PSALMS 89:1-52

PSALMS 89:1-52 Bybel vir almal (ABA)

'n Lied. Van Etan, die Esragiet. Here, ek wil altyd sing en sê dat U elke maal doen wat U belowe het, ek wil vir elke geslag leer dat U altyd dieselfde bly. Ja, ek sê dat U altyd doen wat U belowe het, U sal dieselfde bly, soos die lug daarbo. U het gesê: “Ek het 'n verbond gemaak met die man wat Ek gekies het, Ek het vir my dienaar Dawid belowe en gesê: Jy sal altyd 'n nageslag hê, iemand van jou nageslag sal altyd koning wees.” Sela Here, almal in die hemel moet praat oor u wonderwerke, die vergadering van die engele moet praat en sê dat U altyd dieselfde bly. Want niemand anders in die hemel is soos die Here nie, nie een van die engele kan doen wat U doen nie. U is God, almal is bang vir U, almal in die groot vergadering van die engele. Almal rondom U respekteer U en dien U. Here, God wat oor alles regeer, niemand is so sterk soos U nie. Here, almal rondom U weet dat U altyd dieselfde bly. Dit is U wat die wilde see stil maak, dit is U wat die hoë branders stil laat word. Dit is U wat vir Rahab geslaan het sodat hy gesterf het, dit is U wat u vyande na al die kante toe gejaag het, want U is sterk. Die hemel behoort aan U, die aarde behoort ook aan U, die wêreld en alles daarop. U het hulle vas laat staan vir altyd. U het besluit waar die noorde en die suide moet wees, Tabor-berg en Hermon-berg juig omdat hulle U ken. U is sterk, U het baie krag, U kan doen wat U wil doen. U is die Koning wat reg doen aan almal en wat reg oordeel. U doen wat U belowe het en U bly dieselfde. Here, dit gaan goed met 'n volk wat weet hoe om vir U te juig en wat naby U kan lewe. Hulle juig die hele dag omdat hulle U ken, hulle vertel vir almal dat U reg doen. Hulle is sterk omdat U, die Koning, by hulle is, ons is sterk omdat U lief is vir ons. Die Here, die Heilige God van Israel, het ons koning vir ons gegee, die koning wat ons moet beskerm. Lank gelede het U verskyn aan die mense wat in U glo, en U het gesê: “Ek het besluit dat Ek 'n belangrike man sal help. Ek het iemand van die volk gekies en Ek het hom belangrik gemaak, Ek het my dienaar Dawid laat kom en Ek het hom gesalf met my gewyde olyf-olie. Ek sal hom beskerm en hom sterk maak. Sy vyande sal hom nie kan bedrieg nie, niemand sal hom verdruk nie. Ek sal die mense doodmaak wat teen hom is, Ek sal die mense doodslaan wat hom haat. Ek sal dieselfde bly vir hom, Ek sal doen wat Ek belowe het, Ek sal hom sterk maak. Ek sal hom laat regeer oor ver lande tot by die see en die riviere. Hy sal vir My sê: ‘U is my Vader, my God, die Rots wat my red.’ En Ek sal vir hom sê hy is vir My so belangrik soos 'n oudste seun, hy is die belangrikste koning op die aarde. Ek sal altyd vir hom doen wat Ek belowe het, Ek sal nooit my verbond met hom breek nie. Hy sal altyd 'n nageslag hê, iemand van sy nageslag sal koning wees so lank soos die son daar is. As 'n persoon van sy nageslag ophou om te doen wat Ek wil hê en nie lewe soos Ek sê nie, as hy maak of dit nie belangrik is om so te lewe nie, en hy doen nie wat Ek sê nie, dan sal Ek hom straf omdat hy opstandig is. Ek sal hom laat swaarkry omdat hy sonde doen. Maar Ek sal nie ophou om vir hom te doen wat Ek belowe het nie, Ek sal altyd dieselfde bly. My verbond sal vir My belangrik bly, Ek sal nie verander wat Ek gesê het nie. Ek het dit voorheen belowe, Ek, die heilige God, en Ek sal nie vir Dawid bedrieg nie. Sy nageslag sal nooit ophou nie, iemand van sy nageslag sal koning wees so lank soos die son daar is. Dit is so seker soos die maan, die getuie wat altyd in die lug is.” Maar, Here, U is nou kwaad vir u gesalfde, U het hom weggestoot, U het hom gelos. U het gemaak of U nie 'n verbond met u dienaar gemaak het nie, U het sy kroon op die grond laat val, en dit het vuil geword. U het al die mure om sy stad laat afbreek, U het sy sterk mure laat verwoes. Almal wat daar verbykom op die pad, vat die goed in die stad, die volke daar naby spot en lag vir die koning. U het sy vyande laat wen teen hom, U het al sy vyande bly gemaak. U het sy eie swaard stomp gemaak, hy kon nie wen en bly staan in die oorlog nie. U het hom laat ophou om koning te wees, U het sy troon omgegooi, dit lê op die grond. U het hom gou oud laat word, U het hom alles laat verloor. Sela Here, hoe lank wil U nog maak of U dit nie weet nie? Altyd? Hoe lank wil U kwaad bly en ons laat brand soos in 'n vuur? U moet onthou dat my lewe kort is. U het al die mense so gemaak dat hulle maklik sterf. Watter mens wat lewe, sal nie sterf nie? Niemand. Watter mens kan homself vrymaak van die dood? Niemand. Sela U het altyd gedoen wat U belowe het, hoekom doen U dit nie nou ook nie? Hoekom het U nie dieselfde gebly soos U vir Dawid belowe het nie? My Here, U moet daaraan dink dat mense vir my, u dienaar, gespot het. Ek het gehoor hoe al die volke my spot. Here, die mense wat my spot, is u vyande, hulle het vir my, u gesalfde, gespot oral waar ek gaan.

PSALMS 89:1-52 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

'N ONDERWYSING van Etan, die Esrahiet. Die goedertierenhede van die HERE wil ek vir ewig besing; ek wil u trou bekend maak met my mond van geslag tot geslag. Want ek het gesê: Goedertierenheid sal vir ewig gebou word; in die hemele — daar bevestig U u trou. Ek het 'n verbond gesluit met my uitverkorene, met 'n eed aan Dawid, my kneg, belowe: Tot in ewigheid sal Ek jou nageslag bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag. Sela. En die hemele loof u wondermag, o HERE, ook u trou in die vergadering van die heiliges. Want wie kan in die hemel met die HERE vergelyk word? Wie is soos die HERE onder die hemelinge, 'n God grootliks gedug in die raad van die heiliges en vreeslik bo almal wat rondom Hom is? O HERE, God van die leërskare, wie is soos U? Grootmagtig is U, o HERE, en u trou is rondom U! Ú heers oor die trotsheid van die see; as sy golwe hulle verhef, bring Ú hulle tot bedaring. Ú het Rahab verbrysel soos een wat verslaan is, met u sterke arm u vyande verstrooi. Aan U behoort die hemel, aan U ook die aarde; die wêreld en sy volheid — Ú het dit gegrond. Die noorde en die suide — Ú het dit geskape; Tabor en Hermon jubel in u Naam. U het 'n arm met mag; u hand is sterk, u regterhand verhewe. Geregtigheid en reg is die grondslag van u troon; goedertierenheid en trou gaan voor u aangesig uit. Welgeluksalig is die volk wat die geklank ken; o HERE, hulle wandel in die lig van u aangesig. In u Naam juig hulle die hele dag, en deur u geregtigheid word hulle verhef. Want U is hulle magtige sieraad, en deur u welbehae word ons horing verhef. Want aan die HERE behoort ons skild, en ons koning aan die Heilige van Israel. Toe het U in 'n gesig gespreek met u gunsgenoot en gesê: Ek het hulp verleen aan 'n held, 'n uitverkorene uit die volk verhef. Ek het Dawid, my kneg, gevind, met my heilige olie hom gesalf, met wie my hand bestendig sal wees; ook sal my arm hom versterk. Die vyand sal hom nie oorval en die kwaaddoener hom nie verdruk nie; maar Ek sal sy teëstanders voor hom weg verpletter; en die wat hom haat, sal Ek verslaan. En my trou en my goedertierenheid sal met hom wees, en deur my Naam sal sy horing verhef word. En Ek sal sy hand lê op die see en sy regterhand op die riviere. Hy is dit wat My sal noem: U is my Vader, my God en die rots van my heil! Ja, Ék sal hom 'n eersgeborene maak, die hoogste onder die konings van die aarde. Vir ewig sal Ek my goedertierenheid vir hom bewaar, en my verbond bly vir hom vas. En Ek sal sy nageslag vir ewig laat duur en sy troon soos die dae van die hemel. As sy kinders my wet verlaat en in my regte nie wandel nie; as hulle my insettinge ontheilig en my gebooie nie hou nie, dan sal Ek hulle oortreding met die roede besoek en met plae hulle ongeregtigheid. Maar my goedertierenheid sal Ek van hom nie wegneem en my trou nie verbreek nie. Ek sal my verbond nie ontheilig nie, en wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie. Een maal het Ek gesweer by my heiligheid: Waarlik, Ek sal vir Dawid nie lieg nie! Sy nageslag sal vir ewig wees en sy troon soos die son voor My. Soos die maan sal hy vir ewig vasstaan, en die getuie in die hemel is getrou. Sela. Maar U het self verstoot en verag, U het toornig geword teen u gesalfde. U het die verbond van u kneg tot niet gemaak, U het sy kroon ontheilig teen die grond. U het al sy mure stukkend gebreek, sy vestings 'n puinhoop gemaak. Almal wat met die pad verbygaan, het hom beroof; vir sy bure het hy 'n smaad geword. U het die regterhand van sy teëstanders verhef, al sy vyande bly gemaak. Ook het U die skerpte van sy swaard laat omdraai en hom nie laat standhou in die geveg nie. U het aan hom sy glans onttrek en sy troon teen die grond neergewerp. U het die dae van sy jeug verkort, hom met skaamte oordek. Sela. Hoe lank sal U, o HERE, Uself vir altyd verberg, sal u grimmigheid brand soos 'n vuur? Gedenk van watter lewensduur ek is, tot watter nietigheid U al die mensekinders geskape het! Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat sy siel sal kan red uit die mag van die doderyk? Sela. Here, waar is u vorige goedertierenhede wat U aan Dawid met 'n eed beloof het in u trou? Gedenk, Here, die smaad van u knegte, hoe ek in my boesem dra die smaad van al die baie volke, waarmee u vyande, o HERE, smaad, waarmee hulle die voetstappe van u gesalfde smaad.

PSALMS 89:1-52 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Gedig van Etan die Esragiet. Ek sal altyd sing van die Here se liefdesdade, sy trou verkondig aan komende geslagte. Ek sê: “U liefde en u trou wankel nooit, dit hou vir altyd stand in hemel en op aarde.” U het gesê: “Ek het 'n verbond gesluit met my uitverkorene, Ek het 'n eed gesweer vir my dienaar Dawid: Ek sal vir jou 'n nageslag verseker vir altyd en jou troon in elke geslag laat standhou.” Sela Die hemel loof u wondermag, Here, die hemelinge loof u trou. Wie in die hemel kan met die Here vergelyk word? Wie onder die hemelwesens is soos die Here? Hy is God, vir Hom het die hemelse vergadering 'n heilige ontsag. Hy is magtig, gevrees onder almal rondom Hom. Here, almagtige God, wie is soos U? U krag is groot, Here, u trou is oral! U heers oor die onstuimige see: as sy golwe opstaan, laat U hulle bedaar. U het die monster Rahab verbrysel, hy is verslaan. Deur u groot mag het U u vyande uitmekaargejaag. Aan U behoort die hemel, aan U behoort ook die aarde, die wêreld en alles daarin. U het alles gemaak. Die noorde en die suide, U het dit geskep; Tabor en Hermonberg roem u Naam. U het 'n magtige arm, sterk is u hand, kragtig u regterhand. U troon is gebou op geregtigheid en reg, liefde en trou staan in u diens. Dit gaan goed met die volk wat kan jubel tot u eer, wat in u lig lewe, Here. Hulle besing u Naam die hele dag, hulle prys u reddingsdade; U is die krag waarin hulle roem. Dit is ons sterkte: dat ons u guns geniet. Ons koning behoort aan die Here, ja, ons beskermer behoort aan die Heilige van Israel. U het 'n openbaring gegee, oor u troue dienaar het U gesê: “Ek het aan 'n held my bystand geskenk, aan 'n dapper jong man uit die volk 'n ereplek gegee. Ek het Dawid as my dienaar uitgesoek, hom met my heilige olie tot koning gesalf. My mag sal hom ondersteun, my krag sal hom sterk maak. Vyande sal hom geen leed aandoen nie, gewetenlose mense sal hom nie verdruk nie. Ek sal sy teëstanders voor hom verpletter en dié wat hom haat, verslaan. My trou en liefde sal by hom wees: deur My sal hy oorwin. Ek sal sy heerskappy uitbrei tot oor die see, sy gesag tot oorkant die riviere. Hy sal My aanroep met die woorde: ‘U is my Vader, my God, die rots wat my redding is.’ Ek stel hom eerste, die magtigste koning op aarde. Vir altyd handhaaf Ek my trou teenoor hom; my verbond met hom staan vas. Ek sal vir hom altyd nakomelinge verseker sodat sy troon vas sal staan so lank daar 'n hemel is. As sy nakomelinge nie handel volgens my woord nie en nie lewe volgens my bepalings nie, as hulle my voorskrifte verontagsaam en my gebooie nie nakom nie, sal Ek hulle oor hulle oortreding straf en hulle oor hulle sonde met swaar slae tref. Maar my liefde sal Ek van hom nie terughou nie, my trou nie verbreek nie. Ek sal my verbond nie versaak nie, nie een van my beloftes terugtrek nie. Ek, die Heilige, het 'n eed afgelê, en my woord aan Dawid sal Ek nie verbreek nie: daar sal altyd nakomelinge van hom wees, sodat sy troon so blywend soos die son sal wees. Soos die maan sal dit altyd daar wees. Solank die hemel daar is, sal dit vas bly staan.” Sela Maar nou het U in u toorn tog u gesalfde verstoot en verwerp. U het die verbond met u dienaar nie in ag geneem nie, sy kroon tot in die grond vertrap. U het al sy stadsmure afgebreek, sy vestings in puin gelê. Almal wat daarlangs kom, beroof hom; die buurvolke behandel hom met minagting. U het sy teëstanders laat seëvier, al sy vyande laat juig. U het hom voor die vyand laat vlug, hy kon nie staande bly in die oorlog nie. Aan sy koninklike luister het U 'n end gemaak, sy troon teen die grond gegooi. U het sy jeugdige krag gebreek en hom diep verneder. Sela Sal U dan vir altyd u hulp weerhou, Here? Sal die vuur van u gramskap dan bly brand? Dink tog daaraan hoe kort die lewe is, hoe min daar in die lewe is vir al die mense wat deur U geskep is. Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat homself kan red uit die mag van die doderyk? Sela Waar is u liefde van vroeër, Here, wat U in u trou plegtig aan Dawid belowe het? Dink, Here, aan die smaad wat my aangedoen is, aan alles wat ek moes verduur van baie volke. Die mense van wie hierdie smaad kom, is u vyande, Here, dit is u gesalfde vir wie hulle smaad waar hy ook gaan.

PSALMS 89:1-52 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

'n Maskiel . Van Etan, die Esragiet . Oor die troue liefde van die HERE wil ek altyd sing; van geslag tot geslag wil ek u trou met my mond bekend maak. Ja, ek sê dit: Vir ewig word u troue liefde gevestig; in die hemel hou U u trou in stand. “Ek het 'n verbond gesluit met my uitverkorene, Ek het aan my dienskneg, Dawid, met 'n eed belowe, ‘Vir altyd hou Ek jou nageslag in stand; van geslag tot geslag het Ek jou troon gevestig. ’ ” •Sela Die hemel moet u wonders prys, HERE; ja, u trou in die byeenkoms van heiliges. Want wie in die uitspansel kan langs die HERE gestel word? Wie onder die hemelwesens is aan die HERE gelyk – 'n uiters gedugte God in die kring van die heiliges, en gevrees deur almal om Hom? HERE, God van alle magte, wie is so magtig soos U, HERE? U trou omring U; U heers oor die deining van die see. Wanneer die golwe styg, bring U hulle tot bedaring. U, U het die deurboorde Rahab verpletter, met u sterk arm het U u vyande verstrooi. Aan U behoort die hemel, ook die aarde behoort aan U. Die wêreld en alles daarop – U, U het dit gegrondves. Die noorde en die suide – U, U het dit geskep. Tabor en Hermon jubel in u Naam. U het 'n magtige arm; u hand is sterk, u regterhand is verhewe. Reg en •geregtigheid is die grondslag van u troon; troue liefde en waarheid gaan U tegemoet. Gelukkig is die volk wat uitroepe van vreugde ken, wat in die lig van u teenwoordigheid loop, HERE! In u Naam juig hulle die hele dag, in u geregtigheid roem hulle; want U is hulle kragtige sieraad. Deur u aanvaarding het U ons sterk gemaak. Want aan die HERE behoort ons skild, aan die •Heilige van Israel behoort ons koning. U het destyds in 'n visioen 'n belofte gemaak aan u getroue volgelinge. U het gesê: “Ek het hulp verleen aan 'n held, Ek het 'n jong man uit die volk verhoog. Ek het Dawid, my dienskneg, gevind; met my heilige olie het Ek hom gesalf, hom by wie my hand bestendig sal wees; ja, my arm sal hom sterk maak. Vyande sal hom nie onverhoeds betrap nie, en skurke sal hom nie verdruk nie. Sy teenstanders sal Ek voor hom verpletter, en sy haters sal Ek platslaan. My getrouheid en troue liefde sal met hom wees, en in my Naam sal hy sterk word. Ek sal sy hand op die see lê, op die riviere sy regterhand. Hy, hy sal my aanroep, ‘U is my Vader, my God, en die rots wat my verlos.’ Ek sal hom dan •eersgeborene maak, die hoogste van die konings van die aarde. Vir altyd sal Ek vir hom my troue liefde handhaaf; en my verbond sal bestendig wees vir hom. Ek sal sy nageslag vir altyd vestig, en sy troon, solank as die hemel bestaan. “As sy seuns van my wet afwyk, volgens my beslissings nie leef nie; as hulle my vaste voorskrifte ontheilig, my bevele nie nakom nie, sal Ek hulle oortreding met slae straf en hulle sondeskuld met houe. Maar my troue liefde sal Ek nie aan hom onttrek nie, en Ek sal nie my trou verloën nie. Ek sal my verbond nie skend nie en wat oor my lippe gegaan het, nie verander nie. Vir eens en vir altyd het Ek by my heiligheid gesweer; Ek sal nie vir Dawid lieg nie: Sy nageslag sal altyd daar wees en sy troon soos die son voor My, soos die maan wat altyd standhou – 'n betroubare getuie aan die hemelruim.” •Sela Maar U self het hom verstoot en verwerp, U was woedend vir u gesalfde. U het die verbond met u dienskneg opgehef, sy kroon tot in die grond ontheilig. U het al sy skermmure afgebreek, van sy versterkte stede ruïnes gemaak. Almal wat daar verbygaan, het hom geplunder; hy het 'n bespotting geword vir sy bure. U het die regterhand van sy teenstanders hoog gelig. U het al sy vyande bly gemaak. U, o Rots, het ook sy swaard teen hom gedraai; U het hom nie staande gehou in die stryd nie. U het sy glans laat verdof en sy troon, dié het U teen die grond gegooi. U het die dae van sy jeug kortgeknip, hom in skaamte gehul. Sela Hoe lank nog, HERE? Gaan U Uself vir ewig verberg, sal u woede soos 'n vuur bly brand? Dink daaraan – wat is my lewensduur? Om watter sinlose rede het U alle mensekinders geskape? Watter jong man leef en sien nie die dood nie; wie kan sy lewe aan die mag van die •doderyk laat ontkom? Sela Waar is u troue liefde van vroeër, my Heer, wat U in u trou met 'n eed beloof het aan Dawid? My Heer, dink aan die bespotting van u diensknegte wat ek teen my bors dra; dink aan al die baie volke wat die spot dryf – aan u vyande, HERE, wat die spot dryf met u gesalfde waar hy ook al gaan.

PSALMS 89:1-52 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Ek wil sing van die goedertierenhede van die HERE tot in ewigheid; met my mond sal ek U trou van geslag tot geslag bekend maak. Want Ek het gesê: Barmhartigheid sal tot in ewigheid opgebou word; U trou sal U in die hemel bevestig. Ek het 'n verbond gesluit met my uitverkorenes, ek het aan my kneg Dawid gesweer, Ek sal jou nageslag vir ewig bevestig en jou troon opbou van geslag tot geslag. Sela. En die hemele sal U wonders loof, o HERE, U trou ook in die vergadering van die heiliges. Want wie in die hemel kan met die HERE vergelyk word? Wie onder die seuns van die magtiges kan met die HERE vergelyk word? God is grootliks gevrees in die vergadering van die heiliges en eerbiedig vir almal wat rondom Hom is. O HERE, God van die leërskare, wie is 'n magtige HERE soos U? of aan jou trou rondom jou? U heers oor die woedende see; as sy golwe opkom, maak U hulle stil. U het Ragab stukkend gebreek soos een wat verslaan is; U het U vyande met U sterk arm verstrooi. Aan U behoort die hemel, aan U behoort ook die aarde; die wêreld en die volheid daarvan, U het dit gegrond. Die noorde en die suide het U hulle geskape: Tabor en Hermon sal in U Naam bly wees. U het 'n magtige arm: sterk is U hand, en hoog is U regterhand. Geregtigheid en reg is die woning van U troon; barmhartigheid en trou sal voor U aangesig gaan. Geseënd is die volk wat die gejubel ken; hulle sal wandel, o HERE, in die lig van U aangesig. In u Naam sal hulle die hele dag bly wees, en in U geregtigheid sal hulle verhewe wees. Want U is die heerlikheid van hulle sterkte, en in U welbehae sal ons horing verhef word. Want die HERE is ons beskutting; en die Heilige van Israel is ons koning. Toe het U in 'n gesig met U Heilige gespreek en gesê: Ek het 'n magtige hulp verleen; Ek het een uit die volk uitverkies verhef. Ek het my dienaar Dawid gevind; met my heilige olie het Ek hom gesalf. Met wie my hand bevestig sal word; ook sal my arm hom versterk. Die vyand sal hom nie aanspreek nie; en die seun van goddeloosheid verdruk hom nie. En Ek sal sy vyande voor sy aangesig verslaan en die wat hom haat, pla. Maar my trou en my goedertierenheid sal by hom wees, en in my Naam sal sy horing verhef word. Ek sal ook sy hand in die see steek en sy regterhand in die riviere. Hy sal tot my roep: U is my vader, my God en die rots van my heil. En Ek sal hom my eersgeborene maak, hoër as die konings van die aarde. My goedertierenheid sal Ek vir hom bewaar tot in ewigheid, en my verbond sal by hom bly staan. En Ek sal sy nageslag vir ewig laat bestaan en sy troon soos die dae van die hemel. As sy kinders my wet verlaat en nie in my verordeninge wandel nie; As hulle my insettinge verbreek en my gebooie nie bewaar nie; Dan sal Ek hulle oortreding besoek met die roede en hulle ongeregtigheid met slae. Maar Ek sal my goedertierenheid nie heeltemal van hom wegneem en my getrouheid nie laat beswyk nie. My verbond sal Ek nie verbreek nie, en die ding wat oor my lippe gegaan het, sal Ek nie verander nie. Ek het eenmaal by my heiligheid gesweer dat ek nie vir Dawid sal lieg nie. Sy nageslag sal vir ewig bestaan, en sy troon soos die son voor my. Dit sal vir ewig vasstaan soos die maan en as 'n getroue getuie in die hemel. Sela. Maar jy het verwerp en verafsku, jy was toornig op jou gesalfde. U het die verbond van U kneg tot niet gemaak; U het sy kroon ontheilig deur dit op die grond te gooi. U het al sy heinings afgebreek; U het sy vestings verwoes. Almal wat op die pad verbygaan, plunder hom; hy is 'n smaad vir sy bure. U het die regterhand van sy teëstanders opgerig; U het al sy vyande bly gemaak. Jy het ook die skerpte van sy swaard laat draai en hom nie laat staan in die geveg nie. U het sy heerlikheid laat ophou en sy troon op die grond neergegooi. Die dae van sy jeug het U verkort; U het hom met skande bedek. Sela. Hoe lank, HERE? sal jy jou vir altyd verberg? sal jou toorn soos vuur brand? Onthou hoe kort my tyd is: waarom het U alle mense tevergeefs gemaak? Watter mens is dit wat lewe en die dood nie sal sien nie? Sal hy sy siel uit die hand van die doderyk red? Sela. HERE, waar is U vorige goedertierenhede wat U aan Dawid in U waarheid beloof het? Dink, HERE, aan die smaad van u dienaars; hoe dra ek die smaad van al die magtige mense in my boesem; Waarmee U vyande gesmaad het, o HERE! waarmee hulle die voetstappe van U gesalfde gesmaad het. Geseënd is die HERE vir ewig. Amen, en Amen.

PSALMS 89:1-52 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek wil altyd sing van die goedheid van die HERE. Ek wil, geslag na geslag, sy getrouheid bekendmaak. Ek het gesê: “U troue liefde sal vir altyd duur. U getrouheid is so standvastig soos die hemel.” U het gesê: “Ek het ’n verbond gesluit met my uitverkorene. Ek het ’n eed afgelê vir Dawid, my dienaar: ‘Ek sal jou nageslag vir altyd as konings vestig, en jou troon bou van geslag tot geslag.’” Sela HERE, die hemel prys u wondermag; die hemelse wesens prys u trou. Want wie in die hemel kan met die HERE vergelyk word? Wie onder die hemelse wesens is soos die HERE? In die hemelse vergadering is daar groot ontsag vir God. Hy is meer ontsagwekkend as hulle wat Hom omring. HERE, God die Almagtige, wie is magtig soos U, HERE? U is omring deur u getrouheid. U heers oor die bruisende oseane. As die golwe styg, laat U dit bedaar. U het vir Rahab vernietig, met u sterke arm u vyande verdryf. Aan U behoort die hemel, die aarde is u besitting, die wêreld en alles daarin – dit alles het U gemaak. U het noord en suid gemaak, Tabor en Hermon prys u Naam. U arm is toegerus met mag, u hand is sterk, u regterhand is omhoog! Geregtigheid en reg is die fondament van u troon. Onfeilbare trou en waarheid is tot u diens. Geseënd is hulle wat U met vreugde dien, wat lewe in die lig van u teenwoordigheid, HERE. Hulle juig die hele dag oor u Naam, is verheug oor u regverdigheid. U is hulle kragtige roem. Deur u goedheid is ons sterk. Die HERE is ons beskermer, die Heilige van Israel is ons koning. Voorheen het U deur ’n visioen met hulle wat aan U getrou is, gepraat en gesê: “Ek het hulp verleen aan ’n krygsman. Uit die gewone mense het Ek die uitverkore een verhef. Ek het my dienskneg Dawid gevind. Met heilige olie het Ek hom gesalf. Met my hand sal Ek hom ondersteun, met my arm sal Ek hom sterk maak. Vyande sal hom nie onderwerp nie, goddeloses sal hom nie verdruk nie. Ek sal sy vyande voor hom verpletter en sy haters verslaan. My trou en liefde sal met hom wees, en deur my Naam sal hy oorwin. Ek sal sy mag uitbrei tot by die see, en tot by die riviere. Hy sal vir My sê: ‘U is my Vader, my God, die rots van my redding.’ Ek sal hom my eersgeborene maak, die magtigste koning op aarde. Ek sal vir altyd aan hom my trou betoon; my verbond met hom vas laat staan. Ek sal ’n opvolger vir altyd bepaal; sy troon sal wees sonder einde, so lank as wat die hemel bestaan. Maar as sy seuns my gebooie nalaat en nie in my weë wandel nie, as hulle nie my bepalings navolg, nie my bevele gehoorsaam nie, dan sal Ek hulle eiesinnigheid straf, hulle oortredings swaar bestraf. Maar my liefde vir hom sal nooit ophou nie, en my trou aan hom sal Ek nie wegneem nie. Ek sal my verbond nie verbreek nie, en wat Ek beloof het, nie verander nie. Ek het by my heiligheid ’n eed afgelê, en my belofte aan Dawid sal Ek nie verbreek nie. Sy nakomelinge sal altyd daar wees, en sy troon sal blywend wees soos die son. Soos die maan is dit daar vir altyd, ’n getroue getuie in die lug!” Sela Maar U het hom verwerp en verstoot. U was kwaad vir u gesalfde. U het u verbond met hom laat vaar, U het sy kroon op die grond vertrap. U het al sy stadsmure afgebreek en sy vestings in puinhope verander. Elkeen wat verbykom, beroof hom, terwyl sy bure hom bespot. U het sy vyande laat triomfeer, al sy teenstanders laat jubel. U het sy swaard nutteloos gemaak, hom nie bygestaan in die geveg nie. U het sy grootsheid beëindig en sy troon op die grond gegooi. U het hom oud voor sy tyd gemaak en hom met vernedering oordek. Sela Hoe lank nog, HERE? Sal U Uself vir altyd verberg, en u toorn soos vuur laat brand? Dink tog hoe verganklik is die lewe. Is die skepping van die mens dan ’n nuttelose daad? Watter mens kan lewe sonder om die dood te sien? Wie kan homself red uit die mag van die doderyk? Sela Here, waar is u liefde van vroeër wat U in u trou met ’n eed aan Dawid beloof het? Dink tog, Here, aan die vernedering van u dienaars, hoe ek in my hart die beledigings van baie volke dra. Hulle wat spot, is u vyande, HERE, hulle bespot elke tree van u gesalfde.