PSALMS 90:10-16
PSALMS 90:10-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die getal van ons jare kan 70 wees, of as ons sterk is, 80. Maar selfs die beste daarvan is vol swaarkry en verdriet. Die lewe is gou verby, en ons bestaan nie meer nie. Wie ken die krag van u toorn? Wie ken die vrees van u woede? Leer ons ons dae só gebruik dat ons wysheid kan bekom. Kom terug, HERE! Hoe lank gaan U nog uitstel? Ontferm U tog oor u dienaars! Vul ons met u genade in die oggend, dan sing ons van vreugde al ons dae. Gee ons vreugde na al ons lyding, na al die jare van onheil wat ons beleef het. Laat al u dienaars u werke sien, en hulle kinders u heerlikheid.
PSALMS 90:10-16 Bybel vir almal (ABA)
Ons lewe sewentig jaar, of as ons sterk is, dan lewe ons tagtig jaar, en ons kry die hele tyd swaar, daar gebeur elke dag slegte dinge. Ja, dit gaan gou verby, die tyd vlieg. Niemand weet wat U alles kan doen wanneer U kwaad is nie. Ons is bang vir U wanneer U kwaad is. U moet vir ons leer om elke dag so te lewe dat ons wyse mense sal word. Here, wanneer sal U weer jammer wees vir die mense wat vir U dien? U moet ons elke oggend help om te verstaan dat U doen wat U belowe het, dan sal ons juig en bly wees, so lank soos ons lewe. U het ons lank laat swaarkry, dit het lank sleg gegaan met ons. U moet ons nou lank bly laat wees. U moet vir ons, u dienaars, wys wat U doen, U moet Koning wees, ook Koning van ons kinders.
PSALMS 90:10-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die dae van ons jare — daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar; en die uitnemendste daarvan is moeite en verdriet; want gou gaan dit verby, en ons vlieg daarheen. Wie ken die sterkte van u toorn en u grimmigheid, ooreenkomstig die vrees wat aan U verskuldig is? Leer ons om ons dae so te tel dat ons 'n wyse hart mag bekom! Keer terug, HERE! Tot hoe lank? En ontferm U oor u knegte. Versadig ons in die môre met u goedertierenheid, sodat ons kan jubel en bly wees in al ons dae. Maak ons bly na die dae waarin U ons verdruk het, na die jare waarin ons onheil gesien het. Laat u werk vir u knegte sigbaar word en u heerlikheid oor hulle kinders.
PSALMS 90:10-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe. Wie ken die krag van u toorn beter as u dienaars? Wie ken u gramskap beter? Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom. Hoe lank nog, Here, voordat U ons te hulp kom? Ontferm U tog oor ons. Skenk ons elke dag u liefde in oorvloed, dat ons ons lewe lank mag juig en bly wees. Soveel dae as dié waarin U ons verdruk het, soveel jare as dié waarin ons gely het, gee ons soveel jare van blydskap. Laat u werk vir ons duidelik word en u grootheid vir ons kinders.
PSALMS 90:10-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die dae van ons lewensjare – dit is maar sewentig jaar, en as die kragte daar is, tagtig jaar. En die beste daarvan is vol moeite en rampe; ja, dit gaan gou verby, en ons vlieg weg. Wie ken die krag van u toorn? U gramskap is net so groot soos die ontsag vir U. Om ons lewensdae na waarde te skat – dit moet U ons leer, sodat ons 'n hart vol wysheid kan verwerf. Keer terug, HERE! Hoe lank nog? Ontferm U oor u diensknegte. Versadig ons in die oggend met u troue liefde, sodat ons al die dae van ons lewe kan juig en bly wees. Maak ons bly vir net so lank as wat U ons verdruk het, as die jare waarin ons teenspoed beleef het. Mag u werk vir u diensknegte duidelik word, en u glansryke dade vir hulle kinders.
PSALMS 90:10-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die dae van ons jare is tien en sestig jaar; en as hulle vanweë krag tagtig jaar is, is hulle krag tog arbeid en droefheid; want dit word gou afgesny, en ons vlieg weg. Wie ken die krag van U toorn? ook volgens jou vrees, so is jou toorn. Leer ons dus om ons dae te tel, sodat ons ons harte op wysheid kan wend. Keer terug, o HERE, hoe lank? en laat dit jou berou oor U dienaars. O, maak ons vroeg versadig met U goedertierenheid; dat ons kan jubel en bly wees al ons dae. Maak ons bly volgens die dae waarin U ons verdruk het en die jare waarin ons onheil gesien het. Laat U werk aan U dienaars verskyn en U eer aan hulle kinders.
PSALMS 90:10-16 Die Boodskap (DB)
Die meeste van ons word maar so 70 jaar oud. Mense wat sterker is, kan dalk nog 80 haal. Maar die lewe loop hand aan hand met swaarkry en hartseer. En dit gaan so bitter gou verby. Die dood kom nog vinniger as wat ons dink. Here, ons het ervaar hoe kwaad U vir ons kan word. Wie weet beter as ons hoe groot U woede is. Ons dien U nie soos U regtig verdien nie. Ons skiet ver te kort. Daarom vra ons: Help ons om U te dien en om gelukkig te lewe. Maak ons slim sodat ons elke dag sal gebruik om reg te doen. Here, hoe lank gaan U nog kwaad bly? Wanneer kom help U ons? Omvou almal wat U dien met u liefde! Gee ons elke dag arms vol van u groot liefde! Dan sal ons vir die res van ons lewe juig en bly wees. Gee vir ons net soveel blydskap as die swaarkry wat ons gehad het. Laat almal wat U dien, raaksien wat U doen. Wys vir ons wat ’n vol en gelukkige lewe U gee, ook vir ons kinders.