PSALMS 42:6-11
PSALMS 42:6-11 Bybel vir almal (ABA)
Ek moenie so treurig en ontsteld wees nie, ek moet glo dat God my sal help, ja, ek sal weer 'n lied sing om Hom te prys. Hy is naby, Hy sal my red, Hy is my God. Wanneer ek so treurig is, dan dink ek aan U hier waar ek is in die land by die Jordaan-rivier en by die Hermon-berge, hier by die Klein-berg. Wanneer U die watervalle laat raas, dan is dit soos wanneer die diep waters vir mekaar skree, en U al die branders en die groot golwe oor my laat spoel. As die Here elke dag vir my doen wat Hy belowe het, dan sal ek elke nag 'n lied vir Hom sing, ek sal bid tot die God wat my laat aanhou lewe. Ek sal vir God sê: My Rots, hoekom het U my vergeet? Hoekom moet ek aanhou rou omdat vyande my laat swaarkry? Dit voel of iemand my doodsteek wanneer my vyande my spot en aanhou sê: “Waar is jou God?”
PSALMS 42:6-11 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Wat buig jy jou neer, o my siel, en is onrustig in my? Hoop op God; want ek sal Hom nog loof — die verlossing van sy aangesig! O My God, my siel buig hom neer in my; daarom dink ek aan U uit die land van die Jordaan en die Hermons, van die klein gebergte af. Die vloed roep na die vloed by die gedruis van u waterstrome; al u bare en u golwe het oor my heengegaan. Maar die HERE sal oordag sy goedertierenheid gebied, en in die nag sal sy lied by my wees, 'n gebed tot die God van my lewe. Ek wil spreek tot God: My rots, waarom vergeet U my? Waarom gaan ek in die rou deur die vyande se verdrukking? Met 'n doodsteek in my gebeente smaad my teëstanders my as hulle die hele dag vir my sê: Waar is jou God?
PSALMS 42:6-11 Afrikaans 1983 (AFR83)
Waarom is ek so in vertwyfeling en waarom kerm ek so? Vertrou op God! Ja, ek sal weer vir Hom 'n loflied sing. Hy is my helper en my God! Uit my vertwyfeling roep ek na U hier van die Jordaangebied, van Hermonberg, van die Kleinberg af waar die waters teen mekaar raas en u waterstrome bruis. U het golf na golf oor my laat slaan. Tog sal die Here weer op 'n dag sy trou laat blyk en sal ek selfs in die nag 'n lied vir Hom sing, 'n gebed tot die God van my lewe. Ek wil vir God sê: “My Rots, waarom het U my vergeet? Waarom moet ek gebuk gaan onder die smaad van die vyand?” Dit sny deur my hele wese as my teëstanders my spot en dag na dag vir my sê: “En waar is jou God nou?”
PSALMS 42:6-11 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Waarom kwyn jy weg, my siel, en is jy so onrustig in my? Hoop op God, want ek sal Hom weer prys vir die verlossing wat sy teenwoordigheid bring. My God! My siel kwyn weg in my, daarom dink ek aan U hier uit die Jordaanstreek en by die Hermonberge, hier van berg Misar af. Die diep water laat die geluid van u watervalle weergalm. Al u deinings en golwe het oor my gespoel. Bedags sal die HERE sy troue liefde laat geld, en snags sal 'n lied vir Hom by my opkom, 'n gebed tot die God van my lewe. Ek wil vir God sê: “My rotsvesting, waarom het U my vergeet, waarom moet ek in rouklere loop oor die verdrukking deur 'n vyand?” Dit sny tot op die been, as my teenstanders my tart deur die hele dag lank vir my te vra: “Waar is jou God?”
PSALMS 42:6-11 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
O my God, my siel is in my binneste neergewerp; daarom sal ek aan u dink uit die land Jordaan en van die Hermoniete, van die heuwel Misar af. Dieptes roep tot dieptes van die geraas van jou waterstrome; al jou golwe en jou golwe het oor my gegaan. Maar die HERE sal sy goedertierenheid bedags beveel, en in die nag sal sy lied by my wees en my gebed tot die God van my lewe. Ek sal tot God, my rots, sê: Waarom het U my vergeet? waarom gaan ek treur oor die onderdrukking van die vyand? Soos met 'n swaard in my gebeente, smaad my vyande my; terwyl hulle daagliks vir my sê: Waar is jou God? Waarom is jy neergewerp, o my siel? en waarom is jy onrustig in my? hoop jy op God, want ek sal Hom nog loof wat die gesonde van my aangesig en my God is.
PSALMS 42:6-11 Die Boodskap (DB)
Ek sê vir myself: Moenie nou moedeloos word nie. Moenie twyfel nie. Waarom so hartseer? Vertrou net op God. Ek gaan Hom loof, al kry ek baie swaar. Dit is Hy wat my uit my swaarkry red. Ek sal weer vir Hom ’n loflied sing. My God, ek is heeltemal moedeloos. Hier sit ek by ’n waterstroom ver van die plek waar ek U aanbid het. Hier ver weg van almal dink ek aan U. My gedagtes dwaal ver terug. In die agtergrond bruis die waterstrome. Net soos die watermassas oor die stompe en klippe slaan, so het U ’n groot klomp swaarkry en hartseer oor my laat spoel. Maar die Here sal my weer bevry. Bedags sal Hy by my wees met sy liefde, terwyl ek in die nag lofliedere vir Hom sal sing. In my gebed sal ek by Hom wees. Ek sal tot Hom bid, want Hy is die God wat my oppas. Ek wil vir God sê: “U bewaar my mos! Waarom het U dan vergeet om my te help? Waarom moet ek so swaarkry? Waarom moet ek hartseer wees? Mense wat niks van my hou nie, maak dit vir my moeilik. Hulle gespot word vir my te erg.” Dit voel of hulle ’n mes in my hart steek as hulle heeltyd vir my sê: “Waar is jou God dan? Hoekom help Hy jou nie?”
PSALMS 42:6-11 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hoekom is ek nou so mismoedig? Hoekom so hewig ontsteld? Nee, ek plaas my hoop op God! Ek sal Hom weer prys. Hy is my redder en my God! Tog is ek nou terneergedruk. Ek onthou hoe, vanaf die Jordaangebied, vanaf die berge van Hermon en die hoogte van Miskar, die rumoer van u watervalle druis en dreun. So het al u strome en golwe ook oor my gegaan. Tog sal die HERE bedags weer sy trou betoon. Selfs in die donker nag sing ek sy lied, ’n gebed tot die God van my lewe. Ek sal roep tot God en sê: “My Rots, waarom het U my vergeet? Waarom moet ek met rouklere loop omdat die vyand my verdruk?” Dis soos ’n diep wond in my binneste wanneer vyande met my spot, wanneer hulle dag na dag vra: “Waar is jou God?”