PSALMS 78:13-16
PSALMS 78:13-16 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het die see oopgekloof en hulle laat deurtrek; Hy het die water laat opdam soos 'n wal. Hy het hulle met 'n wolk gelei bedags, en die hele nag met die lig van vuur. Hy het rotse oopgekloof in die woestyn, en hulle baie laat drink, asof daar 'n vloed was. Hy het strome uit die rotswand laat vloei, en water laat afloop soos riviere.
PSALMS 78:13-16 Bybel vir almal (ABA)
Hy het 'n pad deur die see gemaak en Hy het hulle laat deurloop, die water het soos 'n muur gestaan. God het sy volk in die dag gelei met 'n wolk en elke nag het Hy hulle met die lig van 'n vuur gelei. God het rotse oopgebreek in die woestyn en Hy het sy volk laat drink van die water diep onder die aarde. Hy het strome water uit klip laat kom, die water het gevloei soos riviere.
PSALMS 78:13-16 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Hy het die see geklief en hulle laat deurgaan en die waters laat staan soos 'n wal. En Hy het hulle bedags gelei met 'n wolk en die hele nag met 'n lig van vuur. Hy het rotse gekloof in die woestyn en hulle oorvloedig laat drink soos uit watervloede. En Hy het strome laat uitgaan uit die rots en die waters laat afloop soos riviere.
PSALMS 78:13-16 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy het die see oopgekloof en hulle laat deurtrek. Hy het die water laat opdam en dit het soos 'n muur gestaan. Bedags het Hy hulle met 'n wolk gelei, snags met die lig van 'n vuur. Hy het rotse in die woestyn oopgekloof en soos by groot waterstrome almal se dors geles. Hy het water uit die rots laat stroom, dit soos riviere laat vloei.
PSALMS 78:13-16 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Hy het die see verdeel en hulle laat deurtrek; en hy het die waters soos 'n hoop laat staan. Ook bedags het Hy hulle met 'n wolk gelei en die hele nag met 'n lig van vuur. Hy het die rotse in die woestyn gekloof en hulle laat drink soos uit die groot dieptes. Hy het ook strome uit die rots gebring en waters soos riviere laat afloop.
PSALMS 78:13-16 Die Boodskap (DB)
Die Here het die see voor hulle laat oopgaan sodat hulle daardeur kon stap. Hy het die water daardie dag soos ’n muur laat opdam. Bedags het Hy ’n wolk gestuur om hulle te lei. En snags was daar ’n bol vuur in die lug om hulle op die regte pad te hou. Daar in die woestyn het God rotse oopgebreek en hulle dors weggevat deur vir hulle strome water uit die rots te gee om te drink. Strome, nee, riviere vol water het uit die rotse geloop.
PSALMS 78:13-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die see het Hy oopgekloof en hulle laat deurtrek. Hy het die water soos mure laat staan. Bedags het Hy hulle met ’n wolk gelei, en snags met ’n lig van vuur. In die woestyn het Hy rotse gekloof, hulle laat drink asof uit diepwaters. Hy het waterstrome uit die rots laat vloei, die water soos riviere laat stroom.