PSALMS 147:2-6
PSALMS 147:2-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE herbou Jerusalem, die verstrooides van Israel maak Hy bymekaar. Dit is Hy wat dié met gebroke harte genees, wat hulle wonde verbind; wat die getal van die sterre bepaal, aan hulle almal name gee. Ons Heer is groot en geweldig sterk; aan sy insig is daar geen grens nie. Die HERE help die verdruktes op; goddeloses verneder Hy tot in die grond.
PSALMS 147:2-6 Bybel vir almal (ABA)
Dit is die Here wat Jerusalem weer bou, dit is Hy wat die mense bymekaarbring wat gevangenes is in ander lande. Dit is Hy wat mense gesond maak, mense wat baie moedeloos is, dit is Hy wat hulle seerplekke toedraai. Dit is Hy wat besluit hoeveel sterre daar moet wees, en Hy ken elke ster se naam. Ons Here is groot en baie sterk, 'n mens kan nie sy wysheid meet nie. Dit is die Here wat mense optel, die mense wat hulleself nie kan help nie, dit is Hy wat mense op die grond gooi, die mense wat verkeerd lewe.
PSALMS 147:2-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Die HERE bou Jerusalem op; Hy versamel van Israel die wat verdryf is. Hy genees die wat gebroke is van hart, en Hy verbind hulle wonde. Hy bepaal die getal van die sterre; Hy gee hulle almal name. Onse Here is groot en ryk aan krag; sy verstand is oneindig. Die HERE rig die ootmoediges weer op; die goddelose mense verneder Hy tot die grond toe.
PSALMS 147:2-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
Dit is die Here wat Jerusalem weer opbou, wat die verstrooides van Israel bymekaarbring. Hy genees die gebrokenes van hart en verbind hulle wonde. Hy besluit oor die getal van die sterre en gee elkeen 'n naam. Ons Here is groot en magtig, sy kennis is onbegrens. Die Here laat die hulpeloses weer opstaan, maar die goddeloses verneder Hy tot in die grond.
PSALMS 147:2-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Die HERE herbou Jerusalem, die verstrooides van Israel maak Hy bymekaar. Dit is Hy wat dié met gebroke harte genees, wat hulle wonde verbind; wat die getal van die sterre bepaal, aan hulle almal name gee. Ons Heer is groot en geweldig sterk; aan sy insig is daar geen grens nie. Die HERE help die verdruktes op; goddeloses verneder Hy tot in die grond.
PSALMS 147:2-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Die HERE bou Jerusalem op, Hy versamel die verdryftes van Israel. Hy genees die wat gebroke is van hart en verbind hulle wonde. Hy vertel die getal van die sterre; hy noem hulle almal op hulle name. Groot is onse HERE en van groot krag: sy verstand is oneindig. Die HERE verhef die sagmoediges, Hy werp die goddelose op die grond neer.
PSALMS 147:2-6 Die Boodskap (DB)
Wat mense afgebreek het, bou die Here weer op. In die geskiedenis het dit met Jerusalem gebeur. Van sy kinders wat in die verlede moes vlug, het Hy weer bymekaargebring. Hy troos elkeen wat hartseer is. Die seerplekke wat die lewe gee, maak Hy weer gesond. Dit is Hy wat besluit hoeveel sterre daar is. Hy regeer oor elkeen van hulle. Daarom ken Hy hulle almal. Ons Here is groot en baie sterk. Daar is niks wat Hy nie weet nie. Die Here help die mense wat hulp nodig het. Maar mense wat hulle nie aan Hom steur nie, moet weet dat daar groot probleme op hulle wag.
PSALMS 147:2-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Die HERE herbou Jerusalem en versamel bannelinge van Israel. Hy genees die gebroke hart, en verbind hulle wonde. Hy tel die sterre en noem hulle almal by die naam. Groot en magtig is ons Here. Sy kennis ken geen grense nie. Die HERE ondersteun onderdruktes, maar goddeloses gooi Hy neer op die grond.