PSALMS 63:2-9
PSALMS 63:2-9 Bybel vir almal (ABA)
O God, U is my God, ek wil naby U wees. Ek verlang na U hier in 'n droë land, hier is nie water nie, en alles kry swaar om te lewe. Ek het in die tempel na U gekyk, en ek het gesien dat U sterk is en dat U die Koning is. Ek wil dit nou ook weer sien. U doen wat U belowe, en dit is beter as die lewe self. Daarom wil ek U prys. So sal ek vir U dankie sê so lank soos ek lewe, ek sal my hande uitsteek na U toe en ek sal u Naam sê. Dit sal vir my lekker wees, so lekker soos 'n fees-ete, wanneer ek sing en U prys. Wanneer ek aan U dink hier op my bed, wanneer ek die hele nag oor U lê en dink, dan onthou ek dat U my altyd gehelp het en my beskerm het soos 'n hen haar kuikens beskerm. En dan sing ek weer. Ek wil naby U bly, U hou my regop met u sterk hand.
PSALMS 63:2-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
O God, U is my God, U soek ek; my siel dors na U, my vlees smag na U, in 'n dor en uitgedroogde land, sonder water. Só het ek U in die heiligdom aanskou, om u sterkte en u heerlikheid te sien. Want u goedertierenheid is beter as die lewe; my lippe moet U prys. Só sal ek U prys my lewe lank, in u Naam my hande ophef. Soos met vet en vettigheid sal my siel versadig word, en my mond sal roem met jubelende lippe as ek aan U dink op my bed, in die nagwake oor U peins. Want U was 'n hulp vir my, en in die skaduwee van u vleuels sal ek jubel. My siel is aan U verkleef; u regterhand ondersteun my.
PSALMS 63:2-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in 'n dor en droë land, 'n land sonder water. Ek wil by U in die heiligdom wees om daar u mag en grootheid te ondervind. U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys. Ek sal U my lewe lank loof, my hande ophef om u Naam te prys. Soos elke keer wanneer ek u goeie gawes geniet, sal ek U altyd roem met jubelende mond. As ek aan U dink op my bed, oor U peins in die nag, dan weet ek: U is vir my 'n hulp, en dan juig ek oor die beskerming onder u vleuels. Ek bly altyd naby U, u hand ondersteun my.
PSALMS 63:2-9 Die Boodskap (DB)
God, U is my God! Ek soek U! Ek verlang na U soos iemand wat baie dors is. Met alles wat ek het, begeer ek om by U te wees. Soos iemand wat water in die woestyn soek, soek ek na U. Ek verlang met my hele wese om U te aanbid. Ek wil u krag en u grootheid beleef. Dit is beter om u groot liefde te ervaar as om baie oud te word sonder U. Ek loof U daarvoor. Ek sal U met my hele lewe prys. Ek sal my hande in die lug steek om U groot te maak. Om U te prys maak my lewe vol en ryk. Ek loof U vir die goeie geskenke wat U vir my gee. Ek is bly oor U. Ek sal u Naam vrolik besing as ek gaan slaap of as ek in die nag oor U dink. U het my gehelp. U beskerm my en ek is baie bly daaroor. Met alles binne-in my wil ek aan U vashou. U dra my deur die lewe.
PSALMS 63:2-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
O God, U is my God, ek soek na U, ek smag na U; my hele liggaam verlang na U soos ’n dor land sonder water. Ek het U inderdaad in die heiligdom gesien en u krag en heerlikheid aanskou. U troue liefde is beter as die lewe; daarom prys ek U! Daarom wil ek U prys so lank as wat ek lewe, en in u Naam my hande ophef. U versadig my meer as die rykste kos. Met vreugdeliedere sal ek U loof. As ek op my bed lê en aan U dink, oor U nadink in die nag, onthou ek hoe U my gehelp het. Dan wil ek sing in die skaduwee van u vleuels. Ek is aan U verbind, u regterhand hou my staande.