PSALMS 37:23-28
PSALMS 37:23-28 Die Boodskap (DB)
Die Here bepaal wat in die lewe van mense gebeur met wie se optrede Hy tevrede is. Hy laat dit goed gaan met hulle. As hulle op die grond neerslaan, bly hulle nie lê nie. Die Here kom buk by hulle en tel hulle weer op. Ek is nou al oud, maar ek het nog nie gesien dat mense wat reg voor God leef ooit alleen is nie. Nêrens staan gelowiges op straathoeke en bedel nie. Hulle kinders gaan slaap nooit honger nie. Gelowiges gee regtig om vir ander mense. Hulle klou nie aan hulle geld vas nie. Hulle leen geld sonder om rente te hef. Ook met hulle kinders sal dit goed gaan. Moenie die verkeerde doen nie. Doen net goeie dinge, dan sal jy vir altyd naby aan Hom leef. Die Here hou baie van almal wat reg optree. Sulke mense los Hy nooit alleen nie. Hy sal hulle altyd beskerm, maar slegte mense verdwyn soos mis voor die son. Hulle word uitgeroei.
PSALMS 37:23-28 Bybel vir almal (ABA)
Wanneer die Here tevrede is oor hoe 'n mens lewe, dan lei Hy hom en dan beskerm Hy hom. Wanneer so 'n mens val, dan val hy nie hard nie, want die Here hou sy hand vas. Ek is nou oud, maar vandat ek jonk was tot nou toe, het ek nie gesien dat die Here 'n mens los wat reg lewe nie, ek het ook nie gesien dat so 'n mens se nageslag nie kos het nie. Die mens wat reg lewe, kan die hele dag lank goed wees vir ander mense en vir hulle dinge leen, en sy nageslag laat dit goed gaan met ander mense. Jy moenie verkeerd doen nie, jy moet doen wat goed is, dan sal jy altyd in die land woon. Want die Here hou daarvan dat mense reg doen aan ander mense en Hy los nie die mense wat in Hom glo nie. Hy beskerm hulle altyd, maar Hy jaag die nageslag van die mense wat verkeerd doen, weg.
PSALMS 37:23-28 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Mem. Deur die HERE word die gange van 'n man bevestig, en Hy het 'n welbehae in sy weg. As hy val, dan stort hy nie neer nie; want die HERE ondersteun sy hand. Noen. Ek was jonk, ook het ek oud geword, maar nooit het ek die regverdige verlate gesien, of dat sy nageslag brood soek nie. Die hele dag ontferm hy hom en leen uit, en sy nageslag is 'n seën. Samek. Wyk af van wat kwaad is, en doen wat goed is, en jy sal vir ewig woon; want die HERE het die reg lief en sal sy gunsgenote nie verlaat nie; vir ewig word hulle bewaar, maar die nageslag van die goddelose word uitgeroei.
PSALMS 37:23-28 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die Here bepaal die koers van die mens met wie se pad Hy tevrede is, en Hy ondersteun hom. As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op. Ek was jonk en ek het oud geword, maar nooit het ek 'n regverdige verlate gesien of dat sy nageslag brood soek nie. Hy is altyd vrygewig, hy leen uit sonder rente: met sy nageslag sal dit goed gaan. Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is, dan sal jy die land altyd bewoon, want die Here het die reg lief en sy troue dienaars verlaat Hy nie. Hulle sal altyd behoue bly, maar die nageslag van die goddeloses sal uitgeroei word.
PSALMS 37:23-28 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Danksy die HERE stap 'n jong man met ferm treë; en die HERE is tevrede met sy lewenspad. As hy val, sal hy nie neerslaan nie want die HERE hou hom aan sy hand. Toe ek jonk was en selfs noudat ek oud geword het, het ek nie gesien dat 'n regverdige versaak word, of dat sy nageslag kos soek nie. Hy is altyd goedhartig en leen graag uit, sy nageslag is 'n seën vir ander. As jy die kwaad vermy en die goeie doen, sal jy vir altyd die land bewoon. Want die HERE het •geregtigheid lief en wie aan Hom getrou is, verlaat Hy nie
PSALMS 37:23-28 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die voetstappe van 'n goeie man word deur die HERE bepaal, en hy het behae in sy weg. Al val hy, hy sal nie met die ban neergewerp word nie, want die HERE ondersteun hom met Sy hand. Ek was jonk, en nou is ek oud; maar Ek het die regverdige nie verlate gesien nie, en ook nie sy nageslag wat brood soek nie. Hy is altyd barmhartig en leen uit; en sy saad is geseën. Gaan weg van die kwaad en doen goed; en bly tot in ewigheid. Want die HERE het die reg lief en Hy verlaat sy gunsgenote nie; hulle word vir ewig bewaar, maar die nageslag van die goddelose word uitgeroei.
PSALMS 37:23-28 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE bepaal die rigting van ’n mens met wie se lewe Hy tevrede is. Al sou so een struikel, hy sal nie val nie, want die HERE hou sy hand vas. Ek was jonk, en nou is ek oud. Maar ’n regverdige mens wat verlate is, het ek nooit gesien nie, of dat sy kinders vir kos moes bedel nie. Hy leen altyd ruimskoots aan ander, en sy kinders is tot ’n seën. Vermy die kwaad en doen wat goed is, dan sal jy vir altyd woon in die land. Want die HERE het die reg lief, en sal sy getroue dienaars nie verlaat nie. Hy sal hulle vir altyd veilig bewaar, maar die goddelose se kinders sal vergaan.