PSALMS 23:4-6
PSALMS 23:4-6 Bybel vir almal (ABA)
Ook wanneer ek deur 'n diep en donker vallei moet loop, dan sal ek nie bang wees nie, want U, Here, is by my. U beskerm my soos 'n herder sy skape beskerm met sy stok en met sy kierie. U nooi my om by u tafel te sit, maar my vyande moet staan en kyk. U laat my baie belangrik voel, U laat my alles geniet. U is goed vir my, en U doen wat U belowe het, U doen dit oral waar ek gaan, so lank soos ek lewe. Here, ek sal altyd weer terugkom na u tempel, ek sal dit my hele lewe lank doen.
PSALMS 23:4-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Al gaan ek ook in 'n dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie; want U is met my: u stok en u staf dié vertroos my. U berei die tafel voor my aangesig teenoor my teëstanders; U maak my hoof vet met olie; my beker loop oor. Net goedheid en guns sal my volg al die dae van my lewe; en ek sal in die huis van die HERE bly in lengte van dae.
PSALMS 23:4-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. U laat my by 'n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos 'n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.
PSALMS 23:4-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Selfs as ek in die donkerste kloof ingaan, is ek nie bang vir gevaar nie, want U is by my. Dit is u staf en u stok wat my gerusstel. U dek vir my 'n tafel voor die oë van my teenstanders. U verfris my kop met olie; my beker loop oor. Net goedheid en troue liefde sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal terugkeer na die huis van die HERE, tot in lengte van dae.
PSALMS 23:4-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Ja, al gaan ek deur die dal van doodskaduwee, ek sal geen onheil vrees nie, want U is met my; U stok en U staf hulle vertroos my. U berei 'n tafel voor my aangesig voor my vyande; U salf my hoof met olie; my beker loop oor. Waarlik, goedheid en goedertierenheid sal my volg al die dae van my lewe, en ek sal vir ewig in die huis van die HERE woon.
PSALMS 23:4-6 Die Boodskap (DB)
Selfs wanneer die lewe vir my so donker word dat ek nie weet watter kant toe nie, sal ek nie bang wees dat probleme my onderkry nie, want U is altyd by my. Dit troos my dat U my lei en beskerm. U laat my veilig voel. Soos ’n gasheer sit U net die beste van die lewe aan my voor; hulle wat nie naby U lewe nie, kan maar net verleë toekyk. U behandel my soos ’n spesiale gas; ek geniet alles in oorvloed. U sal vir my goed wees en my liefhê so lank as wat ek lewe; ek sal naby U lewe tot ek die dag doodgaan.
PSALMS 23:4-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Wanneer ek loop in ’n baie donker kloof, sal ek nie bang wees nie, want U is naby my. U stok en u staf beskerm en ondersteun my. U berei vir my ’n feesmaal voor die oë van al my vyande. U verwelkom my as ’n eregas deur my kop te salf met olie en my beker oorvol te maak. Waarlik, u goedheid en trou vergesel my al die dae van my lewe; en ek sal bly in die huis van die HERE so lank as wat ek lewe.