PSALMS 51:7-13
PSALMS 51:7-13 Bybel vir almal (ABA)
Ek weet, ek het verkeerd gedoen vandat ek gebore is, ek was 'n sondaar voordat ek gebore is. Ek weet, U hou van die waarheid, ook in die donker, U leer vir my wysheid waar niemand dit kan sien nie. U moet my reinig van my sonde, soos die priesters dinge reinig met 'n hisop-takkie. U moet my rein maak soos wanneer iemand iets skoon was, so skoon dat dit witter as sneeu is. U het my baie swaar laat kry, maar U moet my weer vrolik en bly maak, U moet my weer laat juig. U moenie na my sonde kyk nie, U moenie dink aan al die verkeerde dinge wat ek gedoen het nie. O God, gee vir my 'n nuwe hart wat rein is, maak my gees in my nuut, sodat ek altyd aan U kan behoort. U moenie vir my weggooi nie, U moet altyd by my bly.
PSALMS 51:7-13 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang. Kyk, U het 'n welgevalle aan waarheid in die binneste, en in die verborgene maak U aan my wysheid bekend. Ontsondig my met hisop, dat ek kan rein wees; was my, dat ek witter kan wees as sneeu. Laat my vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente juig wat U verbrysel het. Verberg u aangesig vir my sondes en delg uit al my ongeregtighede. Skep vir my 'n rein hart, o God, en gee opnuut in die binneste van my 'n vaste gees. Verwerp my nie van u aangesig nie en neem u Heilige Gees nie van my weg nie.
PSALMS 51:7-13 Afrikaans 1983 (AFR83)
Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het. Maar U verwag opregtheid diep in 'n mens se hart: laat ek dan diep in my binneste weet hoe U wil dat ek moet lewe. Neem tog my sonde weg dat ek rein kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees. Laat my weer blydskap en vreugde belewe. U het my verbrysel; laat my weer jubel. Moet tog nie ag slaan op my sondes nie, wis al my skuld uit! Skep vir my 'n rein hart, o God, vernuwe my gees en maak my standvastig. Moet my tog nie van U af wegdryf en u Heilige Gees van my af wegneem nie!
PSALMS 51:7-13 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Kyk, in sondeskuld is ek gebore, sondig toe my moeder met my swanger geraak het. Kyk, getrouheid verwag u reeds in die moederskoot, in die verborgenheid leer U my wysheid. Neem my sonde weg met marjolein sodat ek rein kan wees, was my, dan sal ek witter as sneeu wees. Laat my weer uitroepe van vreugde en blydskap hoor; laat die gebeente wat U verbrysel het, juig. Sluit u oë vir my sonde, en al my sondeskuld, wis dit uit! Skep 'n rein hart vir my, o God, vernuwe 'n bestendige gees in my binneste. Moet my tog nie wegdryf uit u teenwoordigheid nie; en moet u •heilige Gees nie van my wegneem nie.
PSALMS 51:7-13 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Reinig my met hisop, en ek sal rein word; was my, en ek sal witter wees as sneeu. Laat my blydskap en blydskap hoor; sodat die gebeente wat jy gebreek het, bly kan wees. Verberg u aangesig vir my sondes en wis al my ongeregtighede uit. Skep vir my 'n rein hart, o God; en vernuwe 'n regte gees in my binneste. Verwerp my nie van U aangesig af nie; en neem u heilige gees nie van my af nie. Gee my die vreugde van U verlossing terug; en ondersteun my met u vrye gees. Dan sal Ek oortreders U weë leer; en sondaars sal hulle tot U bekeer.
PSALMS 51:7-13 Die Boodskap (DB)
Vandat ’n mens die dag gebore word, ja, vandat jou ma begin verwag, is verkeerde dinge deel van jou lewe. Ek sien dit in my eie lewe. Vandat my ma my in die wêreld gebring het, dryf iets my om ongehoorsaam aan die Here te wees. U wil hê ’n mens moet altyd eerlik en opreg wees, Here. Ek wil bitter graag weet wat U van my verwag. Hoe wil U hê moet ek lewe? Vat asseblief al die verkeerde dinge wat ek gedoen het ver van my af weg, Here. Kyk op ’n splinternuwe manier na my. Sien my weer as iemand wat niks verkeerds gedoen het nie. My lewe moet so skoon wees soos die witste wol. Help my om weer opgewonde en bly te wees. Help my om te jubel van vreugde, al het U my swaar gestraf. Moet nooit weer dink aan die verkeerde dinge wat ek gedoen het nie. Vat alles weg uit my lewe wat nie reg is in u oë nie. Maak my opreg, God! Maak my van kop tot tone nuut sodat ek kan vasstaan. Moet my nie van U af wegstoot nie. Jaag my nooit voor U weg nie. Laat u Goddelike krag ook nie van my af weggaan nie. U krag sorg dat ek doen wat U vra.
PSALMS 51:7-13 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Want ek is as sondaar gebore, en was dit toe my ma swanger geword het. Maar U verwag waarheid in die hart. U leer my om wysheid te besit. Neem weg my sonde met hisop sodat ek skoon kan wees, was my dat ek witter as sneeu kan wees. Gee my tog weer blydskap en vreugde; U het my stukkend gebreek, laat my weer vol vreugde wees. Moenie let op my sondes nie, en wis al my oortredings uit. Skep vir my ’n rein hart, o God. Gee my ’n nuwe, standvastige gees. Moenie my verban wég van u teenwoordigheid nie, en moenie u Heilige Gees van my af wegneem nie.