PSALMS 141:1-10
PSALMS 141:1-10 Bybel vir almal (ABA)
'n Psalm. Van Dawid. Here, ek roep en ek vra dat U gou moet kom. U moet luister, ek roep en ek vra dat U my moet help. Ek bid tot U, my gebed moet vir U wees soos 'n wierook-offer wat ek bring. Ek steek my hande uit na U, dit moet vir U wees soos 'n aand-offer. Here, U moet 'n wag voor my mond sit, U moet keer dat ek niks verkeerd sê nie. U moet keer dat ek nie slegte dinge wil doen nie, dat ek nie dinge wil doen wat verkeerd is saam met die mense wat slegte dinge doen nie, dat ek nie die dinge wat vir hulle lekker is, saam met hulle geniet nie. 'n Mens wat reg lewe en wat my vriend is, mag my slaan en mag met my raas. Dit sal vir my wees soos iemand wat olyf-olie op my kop gooi. Maar ek sal aanhou om te bid dat die Here mense sal straf wat slegte dinge doen. Wanneer die Here die leiers van die slegte mense van 'n rots laat afval, dan sal ek sê dit is goed. Die leiers sal moet sê: “Ons bene lê oral by die bek van die doderyk, dit lyk soos wanneer iemand geploeg het en die grond stukkend gebreek het.” Here, ek weet dat U my altyd sal help. Ek vra dat U my moet beskerm, U moenie dat ek sterf nie. Mense wat slegte dinge doen, wil my in vangnette en vangstrikke vang. U moet keer dat ek nie daarin val nie. U moet hierdie mense wat verkeerd doen, in hulle eie vangnette laat val, maar die nette moenie vir my vang nie.
PSALMS 141:1-10 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
'N PSALM van Dawid. HERE, ek roep U aan; kom tog gou na my toe; luister na my stem as ek U aanroep. Laat my gebed soos reukwerk voor u aangesig staan, die opheffing van my hande soos die aandoffer. HERE, stel 'n wag voor my mond, bewaar die deur van my lippe. Neig my hart nie tot iets wat sleg is, om in goddeloosheid dinge te doen saam met manne wat ongeregtigheid werk nie; en laat my van hulle lekkernye nie eet nie. Laat die regverdige my met liefde slaan en my tugtig — hoofsalf sal my hoof nie weier nie; want nog is my gebed teen hulle booshede. As hulle regters aan die kant van die rots afgegooi word, dan sal hulle hoor dat my woorde lieflik is. Soos 'n mens in die aarde vore en skeure trek, is ons beendere gestrooi by die mond van die doderyk. Want op U is my oë, HERE Here; by U skuil ek: giet my siel nie uit nie! Bewaar my vir die mag van die vangnet van die wat vir my strikke stel, en vir die strikke van die werkers van ongeregtigheid. Laat die goddelose in hulle vangkuile val, almal saam, terwyl ék verbygaan!
PSALMS 141:1-10 Afrikaans 1983 (AFR83)
'n Psalm van Dawid. Ek roep na U, Here, kom tog gou na my toe, luister tog na my, ek roep na U. Mag my gebed voor U wees soos 'n wierookoffer, die uitstrek van my hande soos 'n graanoffer in die aand. Sit 'n wag voor my mond, Here, hou tog wag oor wat ek sê. Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval saam met manne wat onreg doen nie, en dat ek nie deelneem aan hulle feeste nie. 'n Regverdige kan my in liefde slaan en teregwys, maar van die goddeloses sal ek nie eens gasvryheid aanvaar nie, want my gebede is gedurig teen hulle boosheid gerig. As hulle leiers van 'n krans afgegooi word, sal hulle my hoor sê: “Goed so!” Soos 'n land vol kluite lê as die ploeër dit oopbreek, so sal hulle bene versprei lê by die bek van die doderyk. Op U, Here my God aan wie ek behoort, is my oë gerig, by U skuil ek, moenie dat my lewe wegkwyn nie. Beskerm my teen die strik wat hulle vir my gestel het, teen die valstrikke van dié wat onreg doen. Laat die goddeloses gevang word in hulle eie nette, maar laat my ongedeerd verbykom.
PSALMS 141:1-10 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
'n Psalm. Van Dawid. HERE, ek roep U aan; kom gou na my toe! Luister na my stem wanneer ek na U roep. Mag my gebed standhoudend voor U wees soos reukwerk, die ophef van my hande soos die aandoffer. HERE, plaas 'n wag voor my mond, bewaak die deur van my lippe. Moet my hart nie laat neig na iets wat sleg is nie, sodat ek nie deur 'n misstap roekeloos optree saam met manne wat onreg pleeg nie; laat ek tog nie aan hulle lekkernye proe nie. 'n Regverdige kan my maar slaan – dit is uit troue liefde; hy kan my maar teregwys – dit is olie vir die kop. My kop sal dit nie weier nie. Maar my gebed sal steeds gerig wees teen daardie mense se bose dade. Al sou hulle regeerders oor die rand van 'n krans afgegooi word, sou hulle steeds hoor dat my woorde aangenaam is. Soos wanneer iemand grond omploeg en vore daarin maak, lê ons beendere uitgestrooi by die ingang van die •doderyk. Maar op U, HERE, my Heer, bly my oë gerig; by U skuil ek. Moenie my lewe uitgiet nie. Beskerm my teen die greep van die vangnet wat hulle vir my gespan het, teen die valstrikke van hulle wat onreg pleeg. Laat goddeloses in hulle eie vangnette val, terwyl ek alleen daar verbygaan.
PSALMS 141:1-10 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
HERE, ek roep U aan; maak gou na my; luister na my stem as ek na U roep. Laat my gebed as reukwerk voor u aangesig word; en die opheffing van my hande soos die aandoffer. Sit 'n wag, o HERE, voor my mond; hou die deur van my lippe. Neig my hart nie tot enige kwaad, om goddelose werke te doen met mense wat ongeregtigheid doen nie; en laat my nie eet van hulle lekkernye nie. Laat die regverdiges my slaan; dit sal 'n guns wees, en laat hy my teregwys; dit sal 'n voortreflike olie wees wat my hoof nie sal breek nie; Wanneer hulle regters op klipperige plekke omvergewerp word, sal hulle na my woorde luister; want hulle is soet. Ons gebeente is verstrooi by die mond van die graf, soos wanneer 'n mens hout op die aarde kap en kloof. Maar my oë is op U, o HERE HERE; op U is my vertroue; laat my siel nie behoeftig nie. Bewaar my van die strikke wat hulle vir my gelê het, en die tinne van die werkers van ongeregtigheid. Laat die goddeloses in hulle eie nette val, terwyl ek tog ontvlug.
PSALMS 141:1-10 Die Boodskap (DB)
Here, ek bid tot U. Help my asseblief gou. Luister na my. Help my as ek tot U bid. Ek hoop dat dit vir U aangenaam is om my gebed te hoor. My gebed is soos ’n rustige lied om vir U dankie te sê. Here, help my om nie onnodig te praat nie. Leer my om versigtig te wees met wat ek sê. Keer my dat ek nie lus kry om slegte dinge te doen saam met mense wat U nie dien nie. Hulle stel net in hulleself belang. Hulle doen verkeerde dinge. Help my om nie saam met hulle slegte dinge te doen nie. Ek gee nie om as iemand wat die Here liefhet met my oor my verkeerde dade praat nie. Al maak dit my baie seer, weet ek dat hy dit uit liefde doen. Daarom sal ek luister as hy my waarsku of raad gee. Ek bid egter dat mense wat die Here nie dien nie, sal ophou met al die slegte goed wat hulle doen. Ek kuier nie eens by sulke mense nie. Daarom is ek baie bly om te hoor dat hulle mag gebreek is. Hulle bene sal oral rondlê soos grond wat omgeploeg is. Here, ek het U baie nodig. U beskerm my. Moet asseblief nie dat dinge vir my skeefloop sodat dit vir my voel of die laaste bietjie lewe uit my getap word nie. Beskerm my teen slegte mense wat my tot ’n val wil bring. Mense wat slegte dinge doen, probeer my op ’n skelm manier om die bos lei. Laat hulle wat U nie dien nie, in hulle eie slaggate trap. Laat hulle deur hulle eie geknoei ten gronde gaan. Maar ek, ek sal verder gelukkig lewe.
PSALMS 141:1-10 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
HERE, ek roep tot U; maak tog gou! Luister na my wanneer ek na U roep! Aanvaar my gebed soos wierook voor U, en my uitgestrekte hande soos ’n offer in die aand. Sit ’n wag voor my mond, HERE, hou wag oor wat ek sê. Bewaar my van verkeerde begeertes wat lei na bose dade, saam met mense wat sonde doen en so saam eet aan hulle lekkernye. Regverdiges kan my slaan in liefde, en my ook teregwys. Dis soos salwing van die kop met olie, wat ek nie sal weier nie. My gebede is gedurig teen boosdoeners gerig. As hulle leiers afgegooi word van ’n krans, dán sal hulle my woorde hoor en weet dit was goed. Soos wanneer een wat ploeg die aarde oopbreek, so verspreid lê ons beendere by die bek van die doderyk. Maar my oë is op U gerig, oppermagtige HERE. U is my toevlug; moenie my oorgee aan die dood nie. Bewaar my van die strikke wat hulle vir my gestel het, van die vangnet van hulle wat onreg doen. Laat die goddeloses in hulle eie vangnette val, maar laat my vrykom daarvan.