PSALMS 40:3-4
PSALMS 40:3-4 Bybel vir almal (ABA)
En toe het Hy my opgetrek uit die diep gat vol slym en modder, ek het amper daar gesterf. Hy het my op 'n rots neergesit, my voete kon daar vas staan. Hy het vir my 'n nuwe lied laat sing, 'n lied om ons God te prys. Baie mense het gesien wat Hy gedoen het, en hulle het Hom gerespekteer en gedien, hulle het geglo dat die Here hulle sal help.
PSALMS 40:3-4 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
en Hy het my uit die kuil van vernietiging, uit die modderige slyk opgetrek en my voete op 'n rots gestel; Hy het my gange vasgemaak. En Hy het 'n nuwe lied in my mond gegee, 'n lofsang tot eer van onse God. Baie sal dit sien en vrees en op die HERE vertrou.
PSALMS 40:3-4 Afrikaans 1983 (AFR83)
Hy het my uitgetrek uit die put van die dood, uit die slymerige modder, my op 'n rots laat staan en my weer op vaste grond laat loop. Hy het my 'n nuwe lied in die mond gelê, 'n loflied vir ons God. Baie sal daarvan hoor en Hom die eer toebring, hulle sal op die Here vertrou!
PSALMS 40:3-4 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Hy het my opgetrek uit die put van verderf, uit die modderige slik. Hy het my voete op 'n rotsbank laat staan, my voetstappe vastigheid gegee. Hy het 'n nuwe lied in my mond gelê, 'n lofsang vir ons God. Baie sal dit sien, en ontsag hê, ja, hulle sal op die HERE vertrou.
PSALMS 40:3-4 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Hy het 'n nuwe lied in my mond gelê, lof tot eer van onse God; baie sal dit sien en vrees en op die HERE vertrou. Welgeluksalig is die man wat die HERE vertrou en die hoogmoediges nie ag nie en nie die wat afwyk tot leuens nie.
PSALMS 40:3-4 Die Boodskap (DB)
Hy het my uit die dood opgetel. Dit was of ek in modder weggesak het. Nou is my lewe weer op die regte koers. Ek staan sterk. Hy het weer nuwe blydskap in my lewe gegee. Ek sal ’n nuwe lied tot die Here se eer sing, want Hy is ons God. Baie mense sal raaksien wat Hy gedoen het. Dit sal maak dat hulle op Hom vertrou. Hulle sal Hom eer.
PSALMS 40:3-4 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
en my opgetel uit die afgrond van die dood, uit die modder en die slym. Hy het my voete op ’n rots laat staan en my op vaste grond laat loop. Hy het my ’n nuwe lied gegee, ’n lofsang om ons God te prys. Baie sal met eerbied toekyk. Hulle sal op die HERE vertrou.