PSALMS 149:6-9
PSALMS 149:6-9 Bybel vir almal (ABA)
Hulle moet aanhou om God te prys, maar hulle moet skerp swaarde in hulle hande hê sodat hulle die volke kan straf, sodat hulle met die volke kan doen wat die volke met húlle gedoen het. Hulle moet die konings vasmaak met kettings, hulle moet die belangrike mense van die volke vasmaak met yster-boeie. Hulle moet met die konings doen wat die Regter besluit het en geskryf het. Die volke sal die mense respekteer wat in die Here glo.
PSALMS 149:6-9 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Lofverheffinge van God is in hulle keel, en 'n tweesnydende swaard in hulle hand; om wraak te oefen onder die heidene, strafgerigte onder die volke; om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie; om 'n vonnis wat opgeskrywe is, aan hulle te voltrek. 'n Eer is dit vir al sy gunsgenote! Halleluja!
PSALMS 149:6-9 Afrikaans 1983 (AFR83)
Die roem van God klink uit hulle mond, en in hulle hand is die swaard, alkante geslyp, waarmee hulle die nasies sal verslaan en die volke sal straf. Hulle sal die konings van daardie nasies met kettings vasbind, hulle aansienlikes met ysterboeie, en die vonnis aan hulle voltrek soos dit vasgestel is. Dit sal die triomf wees van al die troue dienaars van God.
PSALMS 149:6-9 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
met verheerliking van God uit hulle kele, en tweesnydende swaarde in hulle hande, om vergelding te voltrek onder die nasies, straf onder die volke, om hulle konings in kettings te slaan en hulle geëerdes in ysterboeie, om die vonnis wat opgeteken is, oor hulle te voltrek. Dit sal luister verleen aan al sy getroue volgelinge.
PSALMS 149:6-9 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Laat die lof van God in hulle mond wees en 'n tweesnydende swaard in hulle hand; om wraak te oefen op die heidene en straf op die volke; om hulle konings met kettings te bind en hulle edeles met ysterboeie; om aan hulle die oordeel te voltrek wat geskrywe is: hierdie eer het al sy heiliges. Prys die HERE.
PSALMS 149:6-9 Die Boodskap (DB)
God se kinders sê vir die Here dankie. As mense die Here nie dien nie, sal hulle met sy kinders te doen kry. Hulle is reg om mense te straf wat God nie eer nie. Sy kinders sal die goddelose leiers in die tronk stop, omdat hulle hulle nie aan God steur nie. Hulle dink hulle is te belangrik daarvoor. Almal wat die Here dien, wil graag ontslae raak van mense wat nie na die Here luister nie. En hulle sal dit regkry. Kom prys die Here!
PSALMS 149:6-9 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Mag hulle God loof met hulle lippe, met ’n tweesnydende swaard in hulle hande om wraak uit te oefen op die nasies en straf oor die volke, om hulle konings vas te maak met boeie en hulle leiers met ysterkettings, om die oordeel te voltrek wat reeds vasgestel is. Dit is die roem van sy troue dienaars. Prys die HERE!