PSALMS 142:3-6
PSALMS 142:3-6 Bybel vir almal (ABA)
Ek wil by die Here kla, ek wil vir Hom vertel hoe sleg dit met my gaan. Wanneer ek moedeloos word, dan is dit U wat weet wat met my gebeur. My vyande het vir my 'n vangnet styfgetrek op die pad waar ek loop. Wanneer ek langs my kyk, dan is daar niemand wat van my weet nie. Daar is nie 'n plek waarnatoe ek kan vlug nie, niemand is bekommerd oor my nie. Here, ek bid tot U, help my asseblief, dit is U wat my moet beskerm, ek het net vir U in hierdie lewe.
PSALMS 142:3-6 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Ek stort my klagte uit voor sy aangesig; ek maak voor sy aangesig my nood bekend. As my gees in my versmag, dan ken Ú my pad. Op die pad wat ek moet gaan, het hulle 'n vangnet vir my gespan. Ek sien uit na regs en kyk, maar daar is niemand wat my ken nie; die toevlug is vir my verlore; niemand vra na my nie. Ek roep U aan, o HERE! Ek sê: U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes.
PSALMS 142:3-6 Afrikaans 1983 (AFR83)
ek stort my klag voor Hom uit en vertel Hom van my nood. Ek het alle moed verloor, U weet wat ek moes deurmaak. Op die pad waar ek loop, het hulle vir my 'n strik gestel. Ek soek hulp, maar niemand wil help nie, daar is vir my geen vlugkans nie en niemand gee vir my om nie. Ek roep na U om hulp, Here, ek sê: “U is my toevlug, buiten U het ek geen deel in die land van die lewendes nie!
PSALMS 142:3-6 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Ek stort voor Hom my klag uit; voor Hom maak ek my nood bekend. Wanneer my gees in my begin weifel, is dit U wat my pad ken. Op die pad wat ek moet loop, het hulle in die geheim 'n vangnet vir my gespan. As ek regs kyk, sien ek niemand is my goedgesind nie. 'n Skuilplek is vir my verlore; niemand is begaan oor my lewe nie. Ek roep na U om hulp, HERE. Ek sê: “U is my skuilplek, my deel in die land van die lewendes.
PSALMS 142:3-6 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Toe my gees in my oorweldig was, toe het U my pad geken. Op die pad waarop ek geloop het, het hulle vir my in die geheim 'n strik gelê. Ek het na my regterhand gekyk en gesien, maar daar was niemand wat my sou ken nie; geen man het vir my siel omgegee nie. Ek het U aangeroep, HERE: Ek het gesê: U is my toevlug en my deel in die land van die lewendes. Gee ag op my geroep; want ek is baie verneder; verlos my van my vervolgers; want hulle is sterker as ek.
PSALMS 142:3-6 Die Boodskap (DB)
Ek sê vir Hom wat my probleme is. As ek moed opgee, sal U weet wat vir my die beste is. Mense wil my laat struikel en val. Mense het die lewe vir my moeilik probeer maak. Hulle wou hê ek moes misluk. Hulle help my nie. Niemand gee vir my om nie. As ek mense vra om my te help, maak hulle of hulle my nie ken nie. Niemand wil my help nie. Hulle vra nie eens hoe dit met my gaan nie. Ek bid tot U, Here. U is die enigste Een wat my beskerm. U is al wat ek in hierdie lewe het.
PSALMS 142:3-6 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Ek stort my klagtes uit voor Hom en vertel Hom van my kwellinge. Wanneer ek moed verloor, dan ken U my pad. Op die pad waarop ek loop, het hulle vir my ’n strik gestel. Ek kyk na regs, maar niemand sien my raak nie. Daar is vir my geen ontvlugting nie, en niemand gee om vir my nie. Ek het tot U gebid, HERE. Ek het gesê: “U is my toevlug, my deel in die land van die lewendes.