PSALMS 34:4-7
PSALMS 34:4-7 Bybel vir almal (ABA)
Julle moet saam met my sing en sê die Here is groot, julle moet almal saam sy Naam prys. Ek het vir die Here gevra wat met my sal gebeur, en Hy het my geantwoord. Ek was bang vir baie dinge, maar Hy het my van alles gered. Die mense wat hulleself nie kan help nie, wag dat Hy hulle moet help, hulle weet Hy sal help, en hulle is bly. Ek kan myself nie beskerm nie, ek het gebid, en die Here het gehoor. Hy het my gered van alles wat dit sleg laat gaan het met my.
PSALMS 34:4-7 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Gimel. Maak die HERE saam met my groot, en laat ons saam sy Naam verhef! Dalet. Ek het die HERE gesoek, en Hy het my geantwoord en my uit al my vrees gered. He. Hulle het Hom aangesien en gestraal van vreugde, en hulle aangesig hoef nie rooi van skaamte te word nie. Sajin. Hierdie ellendige het geroep, en die HERE het gehoor, en Hy het hom uit al sy benoudhede verlos.
PSALMS 34:4-7 Afrikaans 1983 (AFR83)
Sing saam met my oor die grootheid van die Here en laat ons saam sy Naam prys. Ek het die Here aangeroep en Hy het my geantwoord, Hy het my gered uit alle doodsgevare. Dié wat swaar kry, sien op na Hom en straal van blydskap, hulle word nie teleurgestel in hulle verwagting nie. Ek is een van die ellendiges wat geroep het. Die Here het gehoor, uit al my benoudhede het Hy my gered.
PSALMS 34:4-7 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Maak saam met my die Naam van die HERE groot, ja, laat ons saam sy Naam verheerlik. Ek het die HERE geraadpleeg, en Hy het my geantwoord; van al my verskrikkinge het Hy my gered. Verdruktes kyk op na Hom en hulle straal; hulle gesigte hoef nie rooi van skaamte te wees nie. Hierdie magtelose het geroep en die HERE het gehoor, en uit al sy benoudhede het Hy hom verlos.
PSALMS 34:4-7 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek het die HERE gesoek, en Hy het my verhoor en my van al my vrese gered. Hulle het na Hom gekyk en is verlig, en hulle gesigte was nie beskaamd nie. Hierdie arme man het geroep, en die HERE het hom verhoor en hom uit al sy benoudhede verlos. Die Engel van die HERE trek laer op rondom die wat Hom vrees, en red hulle uit.
PSALMS 34:4-7 Die Boodskap (DB)
Kom, julle, kom maak die Here se Naam saam met my groot. Kom laat ons Hom vereer. In gebed het ek die Here gevra om my te help en Hy het dit gedoen. Hy het my gered van al die dinge wat my lewe bedreig. Mense wat swak is en hulp nodig het, sien dit raak. Hulle gesigte straal van blydskap. As hulle die Here se hand styf vashou, sal Hy hulle nooit teleurstel nie. Kyk maar na my. Ek was swak en hulpeloos. Toe het ek gebid en die Here het my gehelp. Hy het my uit al my krisisse gehelp.
PSALMS 34:4-7 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Kom verheerlik die HERE saam met my; laat ons saam sy Naam prys. Ek het tot die HERE gebid en Hy het my geantwoord, Hy het my bevry van alles waarvoor ek bang is. Hulle wat opsien na Hom, sal straal van vreugde; op hulle gesigte is daar geen skaamte nie. Hierdie ellendige mens het geroep, en die HERE het gehoor. Hy het hom uit al sy benoudheid gered.