PSALMS 30:1-12
PSALMS 30:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Psalm. 'n Lied vir die inwyding van die tempel. Van Dawid. Ek wil u lof verkondig, Here, want U het my gered en my vyande nie laat bly wees oor my nie. Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak. Here, U het my gered van die doderyk, my aan die lewe gehou toe ek al op pad was na die dood toe. Sing tot eer van die Here, julle wat Hom getrou dien, loof sy heilige Naam! Waarlik, sy toorn duur net 'n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer. Toe dit goed gegaan het, het ek wel gesê: “Niks sal my ooit laat wankel nie.” Deur u goedheid het U my op 'n veilige berg laat staan, Here. Maar toe U U aan my onttrek het, het ek baie bang geword. Ek het na U geroep, Here. Ek het U om genade gesmeek: “Watter voordeel is daar in my ondergang as ek die graf moet ingaan? Kan stof U loof? Kan dit u trou verkondig? Luister, Here, en wees my genadig! Help my, Here!” Ek was in die rou, maar U het my van vreugde laat dans. U het my rouklere uitgetrek en vir my feesklere aangetrek.
PSALMS 30:1-12 Bybel vir almal (ABA)
'n Psalm. 'n Lied toe hulle die tempel gewy het. Van Dawid. Here, ek wil U prys, want U het my gered en my laat uitkom, sodat my vyande nie kan juig oor wat met my gebeur nie. My God die Here, ek het tot U geroep en gevra dat U my moet help, en U het my gesond gemaak. Here, U het my laat uitkom uit die doderyk, ek was naby die dood, maar U het my weer laat lewe. Julle wat in die Here glo, julle moet vir Hom sing, julle moet sy heilige Naam noem en vir Hom dankie sê. Want Hy bly nie lank kwaad nie, Hy is vriendelik so lank soos 'n mens lewe. Ek huil die hele nag, maar wanneer ek opstaan, dan juig ek weer. Toe dit met my goed gegaan het, het ek gesê dit sal altyd so wees. Here, U was goed vir my, U het my sterk laat staan soos 'n berg. Maar toe U my nie meer wil sien nie, het ek bang geword. Here, ek het tot Ú gebid, net tot U, ek het gesoebat dat my Here vir my moet help. Wat sal U kan wen as ek sterf, as ek afgaan na die doderyk? Mense wat dood is, kan nie vir U prys nie, hulle kan nie vertel dat U altyd doen wat U belowe het nie. Here, U moet luister, U moet genadig wees vir my, Here, dit is U wat vir my moet help. Ek het gehuil en getreur, maar U het my laat dans. U het my rouklere weggevat en my laat feesvier.
PSALMS 30:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N PSALM, 'n lied by die inwyding van die Huis. Van Dawid. Ek sal U verhoog, HERE, want U het my opgetrek en my vyande oor my nie laat bly wees nie. HERE, my God, ek het U aangeroep om hulp, en U het my gesond gemaak. HERE, U het my siel uit die doderyk laat opkom; U het my lewend gemaak uit die wat in die kuil neerdaal. Psalmsing tot eer van die HERE, o sy gunsgenote, en loof sy heilige gedenknaam; want 'n oomblik is daar in sy toorn, 'n lewe in sy goedgunstigheid; saans vernag die geween, maar smôrens is daar gejuig. Ek het wel in my sorgeloosheid gesê: Ek sal vir ewig nie wankel nie. HERE, U het my berg deur u welbehae sterk laat staan. U het u aangesig verberg — ek het verskrik geword! Ek het U aangeroep, HERE, en ek het die HERE gesmeek: Watter voordeel is daar in my bloed as ek neerdaal in die kuil? Sal die stof U loof? Sal dit u trou verkondig? Hoor, HERE, en wees my genadig! HERE, wees my 'n helper! U het my weeklag vir my verander in 'n koordans, U het my roukleed losgemaak en my met vreugde omgord
PSALMS 30:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Psalm. 'n Lied vir die inwyding van die huis. Van Dawid. Ek verheerlik U, HERE, want U het my opgetrek en U het nie toegelaat dat my vyande hulle oor my verheug nie. HERE my God, ek het na U om hulp geroep en U het my gesond gemaak. HERE, U het my lewe uit die •doderyk laat opkom; U het my lewend gehou tussen dié wat afdaal in die put. Besing die HERE, julle wat sy getroue volgelinge is, en prys sy •heilige, gevierde Naam, want sy toorn duur 'n oomblik, sy goedgesindheid 'n lewe lank. In die aand word daar aanhoudend gehuil, maar teen die oggend is daar jubelkrete. Ek is die een wat onbesorg gesê het: “Ek sal nooit wankel nie!” Deur u goedgesindheid het U, HERE, my so sterk soos 'n berg laat staan. Verberg U u gesig, is ek beangs. “Na U, HERE, roep ek, by my Heer smeek ek om genade: Watter nut het dit as my bloed gestort word, as ek na die grafkuil afgaan? Sal stof U prys? Sal dit u trou verkondig? Luister, HERE, en wees my genadig! HERE, wees vir my 'n helper! “U het my rouklag in 'n koordans verander, my rouklere uitgetrek en my met vreugde omgord
PSALMS 30:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ek wil U roem, HERE; want U het my opgehef en my vyande nie oor my laat juig nie. HERE my God, ek het U aangeroep, en U het my gesond gemaak. O HERE, U het my siel uit die doderyk laat opkom; U het my in die lewe gehou, dat ek nie in die kuil sou afdaal nie. Sing tot eer van die HERE, o sy heiliges, en loof tot eer van sy heiligheid. Want sy toorn duur net 'n oomblik; in sy guns is die lewe: geween kan vir 'n nag bly, maar vreugde kom in die môre. En in my voorspoed het ek gesê: Ek sal nooit wankel nie. HERE, deur u guns het U my berg sterk laat staan; U het U aangesig verberg, en ek was verskrik. Ek het U aangeroep, HERE; en tot die HERE het ek gesmeek. Watter wins is daar in my bloed as ek in die put afdaal? Sal die stof U loof? sal dit U waarheid verkondig? Hoor, HERE, en wees my genadig: HERE, wees my helper. U het my rou vir my in 'n dans verander; U het my roukleed uitgetrek en my met blydskap omgord; Totdat my eer tot eer van U kan sing en nie swyg nie. O HERE my God, ek wil U loof vir ewig.
PSALMS 30:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek sal u lof verkondig, HERE, want U het my gered. U het my vyande verhinder om bly te wees oor my. HERE my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak. HERE, U het my gered van die doderyk, U het verhoed dat ek saam met ander wegsak in die graf. Sing tot eer van die HERE, julle wat getrou is! Loof sy heilige Naam. Sy toorn duur net ’n oomblik, maar sy genade is lewenslank! In die nag vloei die trane, maar in die oggend is daar vreugde. Toe ek voorspoedig was, het ek gesê: “Niks sal my ooit beweeg nie!” U goedheid, HERE, was vir my soos ’n stewige berg. Maar toe U van my af wegdraai, was ek verskrik. Ek het na U geroep, HERE. Ek het by U, Here, gepleit om genade: “Wat sal dit U baat as ek sterf, as ek wegsak in die graf? Kan my stof U loof in die doderyk? Kan my stof u trou daar verkondig? Luister, HERE, en wees my genadig. Help my tog, HERE!” U het my droefheid verander in ’n dans van vreugde. U het my rouklere weggeneem en my met vreugde geklee.