PSALMS 2:1-12
PSALMS 2:1-12 Die Boodskap (DB)
Waarom maak slegte mense in die geheim planne teen die Here? Waarom dink hulle allerhande dinge uit wat tog niks help nie? Wêreldleiers probeer belangrik lyk. Hulle probeer saamspan teen die Here en teen die koning wat Hy spesiaal gekies het. Hierdie mense beplan en sê: “Laat ons in opstand teen hulle kom en ons vrymaak van hulle.” Maar God, daar in die hemel, lag lekker vir hulle. Die Here skeer gek met hulle. Dit maak die Here kwaad en Hy bly nie stil nie. Sy woorde laat hulle bewe van skrik: “Ek self het hom as koning aangestel op die heilige berg in Jerusalem.” Laat ek julle vertel wat die Here vir my gesê het: “Jy is my seun. Van hierdie dag af is Ek jou Vader. Jy moet net vra, en Ek sal jou die heerser oor baie mense, ja, oor die hele wêreld maak. Jy sal hulle met ’n ysterhand regeer. Die een wat nie na jou luister nie, gaan teëspoed kry.” Gebruik nou julle verstand, leiers van hierdie wêreld; wees wakker. Ken julle plek en dien die Here met respek; maak sy Naam groot. Dien Hom nederig. Hou Hom tevrede en moenie Hom kwaad maak nie. As julle Hom kwaad maak, gaan julle swaarkry, glo my. Moet dit nie eens probeer nie. As jy aan die kant van die Here gaan staan, sal jy nie jammer wees nie.
PSALMS 2:1-12 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Hoekom gaan die nasies so tekere, en bedink die volke nuttelose planne? Die konings van die aarde het saamgesweer; die heersers span saam teen die HERE en sy gesalfde. Hulle sê: “Laat ons hulle kettings stukkend breek, onsself bevry van hulle slawebande.” Maar Hy wat vanuit die hemel heers, lag oor hulle. Die Here spot met hulle. In sy toorn praat Hy met hulle, en in sy woede verskrik Hy hulle: “Ek het hom op Sion, my heilige berg, as my koning aangestel.” Ek wil vertel van die HERE se besluit. Hy het vir my gesê: “Jy is my seun. Vandag het Ek jou Pa geword. Vra My, en Ek gee vir jou nasies as erfporsie, die einde van die aarde as jou besitting. Met ’n ysterstaf sal jy hulle stukkend slaan, soos ’n kleipot hulle verpletter.” Wees nou verstandig, o konings! Wees gewaarsku, regeerders van die aarde! Dien die HERE met eerbied en juig oor Hom met bewing. Onderwerp julle aan God sodat Hy nie toornig word en jy op die pad omkom nie. Want sy toorn ontvlam gou, maar daar is vreugde vir almal wat by Hom skuil.
PSALMS 2:1-12 Bybel vir almal (ABA)
Hoekom is die volke opstandig, hoekom raas hulle? Dit sal niks help nie. Die konings van die aarde, die mense wat regeer, het bymekaargekom en planne gemaak teen die Here en teen sy gesalfde. Hulle sê: “Ons wil vry word, ons wil hulle nie meer dien nie. Ons wil die toue stukkend breek waarmee hulle ons vasgemaak het.” Maar die Here wat in die hemel woon, lag vir hulle, Hy spot hulle. En dan word Hy kwaad, Hy praat en Hy laat hulle skrik. Hy sê: “Dit is Ék wat my koning gesalf het op Sion, my gewyde berg.” Ek, die koning, sal sê wat die Here gesê het. Die Here het vir my gesê: “Jy is my seun, Ek is van vandag af jou Vader. Jy mag vir My vra om al die volke op die aarde vir jou te gee, en Ek sal hulle vir jou gee, hulle sal almal aan jou behoort. Jy sal hard oor hulle regeer, soos 'n koning met 'n yster-septer. Jy sal met hulle doen wat jy wil, soos wanneer iemand 'n kleipot stukkend slaan.” Daarom, konings, julle almal wat op die aarde regeer, julle moet verstandig wees en leer. Julle moet die Here dien en Hom respekteer, julle moet Hom prys en bang wees vir Hom, julle moet buig voor sy seun, die koning. As julle dit nie doen nie, dan sal die Here kwaad word, en julle sal sterf, want Hy word gou kwaad.
PSALMS 2:1-12 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WAAROM woel die nasies en bedink die volke nietige dinge? Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp! Hy wat in die hemel woon, lag; die HERE spot met hulle. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik: Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg. Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting. U sal hulle verpletter met 'n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos 'n erdepot. Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde! Dien die HERE met vrees, en juig met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!
PSALMS 2:1-12 Afrikaans 1983 (AFR83)
Waarom is daar onrus onder die volke, waarom smee die nasies planne – en dit tevergeefs? Die konings van die aarde is in opstand, die leiers span saam teen die Here en teen sy gesalfde en sê: “Kom ons maak ons vry en gooi hulle juk af!” Hy wat in die hemel woon, lag hulle uit, die Here spot met hulle. Hy spreek hulle aan in sy toorn, in sy gramskap jaag Hy hulle op loop: “Dit is Ek wat hom as my koning gesalf het op Sion, my heilige berg.” Ek wil vertel wat die Here aangekondig het. Hy het vir my gesê: “Jy is my seun, van vandag af is Ek jou Vader. Vra My, en Ek gee volke vir jou as eiendom, die hele aarde as jou besitting. Jy sal hulle verpletter met jou ystersepter, hulle flenters slaan soos 'n kleipot.” Wees dan nou verstandig, konings, wees gewaarsku, regeerders van die aarde! Julle moet die Here met ontsag dien, Hom met vrees en bewing toejuig en Hom onderdanig wees, sodat Hy nie toornig word en julle op die pad omkom nie, want sy toorn ontvlam gou. Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek.
PSALMS 2:1-12 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Waarom is die volke rusteloos en maak die nasies nuttelose planne? Die konings van die aarde neem stelling in en die heersers span saam teen die HERE en sy gesalfde: “Kom ons breek hulle boeie stukkend, kom ons gooi hulle bande van ons af!” Hy wat in die hemel sit, lag; my Heer dryf die spot met hulle. Dan spreek Hy hulle in sy toorn aan, met sy woede verskrik Hy hulle: “Ek self het my koning gesalf op Sion, my •heilige berg.” Ek wil die vaste besluit bekend maak: Die HERE het vir my gesê: “Jy is my seun, vandag het Ek jou verwek. Vra dit van My en Ek sal volke gee as jou erfdeel, die uithoeke van die aarde as jou eiendom. Jy sal hulle verpletter met 'n ystersepter, soos erdewerk sal jy hulle stukkend slaan.” Daarom, konings, wees verstandig; wees gewaarsku, regters van die aarde. Dien die HERE met ontsag en juig Hom toe met bewing! Soen die seun, sodat Hy nie toornig word en julle op pad omkom nie, want sy toorn vlam maklik op. Gelukkig is almal wat by Hom skuil.
PSALMS 2:1-12 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Waarom woed die heidene, en verbeel die mense 'n ydele ding? Die konings van die aarde het hulle reggemaak, en die owerstes hou saam raad teen die HERE en teen sy gesalfde en sê: Laat ons hulle bande uitmekaar breek en hulle toue van ons weggooi. Hy wat in die hemel sit, sal lag; die HERE sal hulle bespot. Dan sal Hy met hulle spreek in sy toorn en hulle in sy groot misnoeë kwel. Tog het Ek my koning aangestel op my heilige berg Sion. Ek sal die besluit verkondig: die HERE het vir my gesê: U is my Seun; vandag het Ek jou gegenereer. Vra van My, en Ek sal jou die nasies gee as jou erfdeel en die eindes van die aarde as jou besitting. Jy moet hulle met 'n ysterstaf breek; jy moet hulle stukkend slaan soos 'n pottebakker se pot. Wees dan nou wys, o konings, word onderrig, o regters van die aarde. Dien die HERE met vrees, en wees bly met bewing. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die pad vergaan as sy toorn net 'n bietjie ontvlam nie. Geseënd is almal wat op Hom vertrou.