PSALMS 78:32-39
PSALMS 78:32-39 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ten spyte hiervan het hulle steeds gesondig en nie aan sy wonders geglo nie. So het Hy hulle dae laat eindig in nietigheid, en hulle jare in verskrikking. Wanneer Hy 'n slagting onder hulle aangerig het, het hulle Hom geraadpleeg; hulle het teruggedraai en God gesoek. Hulle het onthou dat God hulle rots is, dat God, die Allerhoogste, hulle losser is. Maar hulle het Hom probeer oorreed met die mond en het vir Hom bly lieg met die tong. Hulle harte was nie standvastig teenoor Hom nie; hulle was nie getrou aan sy verbond nie. Maar Hy is barmhartig; Hy bedek hulle sondeskuld; Hy delg hulle nie uit nie. Hy hou dikwels sy toorn terug en laat nie sy woede ten volle ontwaak nie. Hy dink daaraan dat hulle vlees is, net maar 'n asemteug wat gaan en nie weer terugkeer nie.
PSALMS 78:32-39 Bybel vir almal (ABA)
God het dit alles gedoen, maar hulle het aangehou om sonde te doen, hulle het nie geglo dat dit Hý is wat die wonderwerke gedoen het nie. God het hulle laat sterf. Hulle lewens het niks beteken nie, dit was soos wind, hulle was elke dag bekommerd en bang. Elke maal wanneer God party mense laat sterf het, dan het die ander mense na Hom toe teruggekom en gesê dat hulle jammer is en dat hulle wil doen wat Hy wil hê. Hulle het dan gesê dit is God wat hulle Rots is, dit is die Hoogste God wat hulle kan vrymaak. Maar hulle wou Hom bedrieg, hulle het dinge gesê, maar hulle was vals. Hulle het nie regtig in God geglo nie, hulle het nie gedoen wat Hy gesê het toe Hy 'n verbond met hulle gemaak het nie. En God? Hy was genadig, Hy het hulle sonde vergewe, Hy het hulle nie almal laat sterf nie. Hy het baie maal weer goed geword vir hulle, Hy het nie vir hulle kwaad gebly nie. Hy het onthou dat hulle mense is, hulle is soos wind wat verbywaai en dan is dit weg.
PSALMS 78:32-39 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ondanks dit alles het hulle verder gesondig en nie aan sy wonders geglo nie. So het Hy dan hulle dae laat vergaan in nietigheid en hulle jare in verskrikking. Elke keer as Hy hulle gedood het, het hulle na Hom gevra en teruggekom en God gesoek; en hulle het daaraan gedink dat God hul rots was en God, die Allerhoogste, hul verlosser. En hulle het Hom met hul mond gevlei en Hom met hul tong belieg; maar hulle hart het nie aan Hom vasgehou nie, en hulle was nie trou in sy verbond nie. Maar Hy is barmhartig, Hy versoen die ongeregtigheid en verdelg nie, en dikwels wend Hy sy toorn af en wek nie al sy grimmigheid op nie. En Hy het daaraan gedink dat hulle vlees was, 'n wind wat weggaan en nie terugkom nie.
PSALMS 78:32-39 Afrikaans 1983 (AFR83)
Tog het hulle bly sondig en sy wonderdade het vir hulle niks gesê nie. Daarom het Hy hulle hulle dae vrugteloos laat deurbring en hulle jare vol kommer. Elke keer as God 'n slagting onder hulle aangerig het, het hulle na sy wil gevra, hulle bekeer en na Hom toe gekom. Hulle het bely dat God hulle rots, dat die Allerhoogste hulle verlosser is. Maar hulle was vals teenoor Hom, hulle was nie opreg in wat hulle gesê het nie, hulle was ontrou aan Hom, hulle het hulle nie aan sy verbond gehou nie. Maar Hy is genadig, Hy vergewe sonde, Hy wis sy volk nie uit nie. Dikwels het Hy sy toorn bedwing en sy gramskap nie laat losbreek nie. Hy het daaraan gedink dat hulle maar mense is, wind wat verbywaai en nie terugkom nie.
PSALMS 78:32-39 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Vir dit alles het hulle nog gesondig en nie geglo oor sy wonderdade nie. Daarom het Hy hulle dae in nietigheid vernietig en hulle jare in benoudheid. Toe hy hulle gedood het, het hulle hom gesoek; en hulle het teruggekeer en vroeg na God geraadpleeg. En hulle het daaraan gedink dat God hulle rots was, en die Hoë God hulle Verlosser. Nogtans het hulle hom met hul mond gevlei en vir hom gelieg met hul tong. Want hulle hart was nie reg met hom nie, en hulle was nie standvastig in sy verbond nie. Maar Hy, wat vol medelye was, het hulle ongeregtigheid vergewe en hulle nie vernietig nie; Want hy het onthou dat hulle maar vlees was; 'n wind wat verbygaan en nie terugkom nie.
PSALMS 78:32-39 Die Boodskap (DB)
Die volk het aangehou om verkeerde dinge te doen. Hulle het hulle net mooi niks aan God se wonders gesteur nie. Daarom dat God hulle lewe in die sand laat wegsyfer het. Hulle het vergaan. Elke keer as God hulle gestraf het, het hulle gou om genade kom smeek. Hulle het Hom gesoek en na Hom toe gedraai. Dan was hulle vinnig om te sê: “Ons kom kruip weg by God; die Allerhoogste is ons Redder.” Hulle het mooi woorde vir God gesê, maar niks daarmee bedoel nie. Hulle het kliphard gelieg! Hulle hart was ver van Hom af, hulle woorde en dade ook! Hulle het nie hulle ooreenkoms met Hom gehou nie. Gelukkig kry God mense jammer, Hy dink nie vir altyd aan hulle sondes nie; Hy sit nie net reg om te straf nie. Keer op keer vat God die straf weg wat Hy op mense wil loslaat, Hy hou gou op om vir mense kwaad te wees. God het onthou dat sy volk doodgewone mense is. Hulle is soos ’n wind wat ’n rukkie waai en dan verdwyn.
PSALMS 78:32-39 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Tog het hulle aanhou sondig, en geweier om in sy wonders te glo. Daarom het Hy hulle dae in nietigheid tot ’n einde laat kom, en hulle jare in onheil. Wanneer God sommige van hulle laat omkom, het hulle weer na sy wil gevra. Dan het hulle berou getoon en ywerig na God toe teruggekom. Hulle het onthou God is hulle rots, en die Allerhoogste hulle verlosser. Maar met die mond het hulle Hom bedrieg; en met die tong vir Hom gelieg. Hulle hart was ontrou aan Hom, sy verbond het hulle nie gehou nie. Tog was Hy genadig en het hulle sondes vergewe en nie hulle almal vernietig nie. Dikwels het Hy sy toorn teruggehou en sy woede nie losgelaat nie. Want Hy het daaraan gedink dat hulle sterflinge is, ’n asempie wat spoedig verdwyn en nooit weer terugkom nie.