PSALMS 96:3-8
PSALMS 96:3-8 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Vertel die nasies van sy heerlikheid, aan al die volke van sy wonderdade. Groot is die HERE; lof kom Hom toe! Hý moet gedien word bo alle gode. Die gode van die volke is niks, die HERE het die hemele gemaak! Heerlikheid en majesteit is voor Hom; krag en glans is in sy heiligdom. Erken die HERE, geslagte van die aarde, erken die HERE vir sy heerlikheid en mag. Erken die HERE vir die roem van sy Naam! Bring offers vir Hom en kom na sy voorhowe.
PSALMS 96:3-8 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet vir die volke vertel, vir al die volke, julle moet vertel dat die Here Koning is en dat Hy wonderwerke doen. Want die Here is groot, mense moet Hom baie prys, hulle moet bang wees vir Hóm, nie vir al die afgode nie. Want al die gode van die volke beteken niks, maar dit is die Hére wat die hemel gemaak het. Almal wat Hom dien, weet dat Hy Koning is, almal in sy tempel weet dat Hy die sterk Koning is. Julle almal, al die volke, julle moet Hom prys, want Hy is Koning, Hy is sterk. Julle moet die Naam van die Here prys, julle moet vir Hom presente bring en na die oop stukke grond by sy tempel kom.
PSALMS 96:3-8 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Vertel onder die nasies sy eer, onder al die volke sy wonders. Want die HERE is groot en baie lofwaardig; Hy is gedug bo al die gode. Want al die gode van die volke is afgode, maar die HERE het die hemele gemaak. Majesteit en heerlikheid is voor sy aangesig, sterkte en sieraad in sy heiligdom. Gee aan die HERE, o geslagte van die volke, gee aan die HERE eer en sterkte. Gee aan die HERE die eer van sy Naam, bring offers en kom in sy voorhowe.
PSALMS 96:3-8 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vertel die nasies van sy mag, al die volke van sy magtige dade. Die Here is groot, al die lof kom Hom toe, ontsagwekkend is Hy bo alle gode. Al die gode van die volke is niks: dit is die Here wat die hemele gemaak het. Majesteit en luister straal van Hom uit, krag en glans vul sy heiligdom. Prys die Here, alle volke, prys die Here om sy eer en mag! Prys die Here om die eer van sy Naam! Kom na sy voorhowe toe, bring vir Hom offers!
PSALMS 96:3-8 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maak onder die nasies sy majesteit bekend, onder al die volke sy wonderdade. Want groot is die HERE en besonder lofwaardig; Hy is ontsagwekkend, meer as alle gode. Ja, al die gode van die volke is niksbeduidend, maar die HERE het die hemel gemaak. Luister en glans is voor Hom; krag en heerlikheid is in sy heiligdom. Gee eer aan die HERE, familiegroepe van volke! Gee eer aan die HERE vir sy heerlikheid en krag! Gee eer aan die HERE vir die heerlikheid van sy Naam! Bring dankbewyse en gaan sy voorhowe binne.
PSALMS 96:3-8 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Verkondig sy heerlikheid onder die heidene, sy wonders onder al die volke. Want die HERE is groot en baie lofwaardig; Hy is gevrees bo al die gode. Want al die gode van die nasies is afgode, maar die HERE het die hemel gemaak. Eer en majesteit is voor Hom, sterkte en skoonheid is in sy heiligdom. Gee aan die HERE, o geslagte van die volk, gee aan die HERE eer en sterkte. Gee aan die HERE die eer van sy Naam; bring 'n offer en kom in sy voorhowe.
PSALMS 96:3-8 Die Boodskap (DB)
Moenie stilbly nie. Vertel vir al die volke op aarde hoe sterk die Here is en wat Hy alles kan doen. Die Here is baie groot, en daarom moet ons Hom met ons mooiste woorde grootmaak. Hy is groter as enige ander god. Wat is die ander gode in vergelyking met Hom? Net mooi niks nie! Mense het hulle gemaak. Maar ons Here het die hemel gemaak waar mense dink daardie afgode is. As ’n mens by die Here is, word jy oorweldig; oorweldig deur hoe Hy oor alles heers, hoe belangrik Hy in vergelyking met enigiemand anders is, hoe sterk Hy is en hoe mooi alles by Hom is. Elke mens op hierdie aarde moet die Here erken vir wie Hy regtig is. Hulle moet erken dat Hy sterker en belangriker is as enigiemand anders. Gee daarom aan die Here die dank en eer wat net Hy verdien.