PSALMS 22:12-31

PSALMS 22:12-31 Bybel vir almal (ABA)

U moenie ver van my wees nie, want dit gaan sleg met my, en daar is niemand wat my help nie. Daar is baie vyande rondom my, hulle staan om my soos bulle uit die land Basan, hulle is soos leeus wat hulle bekke groot oopmaak om te brul en om my dood te byt. Dit voel of ek soos water uitgegooi is, my bene lê oral rond, my hart is soos byewas wat binne-in my smelt. Dit voel of ek niks meer kan doen nie, ek is soos 'n droë, stukkende kleipot, ek is so dors dat my tong vassit bo-in my mond. Dit voel of ek dood is en of U my op die grond laat lê het. Ja, 'n klomp slegte mense staan soos honde om my, hulle bind my hande en my voete vas. Ek is so maer dat ek al die bene in my liggaam kan sien. My vyande staan en kyk na my, hulle trek lootjies om te sien wie my klere moet kry. Maar U, Here, U moenie ver van my wees nie. Net U kan my sterk maak, U moet my gou kom help. U moet my lewe kom red van my vyande se swaarde, U moet my red van hierdie honde. U moet my red uit die bekke van hierdie leeus, uit die horings van hierdie oer-osse. U het gedoen wat ek gevra het. Ek sal vir die ander mense van my volk vertel wat U gedoen het, ek sal U prys daar waar hulle bymekaar is. Julle moet die Here prys, julle almal wat Hom dien, die nageslag van Jakob moet Hom eer, die hele nageslag van Israel moet bang wees vir Hom en moet Hom dien. Wanneer 'n mens swaarkry, 'n mens wat homself nie kan red nie, dan het die Here nie gemaak of dit nie belangrik is nie. Hy het nie sy gesig weggedraai van so 'n mens nie, Hy het gehoor toe ek geroep het en gevra het dat Hy my moet help. Here, U laat my 'n lied sing om U te prys daar waar die groot gemeente bymekaar is. Ek sal doen wat ek belowe het, die mense wat Hom dien, sal dit sien. Die mense wat hulleself nie kan help nie, sal genoeg kos kry om te eet. Julle wat vra wat die Here wil hê, julle sal Hom prys. Ek bid dat dit altyd goed sal gaan met julle. Al die mense sal onthou dat die Here daar is, hulle sal van oral op die aarde na Hom toe kom, al die volke sal voor Hom kom buig. Ja, dit is die Here wat Koning is, Hy regeer oor die volke. Al die mense sal voor Hom buig en hulle sal Hom dien, die mense wat meer as genoeg kos het om te eet, en die mense wat self te min kos het om te lewe, almal wat na die doderyk moet gaan. Die mense wat later sal lewe, sal Hom dien, die geslagte wat later sal lewe, sal van die Here hoor.

PSALMS 22:12-31 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Wees nie ver van my af nie, want die nood is naby, want daar is geen helper nie. Baie stiere het my omsingel, sterkes van Basan het my omring. Hulle het hul mond teen my oopgespalk soos 'n leeu wat verskeur en brul. Ek is uitgestort soos water; al my beendere raak los; my hart het soos was geword; dit het gesmelt binne-in my ingewande. My krag is verdroog soos 'n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; en U lê my neer in die stof van die dood. Want honde het my omsingel; 'n bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurgrawe. Al my beendere kan ek tel; húlle kyk, hulle sien met welgevalle op my neer! Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad. Maar U, HERE, wees nie ver nie; my Sterkte, maak tog gou om my te help! Red my siel van die swaard, my enigste uit die mag van die hond. Verlos my uit die bek van die leeu, en uit die horings van die buffels het U my verhoor! Ek wil u Naam aan my broers vertel, in die vergadering U prys. Julle wat die HERE vrees, prys Hom! Al die nakomelinge van Jakob, vereer Hom! Ja, vrees Hom, al die nakomelinge van Israel! Want Hy het die ellende van die ellendige nie verag of verfoei en sy aangesig vir hom nie verberg nie; maar Hy het gehoor toe dié Hom aangeroep het om hulp. Van U kom my lof in 'n groot vergadering; ek sal my geloftes betaal in teenwoordigheid van die wat Hom vrees. Die ootmoediges sal eet en versadig word; húlle sal die HERE prys wat na Hom soek; mag julle hart vir ewig lewe! Al die eindes van die aarde sal daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor u aangesig aanbid. Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy heers oor die nasies. Al die grotes van die aarde sal eet en aanbid; almal wat in die stof neerdaal, sal voor sy aangesig kniel en hy wat sy siel nie in die lewe kan hou nie. 'n Nageslag sal Hom dien; dit sal vertel word van die HERE aan die volgende geslag.

PSALMS 22:12-31 Afrikaans 1983 (AFR83)

Moet tog nie so ver van my af weg bly nie, want die nood is naby en daar is niemand wat help nie. 'n Wreedaardige klomp mense het my omsingel, soos beeste uit Basan staan hulle my toe. Soos verskeurende, brullende leeus storm hulle met oop bekke op my af. Ek is soos uitgestorte water, al my bene het uitmekaar geval, my hart het soos was geword, dit smelt weg in my. Ek is so min werd soos 'n potskerf, my tong kleef aan my verhemelte, U laat lê my asof ek dood is. Soos honde omsingel hulle my, die bende misdadigers sak op my toe, hulle bind my hande en voete vas. Al wat been in my is, kan ek tel; hulle kyk na my met leedvermaak. Hulle verdeel my klere onder mekaar en trek lootjies oor my mantel. En U, Here – moet tog nie so ver bly nie, Bron van my krag, help my tog gou! Red my van die swaard, my kosbare lewe uit die mag van die honde. Red my uit die bek van die leeu en tussen die horings van die wilde beeste uit. U het my gebed verhoor! Ek sal tot eer van u Naam getuig in die gemeente, U in die volle vergadering prys. Julle wat die Here dien, prys Hom! Vereer Hom, nageslag van Jakob! Betoon Hom eerbied, nageslag van Israel! Die nood van die hulpelose het Hy nie verontagsaam en gering geskat nie, Hom daarvan nie teruggetrek nie, maar die hulpgeroep na Hom het Hy gehoor. My loflied in die volle vergadering kom van Hom af, my geloftes sal ek nakom voor die mense wat Hom dien. By dié offermaaltyd sal die armes genoeg hê om te eet, en sal dié wat na die wil van die Here vra, Hom prys. Mag hulle lank en gelukkig lewe. Mense oor die hele wêreld sal die Here erken en hulle tot Hom bekeer. Alle volke sal Hom as koning erken, want die koningskap behoort aan die Here; Hy heers oor die volke. Al die rykes van die wêreld sal ook aan dié maaltyd deelneem en Hom as koning erken, ja, alle mense, sterflik en verganklik, sal voor Hom kniel. Die nageslag sal Hom dien, en hulle sal van die Here vertel aan die volgende geslag.

PSALMS 22:12-31 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Moenie ver van my bly nie, want die nood is naby; daar is immers niemand wat help nie! Baie bulle het my omsingel; die sterkes van Basan het my vasgekeer. Hulle het hulle monde teen my oopgesper soos 'n leeu wat verskeur en brul. Soos water is ek uitgestort, my hele gebeente val uitmekaar; my hart het geword soos was, dit het in my liggaam gesmelt. My krag het uitgedroog soos 'n potskerf, en my tong kleef aan my verhemelte; in die stof van die dood laat U my lê. Inderdaad, honde het my omsingel. 'n Bende kwaaddoeners het my omring; hulle het my hande en my voete deurboor. Ek kan al my bene tel. Hulle staar my aan met leedvermaak. Hulle verdeel my klere onder mekaar, en hulle loot oor my boklere. U, HERE, moet tog nie ver van my bly nie; my bron van krag, kom my gou te hulp. Red tog my lewe van die swaard, my enigste lewe uit die mag van die honde. Red my uit die bek van die leeu, en van die horings van buffels. U het my geantwoord. Ek wil u Naam verkondig aan my •broers; in die byeenkoms wil ek U loof: “Julle wat vir die HERE ontsag het, loof Hom! Julle, die ganse nageslag van Jakob, vereer Hom! Vrees Hom, ganse nageslag van Israel! Want Hy het die lyding van die magtelose nie geminag of misken nie; Hy het sy gesig nie vir hom verberg nie; maar toe hy Hom om hulp gesmeek het, het Hy gehoor.” U is die rede vir my lofprysing in 'n groot byeenkoms; my geloftes sal ek nakom in die teenwoordigheid van dié wat vir Hom ontsag het. Die verdruktes kan dan eet en versadig word; wie Hom raadpleeg, kan die HERE loof. Mag julle harte vir altyd leef! Almal tot aan die uithoeke van die aarde moet daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer. Al die familiegroepe van die nasies moet voor U in aanbidding buig; want aan die HERE behoort die koningskap, en Hy heers oor die nasies. Ja, voor Hom sal almal wat oordadig leef, in aanbidding neerbuig; voor Hom sal alle sterflinge kniel, elkeen wat nie die lewe kan behou nie. 'n Nageslag sal Hom dien; hulle sal van my Heer vertel aan die volgende geslag.

PSALMS 22:12-31 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Baie bulle het my omsingel, sterk bulle van Basan het my omring. Hulle het my met hul bekke gegaps, soos 'n verskeurende en 'n brullende leeu. Ek is uitgestort soos water, en al my gebeente is uit gewrig; my hart is soos was; dit is gesmelt in die middel van my ingewande. My krag het opgedroog soos 'n potskerf; en my tong kleef aan my kakebeen; en U het my in die stof van die dood gebring. Want honde het my omsingel, die menigte van die goddeloses het my omring; hulle het my hande en my voete deurboor. Ek kan al my gebeente vertel: hulle kyk en staar na my. Hulle verdeel my klere onder mekaar en werp die lot oor my gewaad. Maar wees nie ver van my af nie, o HERE, o my sterkte, haas U om my te help. Red my siel van die swaard; my liefling uit die mag van die hond. Red my uit die bek van die leeu, want jy het my gehoor van die horings van die eenhorings. Ek sal u Naam aan my broers verkondig; in die midde van die vergadering sal ek U loof. Julle wat die HERE vrees, loof Hom; al julle nageslag van Jakob, verheerlik hom; en vrees hom, alle nageslag van Israel! Want hy het die ellende van die ellendiges nie verag of verafsku nie; en hy het sy aangesig nie vir hom verberg nie; maar toe hy na hom roep, het hy gehoor. My lof sal van U wees in die groot vergadering: Ek sal my geloftes betaal voor die wat Hom vrees. Die sagmoediges sal eet en versadig word; hulle sal die HERE loof wat Hom soek; jou hart sal vir ewig lewe. Al die eindes van die wêreld sal daaraan dink en hulle tot die HERE bekeer, en al die geslagte van die nasies sal voor jou aanbid. Want die koninkryk behoort aan die HERE, en Hy is die goewerneur onder die nasies. Almal wat vet is op die aarde sal eet en aanbid; almal wat na die stof afdaal, sal voor hom buig; en niemand kan sy siel in die lewe hou nie. 'n Saad sal hom dien; dit sal aan die HERE gereken word vir 'n geslag. Hulle sal kom en sy geregtigheid verkondig aan 'n volk wat gebore sal word, dat Hy dit gedoen het.

PSALMS 22:12-31 Die Boodskap (DB)

Moet my ook nou nie alleen los nie, Here, want probleme oorstroom my hele lewe. U voel so ver van my af terwyl ek hier in die nood sit. Daar is niemand om my te help nie. Die mense wat my dood wil hê, is so gevaarlik soos wilde diere. Van alle kante af sak hulle op my toe. Hulle is soos ’n trop beeste wat op my afstorm. Jy sien net oop monde en skerp tande wat op jou afkom. Daardie mense is soos leeus wat bloed geruik het. Hulle wil my uitmekaarskeur. Ek het geen krag meer oor nie. Ek voel soos water wat iemand op die grond uitgooi. Dit verdwyn in die sand. Ek het soos ’n riet gebewe. Alles in my val uitmekaar. Ek is swak en moedeloos. Daarom beteken ek minder as niks. Ja, ek is so min werd soos ’n leë blik op ’n ashoop. My tong is so dik dat ek nie kan praat nie. En dan los U my ook nog alleen asof ek klaar dood is. Soos ’n klomp wildehonde wat op kos toesak, het slegte mense my toegepak. Van alle kante het hulle gekom om op my te trap. Ek kon net mooi niks teen hulle doen nie. Hulle het my hande en voete stukkend gesteek. Ek is net vel en been, so maer soos ’n kraai. As my vyande dit sien, voel hulle baie tevrede. Hulle het gemaak asof ek klaar dood is deur my laaste paar besittings te vat en onder mekaar uit te deel. U moet my tog nie alleen los nie, Here! U alleen gee my krag. Kom help my baie gou! Keer asseblief sodat ek nie doodgaan nie. Ek het net een lewe. Moenie dat daardie wrede klomp honde dit van my af wegvat nie. Red my uit die kloue van daardie leeus wat my wil opeet. Hulle is so gevaarlik soos ’n gewonde buffel. U het my uit my nood gered! In die kerk sal ek tussen u kinders daaroor praat. Voor die gemeente sal ek U loof en prys. Ek sal U voor almal prys. Julle wat aan Hom behoort, kom bring eer aan Hom! Kinders van die Here, kom wys dat julle vir Hom respek het! Kom prys Hom, want Hy draai nie sy rug vir hulle wat sy hulp nodig het nie. Hy help hulle as hulle smeek dat Hy iets aan hulle nood moet doen. Hy luister as hulle na Hom roep. Daar waar baie mense bymekaarkom, sal ek ’n loflied oor die Here sing. Almal moet dit hoor. Wat ek aan Hom belowe het, sal ek nakom. Ek sal dit doen voor almal wat Hom dien. Vir mense wat die Here dien, sal Hy baie goed wees. Hulle sal al die goeie dinge geniet wat Hy vir hulle gee. Mense wat sy hulp vra, sal Hom kom prys. Ek wens dat julle lewe van blydskap sal oorloop. Dan sal julle voluit leef en elke dag geniet, en lank lewe. Tot op die verste plek op aarde sal mense sien hoe goed die Here is. Hulle sal hulle lewe vir Hom gee. Mense wat Hom nie geken het nie, sal Hom dien. Oud en jonk sal na Hom toe kom. Hulle sal voor Hom buig. Die Here is die sterkste van almal. Hy heers oor al die volke hier op aarde. Selfs ryk mense wat dink dat hulle Hom nie nodig het nie, sal kom en die goeie dinge geniet wat Hy gee. Hulle sal kom om Hom te dien en te eer. Alle mense sal voor Hom kniel. Mense sal vir hulle kinders van die Here vertel. So sal die nageslagte van Hom weet. Hulle sal opgewonde wees om in Hom te glo.

PSALMS 22:12-31 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Moenie ver van my af bly nie, want ellende kom en daar is geen helper nie. Soos ’n trop bulle omsingel my vyande my; wilde beeste van Basan het my omring! Soos brullende leeus wat uitmekaar wil skeur, met oopgesperde bekke storm hulle op my af. My lewe is uitgestort soos water, al my bene val uitmekaar. My hart is soos was wat in my wegsmelt. My krag het opgedroog soos ’n potskerf. My tong kleef aan my verhemelte. U laat my vir dood in die stof lê. Soos ’n trop honde sirkel hulle om my; ’n kwaadwillige bende sak op my toe. My hande en voete is vasgemaak. Ek kan al my bene in my tel. Met leedvermaak gluur my vyande my aan. Hulle verdeel my klere onder mekaar en deur die lot te werp deel hulle my kledingstukke. HERE, bly nie ver van my af nie! U is my sterkte; help my tog gou! Red my van die swaard, red my kosbare lewe uit die mag van hierdie honde. Red my uit die bek van die leeu, van die horings van wilde beeste. U het my gebed verhoor! Aan my broers maak ek u Naam bekend. In die vergadering verkondig ek u lof. Prys die HERE, julle almal wat Hom dien! Verheerlik Hom, nakomelinge van Jakob! Betoon eerbied aan Hom, nageslag van Israel! Want die leed van hulle in nood ignoreer Hy nie; vir hulle maak Hy nie sy oë toe nie. Hy luister na hulle geroep om hulp. Van U af kom my lofsang in die groot vergadering; voor hulle wat U dien, sal ek my geloftes nakom. Dié in nood sal eet en versadig word. Almal wat die HERE dien, sal Hom loof. Mag hulle harte bly wees vir altyd. Die hele aarde sal die HERE erken en na Hom toe terugkeer. Mense uit elke nasie sal Hom weer dien. Want die koningskap behoort aan die HERE! Hy heers oor al die nasies. Laat die rykes van die wêreld feesvier en Hom aanbid. Laat al wat sterfling is, voor Hom buig; hulle wat sterflik is en bestem is vir die graf. Die nageslag sal Hom dien. Die komende geslagte sal van die Here hoor.