle ander in Tiatira, wat nie hierdie leer aanhang en nie die “diep geheimenisse van die Satan”, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verpligting nie; hou net vas wat julle het, totdat Ek kom. Aan elkeen wat die oorwinning behaal en tot die einde toe volhou om te doen wat Ek wil hê, sal Ek mag en gesag oor die nasies gee. Hy sal hulle met 'n ystersepter regeer, hulle soos kleipotte stukkend slaan. Dieselfde mag en gesag het Ek ook van my Vader gekry. Daarby sal Ek vir elkeen wat die oorwinning behaal, die môrester gee. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê.
DIE OPENBARING 2:18-29 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Skryf ook aan die boodskapper van die •gemeente in Tiatira: “Dit sê die •Seun van God, wat oë het soos 'n vlammende vuur, en voete soos gloeiende koper, “ ‘Ek ken jou dade en liefde en geloof en diens en volharding, en weet dat jou latere dade die eerstes oortref. Maar Ek hou dit teen jou dat jy die vrou Isebel net laat begaan – sy wat haarself 'n profetes noem, en my diensknegte leer en verlei om te hoereer en om afgodsoffers te eet. Ek het haar tyd gegun om tot bekering te kom, maar sy weier om haar te bekeer van haar hoerery. Kyk, Ek werp haar op 'n siekbed, en ook hulle wat met haar egbreuk gepleeg het, in groot verdrukking, as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. En haar kinders sal Ek met die dood tref. Laat al die gemeentes daarvan kennis neem dat dit Ek is wat niere en harte deurgrond. Ek sal elkeen van julle beloon volgens julle dade. Maar vir julle ander in Tiatira wat nie hierdie leer aanhang nie, en wat nie die diepere dinge van Satan, soos hulle dit noem, leer ken het nie, sê Ek: Ek lê nie op julle 'n ander las nie, behalwe net om vas te hou aan wat julle het, totdat Ek kom. “ ‘Aan wie oorwin, en enduit vashou aan wat Ek sê, “ ‘sal Ek mag gee oor die nasies. Hy sal hulle as 'n herder lei met 'n ysterstaf, en hulle soos kleipotte stukkend slaan. Soos Ek dit van my Vader ontvang het, sal Ek aan hom ook die môrester gee. “ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê.’ ”
DIE OPENBARING 2:18-29 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En skryf aan die engel van die gemeente in Tiatira; Dit sê die Seun van God, wat sy oë het soos 'n vuurvlam, en sy voete is soos fyn koper; Ek ken jou werke en liefde en diens en geloof en jou lankmoedigheid en jou werke; en die laaste om meer te wees as die eerste. Nietemin het ek 'n paar dinge teen jou, omdat jy daardie vrou Isébel, wat haarself 'n profetes noem, toelaat om te leer en my dienaars te verlei om te hoereer en om afgode-offers te eet. En Ek het haar ruimte gegee om haar van haar hoerery te bekeer; en sy het haar nie bekeer nie. Kyk, Ek sal haar in 'n bed werp, en die wat met haar owerspel pleeg, in 'n groot verdrukking, as hulle hul nie bekeer van hul dade nie. En Ek sal haar kinders met die dood doodmaak; en al die gemeentes sal weet dat dit Ek is wat niere en harte deursoek; en Ek sal aan elkeen van julle gee volgens jou werke. Maar Ek sê vir julle en vir die ander in Thiatira, almal wat hierdie leer nie het nie en die dieptes van Satan nie geken het soos hulle spreek nie; Ek sal geen ander las op jou lê nie. Maar dit wat julle reeds het, hou vas totdat Ek kom. En aan hom wat oorwin en my werke tot die einde toe bewaar, aan hom sal Ek mag gee oor die nasies. En hy sal hulle regeer met 'n ysterstaf; soos die voorwerpe van 'n pottebakker sal hulle verbreek word, soos Ek van my Vader ontvang het. En Ek sal hom die môrester gee. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê.
DIE OPENBARING 2:18-29 Die Boodskap (DB)
Skryf die volgende aan die leier van die gemeente in Tiatira: Dit is ’n boodskap van die Seun van God af. Sy gloeiende oë kyk niks mis nie. Sy voete is van pragtige brons. Ek weet presies wat julle doen. Noem maar op: julle het mekaar lief; julle geloof is sterk; julle help mense wat julle hulp nodig het; julle gee nie sommer moed op nie. En wat hierdie dinge betref, gaan dit elke dag net beter met julle. Maar daar is iets waarvan Ek nie hou nie en waaroor Ek julle kwalik neem. Julle laat daardie vrou Isebel toe om te doen wat sy wil. Sy noem haarself mos iemand wat God se boodskap verkondig. Al wat sy doen, is om die mense wat My dien te mislei om verkeerde dinge aan te vang. Sy leer hulle om afgode te dien. Daar neem hulle aan onsedelike feeste deel en hulle sit sommer saam met die afgode aan tafel ook. Ek het haar oorgenoeg kans gegee om van die verkeerde pad af om te draai, maar sy wou nie. Sy vaar maar voort in haar onsedelikheid. Kyk nou mooi. Ek gaan haar met ’n siekbed straf. En almal wat saam met haar so onsedelik geleef het, sal bitter swaarkry. Daarvoor sal Ek sorg. Dit is hulle voorland, behalwe as hulle heeltemal ’n omkeer in hulle lewe maak en My weer voluit begin dien. Ek sal elkeen uitwis wat haar slegte voorbeeld volg. Elke kerklidmaat sal dan besef dat mense My nie om die bos kan lei nie. Nee, niemand kan iets vir My wegsteek nie. Ek weet wat elkeen dink en wat hier diep binne hom aangaan. Onthou dit maar: elke gelowige sal van My kry wat hy volgens sy optrede verdien. Daar is ook nog ’n klomp ander gelowiges in Tiatira. Hulle steur hulle nie aan die verkeerde dinge wat Isebel se mense kwytraak nie. Om die waarheid te sê, hulle het nie eens moeite gedoen om agter te kom wat die sogenaamde “diep kennis” is waaroor hierdie mense so te kere gaan nie. Dit kom buitendien van Satan af. Vir hulle wil Ek dit nie met ekstra versoeke swaarder maak as wat dit reeds is nie. Al wat Ek vra, is: Staan net vas by die evangelie soos julle dit leer ken het, tot Ek weer kom. Hy wat hom deur niks laat stuit nie en tot heel aan die einde doen wat Ek wil hê, sal nie spyt wees nie. Ek sal sulke mense mag gee om oor die lot van al die mense op aarde te besluit. Die Vader het presies daardie mag vir My gegee. Julle sal oor al die mense heers. Met mense wat dit nie wil aanvaar nie, sal dit gaan soos met ’n porseleinpot wat met ’n yster in stukke geslaan word. Maar, vir elkeen wat volhou om My te dien, sal Ek ’n nuwe en wonderlike toekoms gee. Maak oop julle ore. Hoor wat die Heilige Gees vir julle as Christene wil sê.
DIE OPENBARING 2:18-29 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Skryf aan die voorganger van die gemeente in Tiatira: So sê die Seun van God; Hy het oë soos ’n vuurvlam en sy voete is net soos gepoleerde koper: Ek ken jou handel en wandel, ook jou liefde, vertroue, bediening en volharding. Ek weet ook dat jou handel en wandel nou selfs nog beter is as voorheen. Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy die vrou Isebel laat begaan. Sy noem haarself ’n profetes. Sy onderrig en verlei my diensknegte om seksuele sondes te doen en om afgodsoffervleis te eet. Ek het haar ’n bepaalde tyd gegun om tot inkeer te kom, maar sy weier om haar te bekeer van haar seksuele sondes. Kyk, Ek pen haar op ’n siekbed vas, en die mense wat saam met haar aan seksuele wanpraktyke deelneem, gee Ek oor aan hewige swaarkry as hulle hulle nie van haar praktyke bekeer nie. Ek sal haar kinders doodmaak en al die gemeentes sal kennis neem dat dit Ek is wat gedagtes en bedoelings deursoek. Ek sal ook aan julle elkeen gee wat julle volgens julle handel en wandel verdien. Vir julle ander in Tiatira wat nie deel het aan daardie leer nie en nie van die diepere dinge van Satan, soos hulle dit noem, ’n studie gemaak het nie, sê Ek: Ek lê op julle geen ander verantwoordelikheid nie, behalwe om vas te hou aan wat julle het totdat Ek kom. Aan die een wat aanhou oorwin en enduit my werke praktyk maak, sal Ek bevoegdheid gee oor die nasies. Hy sal die nasies met ’n ysterstaf beheer en hulle soos kleipotte stukkend breek. Net soos Ek dit van my Vader ontvang het, sal Ek vir hom die môrester gee. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê.