DIE OPENBARING 1:1-3
DIE OPENBARING 1:1-3 Bybel vir almal (ABA)
In hierdie boek is die dinge geskryf wat gou moet gebeur. God het vir Jesus Christus gesê Hy moet hierdie dinge vir al sy dienaars sê en wys. Jesus Christus het sy engel na sy dienaar Johannes gestuur om hierdie dinge vir Johannes te sê en te wys. Johannes het alles neergeskryf wat God en Jesus Christus vir hom gesê en gewys het. In hierdie boek is die dinge geskryf wat later sal gebeur. Elkeen wat hierdie boek lees, is 'n gelukkige mens! En almal wat die dinge hoor en wat doen wat in hierdie boek geskryf is, is gelukkige mense! Want die tyd wanneer Christus weer kom, is naby!
DIE OPENBARING 1:1-3 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
DIE openbaring van Jesus Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat gou moet gebeur, en wat Hy deur die sending van sy engel aan sy dienskneg Johannes te kenne gegee het, wat getuig het van die woord van God en die getuienis van Jesus Christus — alles wat hy gesien het. Salig is hy wat die woorde van die profesie lees, en die wat dit hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.
DIE OPENBARING 1:1-3 Afrikaans 1983 (AFR83)
Wat hier volg, is deur Jesus Christus geopenbaar. God het die openbaring oor wat binnekort moet gebeur, vir Hom gegee om aan sy dienaars bekend te maak. Jesus het toe sy engel gestuur om sy dienaar Johannes dit alles te laat sien. Johannes is die getuie van wat God gesê en wat Jesus Christus bevestig het; hy getuig van alles wat hy gesien het. Geseënd is die een wat die woorde van hierdie profesie lees, en die mense wat dit hoor en wat ter harte neem wat daarin geskrywe staan, want die eindtyd is naby.
DIE OPENBARING 1:1-3 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hier volg 'n openbaring deur Jesus •Christus wat God Hom gegee het om aan sy diensknegte te toon wat binnekort moet gebeur. Hy het dit aan sy dienskneg Johannes duidelik gemaak deur sy engel wat Hy gestuur het. Dit is hy wat getuig van die woord van God, en die getuienis deur Jesus Christus – alles wat hy gesien het. Gelukkig is die een wat dit voorlees, en ook hulle wat die woorde van dié profesie hoor, en vashou aan dit wat daarin geskryf staan, want die bestemde tyd is naby.
DIE OPENBARING 1:1-3 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die Openbaring van Jesus Christus wat God aan hom gegee het om aan sy diensknegte te toon dinge wat binnekort moet gebeur; en hy het gestuur en dit deur sy engel aan sy dienaar Johannes te kenne gegee. Wat getuig het van die woord van God en van die getuienis van Jesus Christus en van alles wat hy gesien het. Geseënd is hy wat die woorde van hierdie profesie lees en die wat die woorde van hierdie profesie hoor en bewaar wat daarin geskrywe is, want die tyd is naby.
DIE OPENBARING 1:1-3 Die Boodskap (DB)
Daar is baie dinge wat mense nie weet nie. Net God weet dit. Jesus Christus het egter die gordyn kom wegtrek sodat mense wat Hom dien ook party van daardie goddelike dinge kan leer ken. Daarvan vertel hierdie brief. Dit is so: God het vir Jesus Christus gewys wat alles in die geskiedenis voorlê. Op sy beurt moes Hy dit wys vir mense wat Hom dien. Dit het Hy gedoen deur ’n engel na sy dienaar, Johannes, te stuur. Hier volg nou Johannes se presiese weergawe van daardie boodskap van God. Jesus Christus self staan in vir die waarheid daarvan. Johannes het alles wat hy deur visioene gesien het, mooi neergeskryf. Daarom is elkeen wat hierdie boodskap van God lees, baie gelukkig. Ja, gelukkig is almal wat hierdie goddelike woorde hoor en dit ernstig opneem, want daar is nie meer baie tyd oor nie.
DIE OPENBARING 1:1-3 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Dit is ’n openbaring wat van Jesus Christus af kom. God het dit aan Hom gegee om aan sy diensknegte bekend te maak wat binnekort moet gebeur. Hy het dit toe aan sy dienskneg Johannes gegee deur sy engel na hom toe te stuur. Johannes het getuienis gelewer van alles wat hy gesien het: wat God gesê het en wat Jesus getuig het. Geseënd is dié een wat die woorde van dié profesie lees, asook dié wat dit hoor en gehoorsaam wat daarin geskryf staan, want die tyd van beslissing is naby.