PSALMS 19:1-14

PSALMS 19:1-14 Bybel vir almal (ABA)

Vir die leier van die koor: 'n Psalm van Dawid. Die hemel sê God is koning, die hemeldak vertel wat Hy gedoen het. Die een dag sê dit vir die volgende dag, die een nag sê vir die volgende nag wat gebeur het. Niemand hoor dat die hemel praat nie, hy praat nie 'n taal en woorde nie. Maar oral weet die mense wat die hemel sê, mense van die hele wêreld verstaan hierdie taal. God het vir die son 'n plek gegee in die lug, en wanneer die son opkom en soos 'n soldaat vrolik op sy pad begin loop, dan is hy soos 'n bruidegom wat uit sy slaapkamer kom. Die son kom ver in die ooste op en gaan ver in die weste onder, en niemand kan wegkruip vir hom nie, hy laat almal warm kry. Wat die Here wil hê 'n mens moet doen, is beter as alles, dit laat 'n mens lewe. Wat die Here sê, kan 'n mens glo, dit gee wysheid vir jongmense. Wat die Here beveel, is reg, dit maak 'n mens bly. Wat die Here sê 'n mens moet doen, is regverdig, dit laat 'n mens weet hoe hy moet lewe. Die gebooie van die Here is reg, dit sal altyd waar wees. Wat die Here besluit, is soos dit moet wees, dit is altyd regverdig. Alles wat die Here sê, is beter as goud, beter as baie goud, dit is soeter as heuning, soeter as vars heuning. En ook, dit leer vir my wat ek moet weet, en wanneer ek doen wat die Here sê, dan gee Hy vir my baie goeie dinge. Niemand weet self wat hy alles verkeerd doen nie. Here, U moet my vergewe wanneer ek verkeerde dinge doen en nie weet dat dit verkeerd is nie. En U moet ook keer dat ek nie sonde doen wanneer ek weet dit is verkeerd nie, U moenie dat die sondes oor my regeer nie. Dan sal ek nie skuldig wees nie en nie teen U opstandig wees nie.

PSALMS 19:1-14 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Vir die •musiekleier. 'n Psalm. Van Dawid. Die hemelruim verkondig die eer van God en die hemelkoepel maak die werk van sy hande bekend. Dag ná dag bring dit 'n boodskap voort en nag ná nag deel dit kennis mee. Alhoewel daar geen spraak en geen woorde is nie en hulle stem nie hoorbaar is nie, gaan hulle boodskap uit oor die hele aarde en hulle woorde tot aan die einde van die wêreld. Vir die son het Hy 'n tent opgeslaan in die hemel. Die son is soos 'n bruidegom wat by sy slaapkamer uitgaan – vol vreugde, soos 'n held wat op die pad hardloop. Aan die een kant van die hemel gaan hy op en aan die ander kant gaan hy onder, en niks ontkom aan sy hitte nie. Die wet van die HERE is volmaak, dit gee nuwe lewenskrag; die bepalings van die HERE is betroubaar, dit gee wysheid aan die onkundiges. Die opdragte van die HERE is reg, dit maak die hart bly; die gebod van die HERE is suiwer, dit verhelder die oë. Ontsag vir die HERE is rein, dit hou vir altyd stand; die beslissings van die HERE is waar, dit is almal regverdig. Dit is begeerliker as goud, begeerliker as 'n oormaat fyngoud; dit is soeter as heuning, as 'n heuningkoek wat drup. Boonop, u dienskneg word daardeur gewaarsku; wanneer 'n mens daarby hou, is die beloning groot. Wie het insig in sy onbewuste dwalings? Spreek my vry van verborge sondes! Weerhou u dienskneg ook van vermetelheid. Laat dit nie oor my heers nie; dan sal ek onskuldig wees en vry van ernstige oortredings.

PSALMS 19:1-14 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die hemele vertel die eer van God; en die uitspansel toon sy handewerk. Dag tot dag spreek spraak, en nag tot nag spreek kennis uit. Daar is geen spraak of taal, waar hulle stem nie gehoor word nie. Hulle lyn gaan uit oor die hele aarde, en hulle woorde tot aan die voleinding van die wêreld. Daarin het Hy 'n tabernakel vir die son opgerig, wat is soos 'n bruidegom wat uit sy kamer uitkom en bly is soos 'n sterk man om 'n wedloop te hardloop. Sy uitgang is van die einde van die hemel en sy kring tot by die eindes daarvan, en niks is verborge vir die hitte daarvan nie. Die wet van die HERE is volmaak, dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit maak die eenvoudiges wys. Die insettinge van die HERE is reg, dit verbly die hart; die gebod van die HERE is rein, dit verlig die oë. Die vrees van die HERE is rein, dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is tesame waaragtig en regverdig. Meer begeerlik is hulle as goud, ja, as baie fyn goud; ook soeter as heuning en heuningkoek. Verder word U dienaar deur hulle gewaarsku, en om hulle te bewaar, is daar groot loon. Wie kan sy foute verstaan? Reinig my van verborge foute. Bewaar ook u kneg van vermetele sondes; laat hulle nie oor my heers nie; dan sal ek opreg wees en onskuldig wees van die groot oortreding. Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor U oë, o HERE, my sterkte en my verlosser.

PSALMS 19:1-14

PSALMS 19:1-14 AFR83PSALMS 19:1-14 AFR83PSALMS 19:1-14 AFR83