PSALMS 36:1-12
PSALMS 36:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Vir die leier van die koor: Van Dawid, die dienaar van die Here. Iemand wat verkeerd doen, is opstandig teen die Here, ek weet dit. So 'n mens sê hy is nie bang vir God nie. Hy dink hy is baie wonderlik, hy sien nie dat hy verkeerd doen nie en hy is nie jammer daaroor nie. Wanneer hy praat, dan praat hy oor hoe hy slegte dinge kan doen en mense kan bedrieg. Hy weet nie hoe om verstandig te wees en goed te doen nie. Wanneer hy op sy bed lê, dan dink hy watter slegte dinge hy kan doen, hy kies die pad wat nie goed is nie, hy hou nie op om verkeerde dinge te doen nie. Here, U doen wat U belowe het, U doen dit op die aarde en in die hemel, U bly dieselfde, hier en ook tussen die wolke. U doen reg op die aarde, ook op die hoogste berge, U oordeel reg, ook in die groot, diep water. Here, U red mense en diere. Dit is vir ons kosbaar, o God, dat U doen wat U belowe het. Mense weet dat U hulle sal beskerm. Daar is baie dinge wat mense kan geniet in u tempel, dit is soos strome water wat U vir hulle gee om te drink. Want U gee vir ons die lewe, U gee die lig wat vir ons laat lewe. Here, U moet aanhou doen wat U belowe het vir die mense wat naby U lewe. U moet aanhou reg doen aan die mense wat eerlik is. U moenie dat hoogmoedige mense op my trap nie, U moenie dat mense wat verkeerd doen, my wegjaag nie.
PSALMS 36:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
VIR die musiekleier. 'n Psalm van Dawid, die kneg van die Here. In die binneste van my hart sê die oortreding aangaande die goddelose: Daar is geen vrees van God voor sy oë nie. Want dit vlei hom in sy oë in verband met die uitvind en haat van sy skuld. Die woorde van sy mond is onreg en bedrog; hy laat ná om verstandig te wees, om goed te doen. Hy bedink onreg op sy bed; hy gaan staan op 'n weg wat nie goed is nie; wat sleg is, verfoei hy nie. O HERE, u goedertierenheid is tot in die hemele, u trou tot in die wolke. U geregtigheid is soos die berge van God; u oordele is 'n groot watervloed. HERE, U behou mense en diere! Hoe kosbaar is u goedertierenheid, o God! Daarom skuil die mensekinders onder die skaduwee van u vleuels. Hulle verkwik hul aan die vettigheid van u huis, en U laat hulle drink uit die stroom van u genietinge. Want by U is die fontein van die lewe; in u lig sien ons die lig. Laat u goedertierenheid voortduur vir die wat U ken, en u geregtigheid vir die opregtes van hart. Laat die voet van die trotsaard nie oor my kom nie, en laat die hand van die goddelose mense my nie verdryf nie.
PSALMS 36:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Vir die koorleier. Van Dawid, die dienaar van die Here. In die hart van die goddelose het die opstand teen God die laaste woord. Die goddelose het geen vrees vir God nie en praat net goed oor homself. Hy is altyd daarop uit om kwaad te doen en om te haat. As hy praat, is dit kwaadwillig en vals; verstandig wees en goed doen bestaan nie vir hom nie. Selfs as hy gaan lê, dink hy net kwaad uit; hy bly op 'n pad wat nie reg is nie; wat sleg is, verwerp hy nie. Here, u liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke, u geregtigheid tot op die hoogste berge, die reg wat U spreek, tot in die dieptes van die see. U sorg vir mens en dier, o Here. Hoe kosbaar is u trou, o God! U beskerm die mense wat by U skuil. In u huis geniet hulle oorvloed, U laat hulle drink uit die strome van u goedheid. U is die bron van die lewe, deur u lig lewe ons. Laat u liefde bly by dié wat U erken en u trou by dié wat opreg is. Laat my nie onder die voete van eiegeregtige mense beland nie, moenie dat goddeloses my hier wegdryf nie!
PSALMS 36:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Vir die •musiekleier. Van die dienskneg van die HERE. Van Dawid. 'n Uitspraak oor die oortreding van 'n goddelose leef in my gedagtes : “Daar is geen vrees vir God nie. Want in sy eie oë is hy te seker van homself om sy sondeskuld te ontdek, om dit te haat. Die woorde uit sy mond is onreg en bedrog; hy laat na om wys op te tree, om goed te doen. Onreg bedink hy op sy bed; hy gaan staan op 'n pad wat nie goed is nie; kwaad verwerp hy nie.” HERE, tot aan die hemel reik u troue liefde, u getrouheid tot aan die wolke. U geregtigheid is soos massiewe berge, u regspraak soos die groot •oerwater. U verlos mens en dier, HERE. Hoe kosbaar is u troue liefde, o God! Mense skuil in die skadu van u vlerke. Hulle drink hulle versadig aan die oorvloed van u huis, uit die stroom van u genietinge laat U hulle drink. Ja, by U is die fontein van lewe, * in u lig sien ons lig. Reik met u troue liefde uit na hulle wat U ken, met u •geregtigheid na die opregtes van hart. Laat 'n verwaande voet my nie inhaal nie, en die hand van goddeloses my nie laat rondswerf nie.
PSALMS 36:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die oortreding van die goddelose sê in my hart dat daar geen vrees vir God voor sy oë is nie. Want hy vlei homself in sy eie oë totdat bevind word dat sy ongeregtigheid haatlik is. Die woorde van sy mond is ongeregtigheid en bedrog; hy het opgehou om wys te wees en goed te doen. Hy bedink onheil op sy bed; hy stel hom op 'n weg wat nie goed is nie; hy het geen afsku van die kwaad nie. U goedertierenheid, o HERE, is in die hemele; en U trou reik tot by die wolke. U geregtigheid is soos die groot berge; U oordele is 'n groot diepte; o HERE, U bewaar mens en dier. Hoe groot is u goedertierenheid, o God! daarom het die mensekinders hul vertroue in die skaduwee van u vleuels gestel. Hulle sal oorvloedig versadig word van die vettigheid van jou huis; en jy moet hulle laat drink uit die rivier van jou genot. Want by U is die fontein van die lewe; in U lig sal ons lig sien. Hou aan met u goedertierenheid teenoor die wat U ken; en U geregtigheid vir die opregtes van hart. Laat die voet van hoogmoed nie teen my kom nie, en laat die hand van die goddelose my nie afstoot nie. Daar het die werkers van ongeregtigheid geval; hulle is neergewerp en sal nie kan opstaan nie.
PSALMS 36:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die goddelose se opstand kom uit sy hart. Hy het nie ontsag vir God nie. In sy blinde verwaandheid sien hy nie sy sonde om dit te haat nie. Alles wat hy sê, is sondig en vals. Hy is nie verstandig nie en doen nie die goeie nie. Hy beplan kwaad wanneer hy gaan lê. Hy kies ’n pad wat nie goed is nie en verwerp nie die kwaad nie. HERE, u goedheid is eindeloos soos die heelal; u trou tot by die wolke. U regverdigheid is soos die hoogste berge, u oordeel soos die diepste waters. U sorg vir mense en diere, HERE. Hoe kosbaar is u trou, o God! Die hele mensdom vind skuiling in die skadu van u vleuels. U voed hulle uit die oorvloed van u huis, en laat hulle drink uit strome van vreugde. Want by U is die fontein van die lewe, in u lig sien ons die lig. Laat u goedheid bly by dié wat U erken en u regverdigheid by dié wat opreg is. Moenie dat die hoogmoediges my vertrap nie. Moenie dat die goddeloses my wegdryf nie.