PSALMS 116:1-19

PSALMS 116:1-19 Bybel vir almal (ABA)

Ek is lief vir die Here, want Hy luister wanneer ek tot Hom bid, wanneer ek vra dat Hy my moet help. Want Hy luister wanneer ek bid, daarom sal ek tot Hom bid so lank soos ek lewe. Bande van die dood was rondom my, ek was bang om na die doderyk te gaan, dit het sleg gegaan met my, ek het baie swaar gekry. Toe het ek tot die Here gebid en geroep: “Here, asseblief, red my lewe!” Die Here is genadig, Hy doen reg, ons God is goed vir mense wat swaarkry. Hy beskerm jongmense wat baie min weet, Hy het my gered toe ek moedeloos was. Ek moet nou ophou om bekommerd te wees, want die Here het goeie dinge gedoen aan my. Ja, U het gekeer sodat ek nie sterf nie, U het my gehelp, en ek het opgehou huil, U het gekeer sodat ek nie val nie. Nou lewe ek naby die Here tussen mense wat lewe. Ek het aangehou om te glo dat die Here my sal help, ook toe ek gedink het dat dit baie sleg gaan met my. Ek was baie bang, en ek het gedink daar is niemand wat ek kan vertrou nie. Die Here het baie goeie dinge vir my gedoen. Wat kan ek vir Hom doen? Ek sal 'n drank-offer bring en ek sal roep en sê: “Here!” Ek sal my geloftes aan die Here betaal waar die hele volk dit sien. Die lewens van die mense wat in die Here glo, is vir Hom kosbaar. Here, ek bid tot U, want ek behoort aan U, my ma het aan U behoort, en ek behoort aan U. U het die bande losgemaak wat my vasgehou het. Ek sal vir U 'n dank-offer bring, ek sal roep en sê: “Here!” Ek sal my geloftes aan die Here betaal waar sy volk dit kan sien, ek sal al die geloftes betaal. Ek sal dit doen op die oop stuk grond by die tempel, binne-in jou, Jerusalem.

PSALMS 116:1-19 Die Boodskap (DB)

Ek het die Here baie lief. Hy help my as ek Hom baie mooi vra. Hy het mooi na my geluister. Daarom sal ek tot Hom bid so lank as wat ek lewe. Ek het so amper doodgegaan. Ek het al paniekerig daaroor begin word. Ek was doodsbenoud en bekommerd. Maar toe het ek ernstig tot die Here gebid. Ek het by Hom gepleit: “Ag, Here, spaar tog my lewe.” Die Here was baie goed vir my. Hy sorg dat reg aan my gedoen word. Ons God het my soos ’n ma in sy liefde toegevou. Die Here beskerm mense wat aan die einde van hulle kragte gekom het. Ek was in so ’n situasie. Toe ek op my swakste was, het Hy my gehelp. Ek het toe vir myself gesê: “Jy kan ontspan. Wees rustig. Die Here was baie goed vir jou.” Ja, U het my lewe gespaar. U het my getroos. U het gekeer dat ek ondergaan. Daarom sal ek saam met die Here lewe tussen almal wat nog leef. Ek het die Here vertrou toe ek gedink het ek kry baie swaar. Ek het gedink dis klaar met my. Toe ek bang was, het ek gesê: “Jy kan geen mens vertrou nie.” Hoe kan ek die Here ooit vergoed vir al die goeie dinge wat Hy vir my gedoen het? Maar ek sal vir Hom iets terugdoen: ek sal vir Hom dankie sê. Ek sal na Hom toe gaan. Ek het beloftes aan die Here gemaak. Ek sal dit hou sodat al sy kinders dit kan sien. Sy kinders is vir Hom baie werd. Daarom laat Hy nie maklik toe dat een van hulle doodgaan nie. Ek het gesê: “Regtig, Here, ek dien U. Ook my ouers het U gedien. U het my lewe gespaar. Ek sal vir U iets doen om dankie te sê: ek sal U eer en aanbid.” My beloftes aan die Here sal ek nakom waar al sy kinders dit kan sien. Binne en buite die kerk sal ek dit nakom. Kom prys die Here!

PSALMS 116:1-19

PSALMS 116:1-19 AFR83