DIE OPENBARING 19:13-16
DIE OPENBARING 19:13-16 Bybel vir almal (ABA)
Hy het klere gedra wat vol bloed was. Sy Naam was “Die Woord van God.” Die leërs van die hemel het agter Hom gery op wit perde. Hulle het mooi klere aangehad, klere wat wit en skoon is. 'n Skerp swaard het gekom uit die mond van die Persoon op die perd. Hy het die mense van die volke doodgeslaan met die swaard. Hy sal hulle met 'n yster-septer regeer. Ja, God wat alles kan doen, is baie kwaad vir hulle. Daarom sal die Persoon op die perd hulle straf. Hy sal hulle straf soos wanneer 'n mens druiwe in 'n parskuip stukkend trap. Daar was 'n Naam geskryf op die Persoon se klere en op sy heup. Die Naam was “Die Koning van die konings en die Here van almal wat regeer.”
DIE OPENBARING 19:13-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En Hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy Naam is: Die Woord van God. En die leërs in die hemel het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En uit sy mond gaan daar 'n skerp swaard om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer, en Hy trap die parskuip van die wyn van die grimmigheid en van die toorn van God, die Almagtige. En Hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: Die Koning van die konings en die Here van die here.
DIE OPENBARING 19:13-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy het klere aangehad wat met bloed deurweek was, en sy Naam is: “Die Woord van God.” Die leërs in die hemel het op wit perde agter Hom aan gery. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad. Uit sy mond het daar 'n skerp swaard uitgekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met 'n ystersepter regeer. Hy sal self die parskuip trap vir die wyn, die wyn van die toorn en die oordeel van God, die Almagtige. Op sy klere, by sy heupe, was daar 'n Naam geskrywe: “Die Koning van die konings en die Here van die heersers.”
DIE OPENBARING 19:13-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het klere aan wat met bloed deurweek is, en sy Naam is Die Woord van God. Toe het die leërs wat in die hemel is, geklee in blink klere van suiwer, fyn linne, Hom op wit perde gevolg. Uit sy mond het 'n vlymskerp swaard gekom om die nasies mee te tref, en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer. Hy sal ook self die parskuip van die geweldige toorn van God, die Almagtige, trap. Op sy klere, by sy heup, is 'n Naam geskryf: “Koning van die konings, en Heerser van die heersers”.
DIE OPENBARING 19:13-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En hy was bekleed met 'n kleed wat in bloed gedoop was, en sy naam is die Woord van God. En die leërs wat in die hemel was, het Hom gevolg op wit perde, bekleed met wit en rein fyn linne. En 'n skerp swaard gaan uit sy mond uit om die nasies daarmee te slaan; en Hy sal hulle met 'n ysterstaf regeer; en Hy trap die parskuip van die grimmigheid en toorn van God, die Almagtige. En hy dra op sy kleed en op sy heup die Naam wat geskrywe is: KONING VAN DIE KONINGS EN HERE VAN DIE HERE.
DIE OPENBARING 19:13-16 Die Boodskap (DB)
Sy klere was deurweek met bloed. Mense het van Hom gepraat as die “Woord van God”; die Een deur wie God sy wil bekendmaak. Die soldate van die hemel het op wit perde agter die Ruiter aangery. Hulle het nie oorlogsklere aangehad nie. Hulle het feesklere aangehad. Die klere was van die mooiste fyn, wit materiaal gemaak. Uit die Ruiter se mond het daar ’n vlymskerp swaard gekom. Dit is sy wapen waarmee Hy mense beveg en oorwin. Hy regeer hulle met ’n ysterhand. Hy sorg vir oordeel en straf. Soos iemand wat druiwekorrels stukkend trap, so sal Hy die woede en straf van die almagtige God oor mense laat losbars. Kyk op sy klere en op sy hemp, daar staan sy Naam geskryf: Hy is die Heerser oor almal wat heers; die Heer oor almal wat heer genoem word.
DIE OPENBARING 19:13-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hy het klere aangehad wat in bloed gedoop is, en sy Naam was: Die Woord van God. Die leërs van die hemel het Hom op wit perde gevolg. Hulle het fyn, helder wit klere aangehad. Uit sy mond het daar toe ’n skerp swaard gekom om die nasies mee te verslaan, en Hy sal hulle soos met ’n ysterstaf beheer. Hy sal self die parskuip vir die wyn trap, dit is die wyn van die toorn en woede van God, die Almagtige. Op sy kleed, by die heup, was ’n Naam geskryf: “Koning van die konings en Here van die heersers.”