DIE OPENBARING 2:1-7
DIE OPENBARING 2:1-7 Bybel vir almal (ABA)
“Jy moet vir die engel van die gemeente in die stad Efese skryf: Die Een wat die sewe sterre in sy regter-hand vashou en wat tussen die sewe goue lampe loop, sê: Ek weet alles wat jy doen. Ek weet jy werk hard vir My en jy is geduldig wanneer mense slegte dinge aan jou doen. Ek weet jy hou niks van slegte mense nie. Daar is mense by jou wat sê hulle is apostels, maar hulle is nie apostels nie. Jy het hulle getoets en uitgevind dat hulle vals is. Jy hou aan om die Here te dien, jy kry swaar omdat jy aan My behoort, maar jy word nie moeg om swaar te kry nie. Maar Ek is kwaad vir jou. In die begin was jy baie lief vir My, maar nou is jy nie meer baie lief vir My nie. Ja, jy moet onthou hoe baie jy verander het, en dan moet jy weer lewe soos Ek wil hê jy moet lewe. Jy moet weer die dinge doen wat jy gedoen het toe jy in My begin glo het. As jy dit nie doen nie, dan sal Ek kom en Ek sal jou lamp wegneem van sy plek. Ja, jy moet weer lewe soos Ek wil hê. Maar jy doen een ding wat reg is. Jy haat die dinge wat die Nikolaïete doen. Ek haat dit ook. As jy verstaan wat die Heilige Gees vir die gemeentes sê, dan moet jy gehoorsaam wees! As jy oorwin en aanhou glo, dan sal Ek vir jou die vrugte gee van die boom wat lewe gee, die boom wat in God se tuin is.”
DIE OPENBARING 2:1-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
SKRYF aan die engel van die gemeente in Éfese: Dít sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, wat wandel tussen die sewe goue kandelaars: Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lydsaamheid, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie; en dat jy dié op die proef gestel het wat sê dat hulle apostels is en dit nie is nie, en hulle leuenaars bevind het; en dat jy verdra het en lydsaamheid besit, en ter wille van my Naam gearbei en nie moeg geword het nie. Maar Ek het teen jou dat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy uitgeval het, en bekeer jou en doen die eerste werke. Anders kom Ek gou na jou toe en sal jou kandelaar van sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie. Maar dit het jy, dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat Ek ook haat. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat binne-in die paradys van God is.
DIE OPENBARING 2:1-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Skrywe aan die leraar van die gemeente in Efese: So sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe goue lampe rondgaan: Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle onvermoeide arbeid en julle volharding. Julle kan nie slegte mense verdra nie. Julle het ondersoek ingestel na die mense wat voorgee dat hulle apostels is, en dit nie is nie, en gevind dat hulle leuenaars is. Verder volhard julle ook; julle het baie vir my Naam verduur, en julle het nie moeg geword nie. Maar Ek het dít teen julle: julle het My nie meer so lief soos in die begin nie. Dink daaraan hoe ver julle al agteruitgegaan het. Bekeer julle en doen weer wat julle in die begin gedoen het. Anders, as julle julle nie bekeer nie, kom Ek na julle toe en sal Ek julle lamp van sy plek af wegvat! Maar dít het julle darem in julle guns: julle verafsku wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook verafsku. Elkeen wat kan hoor, moet luister na wat die Gees vir die gemeentes sê. Aan elkeen wat die oorwinning behaal, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe, wat in die paradys van God is.
DIE OPENBARING 2:1-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
“Skryf aan die boodskapper van die •gemeente in Efese: “Dit sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, en wat tussen die sewe goue kandelare rondbeweeg, “ ‘Ek ken jou dade, jou inspanning en volharding, en weet dat jy slegte mense nie kan verdra nie. Daarom het jy daardie mense wat sê dat hulle •apostels is, maar nie is nie, getoets, en hulle as leuenaars uitgewys. Verder hou jy aan om te volhard, en het jy ter wille van my Naam baie verduur, sonder om moeg te word. Maar Ek hou dit teen jou dat jy jou eerste liefde versaak het. Onthou dan waarvandaan jy uitgesak het, en bekeer jou: Gaan doen weer wat jy vroeër gedoen het. Anders, as jy nie tot bekering kom nie, sal Ek na jou toe kom, en jou kandelaar van sy staanplek af verwyder. Maar dít tel in jou guns: Jy haat die dade van die Nikolaïete, wat Ek ook haat. “ ‘Laat dié wat ore het, luister na wat die Gees aan die gemeentes sê. Aan wie oorwin, sal Ek te ete gee van die boom van die lewe wat in God se paradys staan.’ ”
DIE OPENBARING 2:1-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Skryf aan die engel van die gemeente van Éfese; Dit sê hy wat die sewe sterre in sy regterhand hou, wat tussen die sewe goue kandelaars wandel; Ek ken jou werke en jou arbeid en jou lankmoedigheid, en hoe jy die bose nie kan verdra nie; en jy het die wat sê dat hulle apostels is, en dit nie is, op die proef gestel en hulle leuenaars gevind. En jy het gedra en lankmoedigheid gehad en ter wille van my Naam gearbei en nie beswyk nie. Ek het nogtans iets teen jou, omdat jy jou eerste liefde verlaat het. Onthou dan waarvandaan jy geval het, en bekeer jou en doen die eerste werke; anders sal Ek gou na jou toe kom en jou kandelaar uit sy plek verwyder as jy jou nie bekeer nie. Maar dit het jy, dat jy die werke van die Nikolaïete haat, wat ek ook haat. Wie 'n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê; Aan hom wat oorwin, sal Ek gee om te eet van die boom van die lewe wat in die middel van die paradys van God is.
DIE OPENBARING 2:1-7 Die Boodskap (DB)
Skryf aan die leier van die gemeente in Efese die volgende: Dit is die Een wat die sewe leiers soos sterre in sy regterhand hou wat met julle praat. Ja, dit is Hy, Jesus, wat gedurig by sy sewe gemeentes, die sewe goue kandelare, is. Ek weet wat julle doen. Ek sien hoe julle alles ter wille van die evangelie doen en weier om moed op te gee. Ek sien dat julle slegte mense nie voor julle oë kan verdra nie. Julle glo ook nie sommer enige Jan Rap en sy maat wat voorgee dat hy God se boodskap preek nie. Ek weet julle het al ’n klomp van hulle vasgetrek wat voorgegee het om “groot predikers” te wees, maar van die kansel af staan en lieg. Mooi so! Ek herhaal: Ek kyk julle sterk eienskappe nie mis nie. Ek sien hoe julle vasbyt wanneer dit swaar gaan. Julle hou maar net aan en aan, omdat julle dit graag vir My wil doen. Julle word nie moeg daarvan nie. Maar daar is een ding wat My baie ongelukkig maak en wat Ek nie kan oorsien nie. Julle is nie meer so lojaal en liefdevol teenoor My soos julle eers was nie. Dink mooi hoe julle eers was en hoe julle nou is. Julle het darem ver geval! Verander weer julle gesindheid en optrede. Begin weer leef soos julle eers geleef het. Doen wat Ek graag wil hê julle moet doen. As julle nie wil verander nie, maar bly leef soos julle nou leef, het Ek slegte nuus vir julle. Julle gemeente sal ophou bestaan. Ek self sal julle gemeentekandelaar tussen die ander wegvat. Ek sê nie julle het niks wat in julle guns tel nie. Julle haat mos die dinge wat die Nikolaïete doen. Ek hou ook niks van hierdie klomp vals mense nie. Spits julle ore! Luister na die boodskap van die Heilige Gees. Dit is vir julle, die gelowiges, bedoel. Wie nie langs die pad uitval nie, maar enduit volhou, sal Ek beloon. Hy sal mag eet van die “boom van die lewe” wat in God se tuin, die paradys, staan. As iemand eers van hierdie boom se vrugte geëet het, sal hy nooit doodgaan nie.
DIE OPENBARING 2:1-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Skryf aan die voorganger van die gemeente in Efese: Só sê Hy wat die sewe sterre in sy regterhand vashou en wat tussen die sewe kandelare rondstap: Ek ken jou handel en wandel. Ek het ook jou harde werk en volharding raakgesien, en dat jy slegte mense nie kan verdra nie. Jy het ook navraag gedoen oor dié wat sê dat hulle apostels is, maar dit nie is nie. Jy het toe uitgevind dat hulle eintlik leuenaars is. Verder volhard jy en het jy ter wille van My baie verdra sonder om moeg te word. Maar Ek het hierdie klag teen jou: dat jy jou eerste liefde versaak het. Dink terug aan hoe ver jy uitgesak het en kom tot inkeer, en doen weer wat jy aan die heel begin gedoen het. Anders kom Ek na jou toe en sal Ek jou kandelaar van sy staanplek af verwyder, as jy nie tot inkeer kom nie. Maar daar is tog iets wat jy bly handhaaf het: Jy haat wat die Nikolaïete doen, net soos Ek dit ook haat. Elkeen wat kan hoor, moet luister wat die Gees aan die gemeentes sê. Elkeen wat aanhou oorwin, sal Ek laat eet van die boom van die lewe wat in die paradys van God staan.