PSALMS 33:16-22
PSALMS 33:16-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Geen koning word deur 'n groot leër verlos nie; 'n krygsheld red homself nie deur groot krag nie. 'n Perd bied vals hoop vir oorwinning, deur sy groot krag kan hy nie bevry nie. Kyk, die HERE hou sy oog op dié wat vir Hom ontsag het, op dié wat hulle hoop vestig op sy troue liefde, om hulle lewens van die dood te red en hulle aan die lewe te hou tydens hongersnood. Met ons hele wese wag ons op die HERE; Hy is ons hulp en ons skild. Want oor Hom is ons harte verheug, ja, op sy •heilige Naam vertrou ons. Mag u troue liefde oor ons wees, HERE, terwyl ons op U wag!
PSALMS 33:16-22 Die Boodskap (DB)
Dis nie wapens wat die leier van ’n land laat wen nie. Spierkrag help nie veel nie. Dis ook nie militêre krag wat jou bevry nie! Net die Here gee die oorwinning. Hy laat dié mense wen wat Hom eer. Hy sorg vir almal wat op sy liefde vertrou. Elkeen wat van Hom afhanklik is, het Hy baie lief. Hy beskerm jou teen die grootste gevaar, ja, selfs teen die dood. En Hy dra jou deur die grootste probleme. Ons is in alles van die Here afhanklik. Hy help en beskerm ons. Omdat ons op Hom vertrou, maak Hy ons lewe vol met blydskap. Hy is totaal anders as mense. Ons vra dat U ons altyd sal liefhê, Here. Ons kyk elke dag op na U.
PSALMS 33:16-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
’n Koning word nie gered deur ’n groot leër nie, ook nie ’n krygsman deur groot krag nie. Dis valse hoop dat ’n oorlogsperd veiligheid verseker, en deur groot krag redding bring. Maar die HERE waak oor dié wat Hom dien, oor hulle wat hoop op sy troue liefde om hulle te red van die dood en hulle in hongersnood aan die lewe te hou. Ons vertrou op die HERE om ons te red. Hy is ons hulp en beskerm ons soos ’n skild. In Hom is ons harte verheug, want ons vertrou op sy heilige Naam. Laat u troue liefde ons oordek, HERE, want ons hoop op U alleen.
PSALMS 33:16-22 Bybel vir almal (ABA)
Mense wen nie 'n oorlog omdat hulle perde het nie, mense word nie vry omdat hulle perde sterk is nie. Nee, die Here sorg vir die mense wat Hom dien, die mense wat glo dat Hy sal doen wat Hy belowe het. Hy red hulle van die dood, Hy laat hulle lewe wanneer daar min kos is. Ons weet dat die Here ons sal help, Hy sal ons beskerm. Ja, ons juig oor wat Hy gedoen het, oor wat Hy self gedoen het, ja, ons glo in Hom wat heilig is. Here, doen met ons wat U belowe het, ons glo dat U dit sal doen.
PSALMS 33:16-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'n Koning word nie verlos deur 'n groot leër, 'n held nie gered deur groot krag nie. Die perd help niks vir die oorwinning en red nie deur sy groot krag nie. Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid wag; om hulle siel te red van die dood en hulle in die lewe te hou in hongersnood. Ons siel wag op die HERE; Hy is ons hulp en ons skild; want ons hart is bly in Hom, omdat ons op sy heilige Naam vertrou. Laat u goedertierenheid, HERE, oor ons wees net soos ons op U wag!
PSALMS 33:16-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit is nie deur 'n groot leër dat 'n koning wen nie, en nie deur groot krag dat 'n held behoue uitkom nie. Dit is nie waar dat die perd die oorwinning gee en dat sy groot krag redding bring nie. Dit is die Here wat sorg vir dié wat Hom eer, vir dié wat op sy mag vertrou om hulle van die dood te red en hulle in die lewe te hou in hongersnood. Ons vertrou op die Here: Hy is ons hulp en ons beskermer. Ja, in Hom is ons hart bly, op sy heilige Naam vertrou ons. Hou u liefde oor ons, Here, want ons stel ons vertroue in U.
PSALMS 33:16-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Daar is geen koning wat deur die menigte van 'n leër gered word nie: 'n held word nie deur groot krag gered nie. 'n Perd is 'n nietige ding vir veiligheid, en deur sy groot krag sal hy niemand red nie. Kyk, die oog van die HERE is op die wat Hom vrees, op die wat op sy goedertierenheid hoop; om hulle siel van die dood te verlos en hulle in die lewe te hou in hongersnood. Ons siel wag op die HERE: Hy is ons hulp en ons skild. Want ons hart sal bly wees in Hom, omdat ons op sy heilige Naam vertrou het. Laat U goedertierenheid, o HERE, oor ons wees soos ons op U hoop.