PSALMS 27:1-14

PSALMS 27:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Van Dawid. Die Here laat my lewe, Hy help my, daarom is ek vir niemand bang nie. Die Here beskerm my lewe, daarom skrik ek vir niemand nie. Wanneer slegte mense kom om my aan te val, wanneer my vyande my wil doodmaak, dan is dit my vyande wat gly en val. Wanneer soldate my van al die kante aanval, dan sal ek nie bang word nie. Wanneer vyande oorlog begin maak teen my, dan sal ek nog glo dat die Here my sal help. Een ding het ek vir die Here gevra en dit wil ek altyd hê: Ek wil my hele lewe lank in sy tempel wees om te sien dat Hy goed is vir my en om vir Hom te mag vra wat Hy wil hê ek moet doen. Want Hy sal my beskerm wanneer daar gevaar kom, Hy sal my veilig in sy tempel laat bly soos wanneer 'n mens hoog op 'n rots staan. Daarom, ek sal wen teen my vyande rondom my, en ek sal juig en offers bring in sy tempel, ek sal sing en musiek maak vir die Here. Here, U moet luister wanneer ek tot U bid, U moet genadig wees en U moet my antwoord. Ek onthou dat U gesê het ons moet U kom dien, en ek het gekom om U te dien. U moenie keer wanneer ek U wil dien nie, U moenie vir my wegstuur nie. U het my altyd gehelp, moenie my nou los nie, moenie weggaan van my nie, want U is die God wat my red. My pa en my ma sal my miskien los, maar die Here sal my by Hom hou. Here, leer vir my hoe U wil hê ek moet lewe, lei my op 'n veilige pad, want ek het baie vyande. My vyande vertel leuens oor my, hulle wil hê ek moet sterf. U moenie dat hulle met my doen wat hulle so graag met my wil doen nie. Hulle wil dit doen, maar ek glo dat ek in hierdie lewe nog sal sien dat die Here goed is. Jy moet glo dat die Here jou sal help, jy moet sterk wees, jy moet dapper wees, jy moet glo dat die Here jou sal help.

PSALMS 27:1-14 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

'N PSALM van Dawid. Die HERE is my lig en my heil: vir wie sou ek vrees? Die HERE is die toevlug van my lewe: vir wie sou ek vervaard wees? As kwaaddoeners teen my nader kom om my vlees te eet — my teëstanders en my vyande, ja, myne — struikel hulle self en val. Al word 'n laer teen my opgeslaan, my hart sal nie vrees nie; al staan 'n oorlog teen my op, nogtans vertrou ek. Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel. Want Hy steek my weg in sy hut in die dag van onheil; Hy verberg my in die skuilplek van sy tent; Hy verhef my op 'n rots. En nou sal my hoof hoog wees bo my vyande rondom my, en ek wil in sy tent offerandes offer saam met trompetgeklank; ek wil sing, ja, psalmsing tot eer van die HERE. Hoor, o HERE, ek roep luid; en wees my genadig en antwoord my. Van U sê my hart: Soek my aangesig! Ek soek u aangesig, o HERE! Verberg u aangesig nie vir my nie, wys u kneg nie af in toorn nie: U was my hulp! Verstoot en verlaat my nie, o God van my heil! Want my vader en my moeder het my verlaat, maar die HERE sal my aanneem. HERE, leer my u weg en lei my op 'n gelyk pad, vanweë my vyande. Gee my nie oor aan die begeerte van my teëstanders nie, want valse getuies het teen my opgestaan, en hy wat geweld uitblaas. O, As ek nie geglo het dat ek die goedheid van die HERE sal sien in die land van die lewendes nie ... Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE!

PSALMS 27:1-14 Afrikaans 1983 (AFR83)

Van Dawid. Die Here is my lig en my redder, vir wie sou ek bang wees? Die Here is my toevlug, vir wie sou ek vrees? As misdadigers op my afstorm om my dood te maak, my teëstanders en my vyande, dan is dit juis húlle wat struikel en val. Al sou 'n leër teen my stelling inneem, sal ek nie bang word nie. Selfs al sou die aanval op my begin, sal ek nog steeds vertroue hê. Net een ding het ek van die Here gevra en dit sal ek najaag: dat ek my hele lewe lank in sy huis mag woon om sy goedheid te belewe en daaroor na te dink in sy tempel. Op die dag van gevaar sal die Here my wegsteek in sy huis, my veilig laat skuil in sy woonplek, my hoog op 'n rots laat staan; ek sal in sy woonplek onder trompetgeklank my offers bring, ek sal 'n lied sing, ek sal sing tot die eer van die Here terwyl ek neerkyk op die vyande rondom my. Luister tog na my, Here, as ek roep; wees my genadig en verhoor my gebed. Ek onthou wat U gesê het: “Julle moet My kom dien!” Ek is hier om U te dien, Here. Moet U tog nie vir my verberg nie, moet my tog nie wegstuur terwyl U toornig is nie, want U was nog altyd my hulp. Moet my tog nie verstoot en verlaat nie, want U alleen is die God wat my red. Al sou my vader en my moeder my verlaat, die Here sal my onder sy sorg neem. Leer my u wil, Here, en lei my op 'n gelyk pad sodat my vyande nie hulle sin kry nie. Moet my tog nie oorgee aan die venyn van my teëstanders nie, want daar staan vals getuies teenoor my en hulle blaas geweld teen my aan. As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die Here sal sien in die land van die lewendes nie ...! Vertrou op die Here! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die Here!

PSALMS 27:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Van Dawid. Die HERE is my lig en my redding – vir wie sal ek vrees? Die HERE is die toevlug van my lewe – vir wie sal ek bang wees? As kwaaddoeners op my toesak om my lewendig te verslind, ja, my teenstanders en my vyande, struikel hulle self en val. Al sou 'n leër teen my laer opslaan, sal my hart nie bang wees nie; al sou 'n oorlog teen my uitbreek, sal ek nogtans bly vertrou. Een ding het ek van die HERE gevra en dit sal ek bly nastreef: om al die dae van my lewe in die huis van die HERE te woon, om die lieflikhede van die HERE te aanskou en daaroor na te dink in sy •tempel. Ja, Hy steek my weg in sy skuiling op 'n dag van onheil; Hy verberg my in die beskutting van sy tent; Hy tel my hoog op 'n rots. Daarom is my kop hoog bo my vyande rondom my. Ek wil met uitroepe van vreugde offers bring in sy tent, ek wil sing, ek wil die HERE besing. Luister tog, HERE, na my stem wanneer ek roep, wees my genadig en antwoord my! My hart eggo u woorde: “Julle moet my teenwoordigheid opsoek!” U teenwoordigheid, HERE, soek ek op. Moet u gesig nie vir my verberg nie, moet u dienskneg nie in toorn wegwys nie. U was my Helper, moet my nie verstoot of verlaat nie, God wat my red. Selfs al verlaat my vader en moeder my, die HERE sal my aanneem. HERE, leer my u pad, lei my op 'n gelyk pad, vanweë my vyande. Moet my nie oorgee aan die begeerte van my teenstanders nie; want vals getuies het teen my opgestaan, en hulle blaas geweld aan. As ek darem nie geglo het dat ek die goedheid van die HERE sal beleef in die land van die lewendes nie! Wag op die HERE! Wees sterk en hou moed, ja, wag op die HERE!

PSALMS 27:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die HERE is my lig en my heil; vir wie sal ek vrees? die HERE is die sterkte van my lewe; vir wie sal ek bang wees? Toe die goddelose, ja, my vyande en my vyande, op my afgekom het om my vlees op te eet, het hulle gestruikel en geval. Al sou 'n leër teen my laer opslaan, my hart sal nie vrees nie; al sou oorlog teen my opkom, hierop sal ek vertrou. Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek; dat ek al die dae van my lewe in die huis van die HERE kan woon, om die heerlikheid van die HERE te aanskou en in sy tempel te ondersoek. Want in die tyd van benoudheid steek Hy my weg in sy tent; in die skuilplek van sy tent verberg Hy my; Hy sal my op 'n rots laat staan. En nou sal my hoof opgehef word bo my vyande rondom my; daarom sal ek in sy tent vreugdeoffers bring; Ek wil sing, ja, ek wil sing tot eer van die HERE. Hoor, HERE, as ek met my stem roep; wees my ook genadig en antwoord my. Toe jy gesê het: Soek my aangesig; my hart het vir jou gesê: U aangesig, HERE, sal ek soek. Verberg u aangesig nie ver van my nie; Verwyder u kneg nie in toorn nie: U was vir my tot hulp; verlaat my nie en verlaat my nie, o God van my heil! Wanneer my vader en my moeder my verlaat, dan sal die HERE my opneem. Leer my u weg, o HERE, en lei my op 'n gelyk pad ter wille van my vyande. Gee my nie oor aan die wil van my vyande nie, want valse getuies het teen my opgestaan en mense wat wreedheid uitblaas. Ek het flou geword, tensy ek geglo het om die goedheid van die HERE te sien in die land van die lewendes. Wag op die HERE, hou goeie moed, en Hy sal jou hart versterk; wag, sê ek, op die HERE.

PSALMS 27:1-14 Die Boodskap (DB)

Die Here help my deur my donkerste krisis. Sy hulp is soos ’n lig wat ’n mens in ’n pikdonker kamer aanskakel. Hy red my. Omdat Hy my help, is daar niks waarvoor ek bang is nie. Die Here beskerm my. Waarvoor sal ek dan bang wees? As slegte mense my kwaad wil aandoen, ja, as mense wat niks van my hou nie, my wil seermaak, sal hulle sleg daarvan afkom. Hulle sal self tot ’n val kom. Al staan ek alleen teen ’n hele leër soldate, sal ek geen bang haar op my kop hê nie. Ook al trek ’n hele weermag teen my op en val my aan, sal ek steeds op die Here vertrou. Daar is een groot wens in my hart en dit wil ek met my hele lewe najaag: dat ek my hele lewe lank by die Here mag wees. Sy wonderlike nabyheid wil ek dag en nag beleef. Ek wil ervaar hoe goed Hy vir my is. Ek wil weer en weer daaroor nadink wanneer ek Hom aanbid. Die Here beskerm my die dag as slegte dinge op my afkom; Hy bewaar my teen gevaar; Hy help my uit die moeilikheid. Hy laat my by Hom wegkruip. Nou kan ek weer my kop optel. Die Here maak my ’n wenner. Daarom wil ek Hom aanbid en vir Hom dankie sê deur liedere te sing saam met verskillende musiekinstrumente. Ek sal liedere sing om die Here te eer. Ek sal vir Hom offers bring. Mense wat niks van my hou nie, sal kyk hoe ek my kop optel en die Here prys. Here, ek bid ernstig tot U. Ek roep na U. Wees goed vir my. Help my. Hoor my gebed en antwoord my. Ek sê elke dag vir myself: Jy moet die Here dien. Soek na sy teenwoordigheid. Daarom aanbid ek U, Here. Moet tog nie maak of U my nie hoor nie. Moenie my wegjaag omdat U vir my kwaad is nie. U het my in die verlede gehelp. Stoot my nie weg van U af nie. Los my nie alleen nie. U is die God wat my red. Selfs al wil my pa en ma niks met my te doen hê nie, sal die Here self vir my sorg. Here, vat my hand. Lei my op ’n pad waar daar nie slaggate is nie. Wys my hoe om reg te lewe. Moenie dat hulle wat niks van my hou oor my seëvier nie. Pas my op. Lei my. Party vertel leuens oor my, terwyl ander my met geweld onderstebo wil loop. Moet my tog nie in hulle hand oorgee nie. Dis net my geloof in die Here wat my staande hou. Sy goedheid dra my elke dag van my lewe. As ek dit darem nie geglo het nie … Stel al jou hoop op die Here! Vertrou op Hom! Hou moed! Wees sterk! Moenie die handdoek ingooi nie; bly wag op die Here!

PSALMS 27:1-14 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die HERE is my lig en my redding. Vir wie moet ek dan vrees? Die HERE is my lewenstoevlug. Vir wie sal ek dan bang wees? Wanneer bose mense kom om my te verslind, my vyande en teenstanders my aanval, struikel en val húlle. Al sou ’n magtige leër teen my optrek, ek sal nie bang wees nie. Al sou hulle my aanval in ’n geveg, selfs dán sal ek hoopvol bly. Een ding vra ek van die HERE, en dit sal ek bly soek: om in die huis van die HERE te bly al die dae van my lewe, om my te verbly in sy goedheid, en in sy tempel daaroor na te dink. Want as gevaar dreig, sal Hy my wegsteek. Hy sal my in sy woning verberg. Hy sal my op ’n hoë rots laat staan. Dan sal ek my kop hoog oplig bokant my vyande wat my omring. In sy woning sal ek offers van vreugde bring terwyl ek sing en met musiek die HERE loof. Luister tog na my as ek roep, HERE. Wees genadig, verhoor my gebed! U het vir my hart gesê: “Kom en dien My.” Ek antwoord: “HERE, ek kom U dien.” Moenie U vir my verberg nie, of u dienaar in toorn verwerp nie. U was nog altyd my helper. Moenie my nou verlaat nie; moenie my in die steek laat nie, God van my verlossing! Selfs al sou my pa en ma my verlaat, die HERE sal my styf vashou. Leer my hoe om te lewe, HERE. Lei my op ’n gelyke pad, want my vyande wag my in. Moenie my oorgee in die hande van my vyande nie. Hulle bring vals getuies teen my en hulle blaas geweld aan teen my. Tog is ek daarvan oortuig: Die HERE se goedheid sal ek sien hier in die land van die lewendes. Vertrou op die HERE! Wees sterk en skep moed! Ja, vertrou op die HERE!

PSALMS 27:1-14

PSALMS 27:1-14 AFR83PSALMS 27:1-14 AFR83